|
Neem
net foto's en los net voetspore," lui
die ou-ou kennisgewing wat jy amper oral
by al die mooi plekke in Suid-Afrika kry.
Die ander "voetspore" wat deesdae
sy kop uitgesteek het... of sal ek liewer
sê sy merk gemaak het, is die koolstofvoetspoor.
Almal van ons dra by. Elke keer as jy 'n
lig, verwarmer of jou kar aanskakel, loop
die spore. En hoe meer dit raak, hoe minder
is ons kans op oorlewing. Koolstofgas word
vrygestel en dis die groot sondebok wanneer
dit by aardverwarming kom.
Maar ek wil nie oor dié voetspore
praat nie. As jy nou na bladsy 80 blaai,
sal jy sien dat Johan Bakkes klaar is met
die sneeuspore van Siberië en China
en nou begin voetspore trap deur al die
geskiedkundige watergate in ons land in
sy nuwe reeks, Kroegkruip.
Eintlik wil ek ook nie oor sy voetspore
praat nie. Ek wil oor ons almal se plaaslike
voetspore praat. Ja, plaaslike toerisme.
Vandat Suid-Afrika deel van die wêreld
geword het, het al wat 'n Europeër,
Kiwi, Australiër en Amerikaner is hier
kom voetspore los.
Ons almal hier rond het brom-brom ons voete
onder die tafel ingedruk en nie 'n tree
versit nie. Want ons kon nie betaal vir
al die skielike luukse nie.
Dis lankal nie meer so nie. Ja, daar is
dalk nog 'n paar plekke wat te dik vir 'n
daalder is, maar die meeste reisplekke weet
aan watter kant hul brood gebotter is. Ek
bedoel, weet jy hoe lekker kuier jy in Tonteldoos
vir 'n tiekie? As jy nie weet waar Tonteldoos
is nie, blaai na bladsy 76. En Paternoster
op bladsy 44 is nou ook nie juis in die
prysklas van die Franse Riviera nie (maar
die kreef is lekkerder, groter en rooier).
Of as jy in die Karoo is, gaan trap op Johan
se diep spore in die Barrydale Karoo-hotel.
En as jy nou regtig voel jy kan nêrens
heen bekostig nie, klim in die bed met jou
Mooiloop en gaan op reis. Deur die
Kalahari, Mosselbaai, Windhoek of regdeur
vier Afrika-lande op Toyota se 4x4 Conservation
Outreach.
Trap 'n lekker spoor en loop mooi.
Groetnis |