|
November
2008
WEN 1
van 5 van Richard van der Westhuizen se
CD, Songs uit my binnesak. [kliek
hier]
Laat die wind jou wakker maak - Richard
van der Westhuizen
Long may you run
Although these changes have come
With your chrome heart shining in the
sun
Long may you run
Ek
het hierdie woorde van Neil Young die eerste
keer in die 1970's oor die radio gehoor.
Die lied is reguit in my kop, en later in
my hart in, waar hy nog steeds baie lekker
lê. Party van ons sal altyd op pad
wees, op reis, al is dit ook net deur 'n
droom.
Ek is my lewe lank lief vir reis. As kind
het ek nagte by my ma se voete gelê
voor in ons Ford-bakkie oor die grond-paaie
tussen Springbok en Pofadder, Groblershoop
en Prieska. Daai bakkie het my na magiese
plekke gevat, soos Kinderlê, die ruïnes
van die hotel op Draghoender, en die diep
Richtersveld, elkeen nog klokhelder met
sy eie eggo in my geheue. Van die eggo's
het al liedjies geword, die ander word nog
ryp.
Ek was so 13 toe my pa my gaan aflaai by
Bitterfontein waar ek die trein moes vat
Kaap toe. Vir die volgende vier jaar het
ek gereeld verby plekke soos Paddagat, 'n
sinkdak met twee melkkanne, Troe-Troe, Klawer
en Kaapstad gery. Dit was 'n stoomtrein,
en as jy te lank by die venster uitkyk,
was jou oë vol roet. Die Kaap was groot
en vreesaanjaend. Almal het Engels gepraat,
my pa en ma was ver weg en verantwoordelikheid
het soos 'n berg op my skouers kom lê.
Dit was die einde van my onskuldjare.
Later jare is ek Pretoria toe, vir weermag
en universiteit, meesal met die Trans-Karoo
vanaf Kaapstad. In dié jare het ek
kennis gemaak met Steve Goodman se onvergeetlike
treinlied City of New Orleans:
And the sons of Pullman porters
And the sons of engineers
Ride their fathers' magic carpet made
of steel
Mothers with their babes asleep,
Are rockin' to the gentle beat
And the rhythm of the rails is all they
feel
Ek onthou meat pies in De Aar se
stasiekafee, skape langs die spoor by Laingsburg,
en die alewige vrees dat die trein vir jou
gaan wegry terwyl jy 'n Coke koop. Soveel
herinneringe: my mense wat vir my waai op
die perron, en my girlfriend met
die trane in haar oë, al was dit ook
die laaste sien van haar. Maar die spore
het algaande begin doodloop.
'n Honderd haltes langs die spoor
elke stasie het sy eie skim
Ja, daar was voorheen 'n tyd van treine
waar en wanneer het ons dit verloor?
Tussen Treine was my poging om iets
van daardie magiese tyd vas te vang, die
romantiek en die elegansie van die ou stasies
en die stoomenjins, maar ook iets van die
opwindende en onseker reis die onbekende
in, die reis van kind tot grootmens.
In 1979 was ek op 'n toneeltoer deur die
destydse Suidwes-Afrika. Ek hou van woestyne.
By die oase van Goani Kontes en die kokerboomwoud
van Keetmans-hoop het ons onder die sterre
geslaap. In Rundu het ons een nag op 'n
rivieroewer gesit en kyk na die oorlog in
Angola, en by Ai-Ais het ons diepnag kaal
geswem.
Daar is mense wat hul lensiesop sal verruil
vir 'n sonsondergang in Namibië. Ek
is een van hulle.
'n Mens hoop maar net om iets vas te vang
van die wonder wat die plekke met jou deel.
Hier is 'n deel van dorsland, wat
ek saam met André Swiegers geskryf
het:
Hoor jy die eggo's, dis die tyd van
die dier
Hoor jy as die ysterklippe teen mekaar
skuur?
Ons bly nomades in 'n niemandsland
verdwaal aan die wêreld se verkeerde
kant.
As ek in 'n bakkie met 'n tent vir die
res van my lewe kon reis, dan sou ek dit
doen deur plekke soos Riemvasmaak en Concordia,
met 'n geliefde en 'n kitaar by my. Hier
is my Swerfliedjie:
Nou's daar net die sterre, die stilte
en die donker nag
jy wat in my arms lê, hiënas
wat daar buite blaf
Môre maak die wind ons wakker
hy fluister soos 'n ou bandiet
dan word ons kettings waaisand
en soos kanfer oor 'n ou verdriet.
Aan al my medeswerwers, in watter wentelbaan
julle jul ook al bevind:
Long may you run
Although these changes have come
With your chrome heart shining in the
sun
Long may you run
|