November 2008
Is jy bekommerd oor die omgewing en wil
daadwerklik iets doen om die skade wat reeds
aangerig is, om te draai? Wel, ons maak
dit vir jou maklik. Mooiloop bied
elke maand aan lesers omgewingswenke. Stuur
jou groen wenke en meegaande foto's van
per e-pos aan bosstories@rsp.co.za.
Groen
roete integreer mens en natuur
Die eerste biodiversiteitsroete ter wêreld
lê in die hart van die Kaapse Blommeryk.
Die Green Mountain-ekoroete (GMER) is die
produk van sy bewaringsbewuste lede wat
fokus op die bevordering van respek vir
die natuur, maar terselfdertyd kommersiële
en maatskaplike doelwitte erken.
Die doel van die roete is om die natuurlike
omgewing te bewaar, maar ook om volhoubare
ontwikkeling van plaaslike gemeenskappe
en ondernemings aan te moedig. Die sirkelroete
is sowat 75 kilometer lank en strek om die
Groenlandbergreeks deur die grondgebied
om Botrivier, Elgin, Grabouw, Houwhoek,
Villiersdorp en Vyeboom.
Biodiversiteit se tradisionele definisie
is die verskeidenheid van lewe in 'n gebied,
wat die verskillende spesies en hul genetiese
welstand, die verhouding tussen die spesies
en die natuurlike areas waarbinne hulle
voorkom insluit. Biodiversiteit is egter
nie beperk tot die natuur nie; dit sluit
in 'n menslike komponent rakende ons bydrae
en interaksie met die kosmos.
Hierdie ekoroete is die "geleier"
waardeur biodiversiteit en toerisme seepglad
tot almal se voordeel geïntegreer word.
Die bewarea het maatreëls vir die bewaring
van inheemse fauna en flora, veral fynbos,
ingestel, uitheemse plante suksesvol uitgeroei
en streng brandbestrydingsmaatreëls
word toegepas.
Die belangrikste stap was om die regering
te oorreed om die wetgewing ten opsigte
van natuurbewaring te verander en ondersteun.
Die Groenlandberg-bewarea is deel van die
Kogelberg-biosfeer wat binne die Kaapse
Blommeryk, die kleinste dog rykste blommeryk
ter wêreld, lê. Dit is ook Suid-Afrika
se jongste wêrelderfenisterrein.
Biosfere is "nuwe" konsepte waarin
daar geen grensheinings tussen mens en natuur
is nie. Die Kogelberg-biosfeer spog met
1 880 plantspesies, waarvan na raming 150
endemies is.
Maatskaplike opheffing
Vele werkgeleenthede word geskep sodra toerisme
in 'n gebied soos dié rondom die
GMER vastrapplek kry. Derhalwe word inwoners
toegerus om tot toerisme by te dra deur
die opleiding wat hulle ontvang van GMER-personeel
danksy Cape Nature se Kogelberg-kleintoelaefonds.
Hulle word touwys gemaak as toergidse vir
fynbosstaproetes en hulle doen noodhulp-
en bewaringskennis op.
Omdat elke boer in die gebied ook sy werkers
aan omgewingsvriendelike boerderymetodes
bekendstel, versprei die "groen"
boodskap mettertyd na die hele gemeenskap.
Die roete oor die 34 000 hektaar van die
Groenlandberg-bewarea bied heerlike doendinge
en wynplase om te besoek. Verder is daar
weelderige verblyf en kontreikos, varsprodukte-markte
en plaasstalletjies en, vir die minder gastronomiese
van aard, staproetes, blom- en voëlkyk-roetes,
kajakker en kanovaart.
Kontak: 021 844 0975, info@greenmountain.co.za,
www.greenmountain.co.za.
-------------------------------------
Oktober
2008
September 2008
Augustus 2008
Julie 2008
Junie
2008
Mei 2008 |