Ramsay, Son & Parker (Pty) Ltd

Foto: Gerrit Rautenbach

 

 
 TUISBLAD
 NUUTSTE UITGAWE
 VAN DIE REDAKTEUR
 BOSSTORIES
 GROEN WENKE
 RADIO LANGPAD
 CHRIS BARNARD
 DOENDINGE
 BLOGS
 KOMPETISIES
 JULLE FOTO'S
 KONTAK
 SKAKELS
 SKERMBEELDE
 
 


 

September 2008

Is jy bekommerd oor die omgewing en wil daadwerklik iets doen om die skade wat reeds aangerig is, om te draai? Wel, ons maak dit vir jou maklik. Mooiloop bied elke maand aan lesers omgewingswenke. Stuur jou groen wenke en meegaande foto's van per e-pos aan bosstories@rsp.co.za.

Eagles Crag-lodge vir omgewingsbewaring bekroon
Eagles Crag, 'n luukse lodge in die Shamwari-wildreservaat in die Oos-Kaap, is een van net ses lodges en hotels wat die eerste Green Leaf Environmental Standard-toekenning ontvang het.

Dié toekenning word deur die Wilderness Foundation toegeken in 'n poging om verbruik te beperk terwyl omgewingsbestuur en bewuswording op 'n ekovriendelike wyse bevorder word. Die uiteindelike doelwit is om ekologiese standaarde vir toerisme-eenhede te stel en 'n maatstaf vir toekomstige verblyfplekke te wees.

Die standaard bestaan uit vyf elemente wat elk 'n kwelpunt verteenwoordig: water, energie, rommel, produkte en innovasie. Elke element tel 20 punte en elke deelnemer wat meer as 75 persent verdien, word met die groen blaar bekroon. 'n Prestasie van 95 persent verdien 'n goue blaar.

Die Wilderness Foundation, 'n nie-winsgewende Suid-Afrikaanse bewarings- en omgewingsorganisasie, het die Green Leaf-standaard geskep as 'n maatstaf vir toerisme-blyplekke om hul koolstofvoetspoor te meet - en te verminder. Volgens uitvoerende hoof Andrew Muir het die eienaars van toerismeplekke 'n plig om die omgewing verantwoordelik te bestuur.

Ryke hutspot van lewensvorme
Dis 'n milde, windlose aand in die Krugerwildtuin. Ek is deel van 'n span wat aan 'n moniteringsprojek in die Wildtuin deelneem vir Inter-nasionale Biodiversiteitsdag 2008. Suid-Afrika - en meer spesifiek die Kruger-tot-Canyon VN Biosfeer-gebied - is vir die eerste keer die spilpunt waarom die internasionale program vir Biodiversiteitsdag draai. Die keuse het op Suid-Afrika, en spesifiek dié gedeelte van die Laeveld geval omdat dit so besonder geseën is met 'n verskeidenheid van lewensvorme.

As deel van die projek is moniteringspanne by 18 verskillende opnamepunte in die Biosfeer ontplooi om binne die bestek van 'n paar uur al die lewensvorme wat hulle teëkom, aan te teken.

By die Olifantsrivier aangekom, wys Wildtuinnavorser Andrew Deacon ons hoe om 'n taai konkoksie van grondboontjiebotter, heuning en hawermout te maak en in die Sherman-vanghokke te plaas. "Knaagdiere vind die mengsel onweerstaanbaar," verduidelik hy.
Versigtig, om die menslike teen-woordigheid nie te opvallend te maak nie, word die vanghokke by verskeie punte in die bos versteek. Die plekke word sorgvuldig gemerk sodat ons hulle die volgende oggend maklik kan opspoor.

Op dag twee wag 'n interessante groep mense by Phalaborwahek - gister se kernspan plus twee voëlkenners, die voorsitter van die streek se herpetologiese vereniging, wetenskaplikes, veldwagters, onderwysers en leerlinge uit die gebied. Ons spanleier, Tony Swemmer van die Suid-Afrikaanse Omgewingswaarnemingsnetwerk, deel verantwoordelikhede uit. Die groep word in twee verdeel. Die landspan gaan 'n strook in die mopanieveld stap en die rivierspan gaan die Olifantsrivier se oewer verken.

Ons ry in twee veldvoertuie uit. Dier, voël en muggie word aangeteken.
Die Wildtuin se visfoendies, Andrew Deacon en Jacques Venter, kry hul elektroniese gereedskap reg en stap die rivier binne. Andrew en Jacques gooi 'n net wyd oor die rivier uit en die visse wat gevang word, word in 'n houer gegooi vir latere identifikasie. Terwyl Andrew met die behendigheid van jare met die taak besig is, soek Jacques ongewerwelde diertjies in die vlakwater.

Ons sien insekte, akkedisse, skerpioene en 'n sweepspinnekop, die einste knaap wat kinders laat sidder het in Harry Potter and the Goblet of Fire. Dan is die toegelate tyd vir opna-mes verby en ons ry terug na Phalaborwahek. Daar word foto's afgelaai, naslaanwerke nadergetrek, plant- en insekspesies geïdentifiseer en lyste finaal afgehandel vir die middag se terugrapportering in Hoedspruit.

Die volgende oggend word ek wakker van die geroep van 'n visarend onder by die rivier. Mariepskop lê wasig in die vroeë oggendson. Ek dink aan die vorige twee dae se avonture - wat 'n ongelooflike voorreg om dit te kon beleef.

Ek dink aan die Duitsers wat ná die terugvoersessie verstom gestaan het oor Afrika se ryke verskeidenheid van plante en diere. Ek dink weer oor die aantrekkingskrag van hierdie land van ons wat Uys Krige daar in die vreemde laat terugverlang en wat beslag gegee het aan sy Verre Blik, met die heimwee na sy land en sy mense wat skor praat: Die maan stoot teen die oosterkim met sy bleekwit impalahoring … - Mitzi du Plessis

Augustus 2008
Julie 2008

Junie 2008

Mei 2008

 

footer