September 2008
Is jy bekommerd oor die omgewing en wil
daadwerklik iets doen om die skade wat reeds
aangerig is, om te draai? Wel, ons maak
dit vir jou maklik. Mooiloop bied
elke maand aan lesers omgewingswenke. Stuur
jou groen wenke en meegaande foto's van
per e-pos aan bosstories@rsp.co.za.
Eagles
Crag-lodge vir omgewingsbewaring bekroon
Eagles Crag, 'n luukse lodge in die Shamwari-wildreservaat
in die Oos-Kaap, is een van net ses lodges
en hotels wat die eerste Green Leaf Environmental
Standard-toekenning ontvang het.
Dié toekenning word deur die Wilderness
Foundation toegeken in 'n poging om verbruik
te beperk terwyl omgewingsbestuur en bewuswording
op 'n ekovriendelike wyse bevorder word.
Die uiteindelike doelwit is om ekologiese
standaarde vir toerisme-eenhede te stel
en 'n maatstaf vir toekomstige verblyfplekke
te wees.
Die standaard bestaan uit vyf elemente wat
elk 'n kwelpunt verteenwoordig: water, energie,
rommel, produkte en innovasie. Elke element
tel 20 punte en elke deelnemer wat meer
as 75 persent verdien, word met die groen
blaar bekroon. 'n Prestasie van 95 persent
verdien 'n goue blaar.
Die Wilderness Foundation, 'n nie-winsgewende
Suid-Afrikaanse bewarings- en omgewingsorganisasie,
het die Green Leaf-standaard geskep as 'n
maatstaf vir toerisme-blyplekke om hul koolstofvoetspoor
te meet - en te verminder. Volgens uitvoerende
hoof Andrew Muir het die eienaars van toerismeplekke
'n plig om die omgewing verantwoordelik
te bestuur.
Ryke
hutspot van lewensvorme
Dis 'n milde, windlose aand in die Krugerwildtuin.
Ek is deel van 'n span wat aan 'n moniteringsprojek
in die Wildtuin deelneem vir Inter-nasionale
Biodiversiteitsdag 2008. Suid-Afrika - en
meer spesifiek die Kruger-tot-Canyon VN
Biosfeer-gebied - is vir die eerste keer
die spilpunt waarom die internasionale program
vir Biodiversiteitsdag draai. Die keuse
het op Suid-Afrika, en spesifiek dié
gedeelte van die Laeveld geval omdat dit
so besonder geseën is met 'n verskeidenheid
van lewensvorme.
As deel van die projek is moniteringspanne
by 18 verskillende opnamepunte in die Biosfeer
ontplooi om binne die bestek van 'n paar
uur al die lewensvorme wat hulle teëkom,
aan te teken.
By die Olifantsrivier aangekom, wys Wildtuinnavorser
Andrew Deacon ons hoe om 'n taai konkoksie
van grondboontjiebotter, heuning en hawermout
te maak en in die Sherman-vanghokke te plaas.
"Knaagdiere vind die mengsel onweerstaanbaar,"
verduidelik hy.
Versigtig, om die menslike teen-woordigheid
nie te opvallend te maak nie, word die vanghokke
by verskeie punte in die bos versteek. Die
plekke word sorgvuldig gemerk sodat ons
hulle die volgende oggend maklik kan opspoor.
Op dag twee wag 'n interessante groep mense
by Phalaborwahek - gister se kernspan plus
twee voëlkenners, die voorsitter van
die streek se herpetologiese vereniging,
wetenskaplikes, veldwagters, onderwysers
en leerlinge uit die gebied. Ons spanleier,
Tony Swemmer van die Suid-Afrikaanse Omgewingswaarnemingsnetwerk,
deel verantwoordelikhede uit. Die groep
word in twee verdeel. Die landspan gaan
'n strook in die mopanieveld stap en die
rivierspan gaan die Olifantsrivier se oewer
verken.
Ons ry in twee veldvoertuie uit. Dier, voël
en muggie word aangeteken.
Die Wildtuin se visfoendies, Andrew Deacon
en Jacques Venter, kry hul elektroniese
gereedskap reg en stap die rivier binne.
Andrew en Jacques gooi 'n net wyd oor die
rivier uit en die visse wat gevang word,
word in 'n houer gegooi vir latere identifikasie.
Terwyl Andrew met die behendigheid van jare
met die taak besig is, soek Jacques ongewerwelde
diertjies in die vlakwater.
Ons sien insekte, akkedisse, skerpioene
en 'n sweepspinnekop, die einste knaap wat
kinders laat sidder het in Harry Potter
and the Goblet of Fire. Dan is die toegelate
tyd vir opna-mes verby en ons ry terug na
Phalaborwahek. Daar word foto's afgelaai,
naslaanwerke nadergetrek, plant- en insekspesies
geïdentifiseer en lyste finaal afgehandel
vir die middag se terugrapportering in Hoedspruit.
Die volgende oggend word ek wakker van die
geroep van 'n visarend onder by die rivier.
Mariepskop lê wasig in die vroeë
oggendson. Ek dink aan die vorige twee dae
se avonture - wat 'n ongelooflike voorreg
om dit te kon beleef.
Ek dink aan die Duitsers wat ná die
terugvoersessie verstom gestaan het oor
Afrika se ryke verskeidenheid van plante
en diere. Ek dink weer oor die aantrekkingskrag
van hierdie land van ons wat Uys Krige daar
in die vreemde laat terugverlang en wat
beslag gegee het aan sy Verre Blik,
met die heimwee na sy land en sy mense wat
skor praat: Die maan stoot teen die oosterkim
met sy bleekwit impalahoring
- Mitzi
du Plessis
Augustus
2008
Julie 2008
Junie
2008
Mei 2008 |