Augustus 2008
Speel-speel na 'n groener Suid-Afrika
Ek staar na 'n foto van 'n klein bruin
eekhoring wat met wye, beskuldigende oë
na my kyk terwyl hy tandhap aan 'n sappige
koerantstorie
Letterlik.
Dis Peanut, 'n mak eekhoring en permanente
inwoner van die Renoster-en-leeu-natuurreservaat
net buite Krugersdorp waar die Nasionale
Natuurbewarings- en Opvoedingsprojek, Wildways
Wildlife Challenge, onlangs bekendgestel
is.
Die stigter van DJANI Wildlife-projekte,
doktor Madelein Grundlingh, 'n gekwalifiseerde
dierkundige en natuurbewaringspesialis,
en Peanut maak jong leerlinge bewus van
die lewensbelangrike verhouding tussen mens
en dier. In kindertaal: as mense mors, sal
diere die gemors eet - wat lei tot verteringsprobleme
en vergiftiging. Peanut se dood klink dalk
onbelangrik, maar selfs hierdie klein, skynbaar
nuttelose dier is noodsaaklik in die lewensiklus.
Die mens is die mees verwoestende spesie
op aarde en indien kinders nie van jongs
af geleer word om die natuur te respekteer
nie, sal daar vóór jy "grondboontjie"
kan sê niks meer oor wees om te bewaar
nie.
Die ewigdurende stryd tussen mens en dier
vervreem kinders al hoe meer van die natuur.
Die oplossing is bewusmaking.
Ná intensiewe navorsing het Madelein
met 'n manier waarop kinders speel-speel
meer oor die natuur kan leer vorendag gekom,
want "kinders leer die beste wanneer
hulle speel". Haar kaartspeletjie,
WildWays Wildlife Trump Card Series, is
'n prettige manier om meer van die natuur
te leer en bevat inligting oor meer as 180
verskillende spesies, insluitend soogdiere,
voëls en reptiele.
Speel-speel, tjoef-tjaf. Leer-leer. Madelein
hoop dat die kaartspeletjie in elke skoolsillabus
ingesluit sal word - dit is reeds by sommige
skole deel van die leerplan.
Televisie-aanbieder Michelle Garforth steun
die projek omdat dit vir haar "fantasties
is om te sien hoeveel kennis kinders uit
die speletjie kry, asook die hoeveelheid
pret wat die hele gesin in die proses het".
Daar word ook einde vanjaar 'n kompetisie
by deelnemende skole gehou wat onder meer
deelnemers se natuurkennis op grond van
die kaarte gaan toets. Jong fotograwe kan
ook hul beste natuurfoto's inskryf - die
bestes sal uitgestal word by DJANI Wildlife
Projects. Daar is groot pryse op die spel.
Aan die einde van die dag sien ek hoe 'n
paar kinders met nóg 'n inwoner van
die reservaart, 'n mak maraboe, speel. Ek
dink aan die groot taak wat op hul smal
skouers rus en voel bedruk. Ek kyk egter
dieper, sien hul glimlaggende gesigte en
hoe versigtig hulle die voël hanteer.
Madelein se woorde flits deur my gedagtes:
"Kennis van ons omgewing en medespesies
lei tot respek en meegevoel", en skielik
lyk die toekoms glad nie meer so donker
nie. - Helene Olivier
- Vir meer inligting: besoek WildWays
Wildlife Challenge op www.djaniwildlife.co.za
en raak leer-leer deel van die groen golf.
- Stuur jou groen wenke en meegaande foto's
van per e-pos aan bosstories@rsp.co.za.
-------------------------------------
Julie
2008
Junie
2008
Mei 2008 |