|
Bosstories
Briewe, reisverslae, nuusflitse en saakmaakstories
September 2008
'n Jintelman groet vir oulaas
As
jy een maal vir Harold Eedes ontmoet het,
sal jy weet wat ons hier by Mooiloop
bedoel as ons sê dat sy afsterwe vir
almal 'n groot verlies is.
Harold het 36 jaar gelede deel van Ramsay,
Son & Parker geword en was die afgelope
nege jaar besturende direkteur. Buiten al
sy ongelooflike prestasies by die uitgewery
en die mediabedryf, het hy 'n belangrike
rol gespeel in die vestiging van Mooiloop.
Wat 'n mens veral onthou, is die eienskap
van hom om te kan luister. En nie voor te
skryf nie. In die rowwe pad wat Mooiloop
moes loop om gevestig te raak, was Harold
altyd daar. Veral toe ons die groot besluit
moes neem om die naam te verander van Wegbreek
na Mooiloop. Hy het geluister, raad
gegee, vrae gevra en duiwelsadvokaat gespeel.
Nou kyk, Harold was 'n Ingilsman. 'n Opregte
Ingilsman. En dus 'n opregte jintelman.
Toe almal alles gesê het en alle argumente
op die tafel neergelê het oor die
moontlike nuwe naam, het Harold die span
nader geroep. Met sy groot glimlag het hy
ons so deurgekyk. En toe met ons gepraat.
"Look, as an Englishman I can't judge
the content of your magazine and I can't
judge or comment on the proposed new name.
But I believe in it, because I believe in
you. Your passion. Your fire." En dit
het die verskil gemaak.
Harold, jy sal altyd mooi loop in ons almal
se harte.
Jakkie en die luislang
Ek
sit nog so rustig toe lui my telefoon. Dis
vriend Basie Hermann wat net sê: "Kom
hierheen en maak gou. En bring jou kamera
saam!"
Daar gekom, vertel Basie wat gebeur het.
Hy sê hy het so ongeveer 6:45 opgestaan
(bietjie laat vir 'n boer, maar nou ja)
met 'n verbranne jakkals wat knaend om die
plaashuis tjank. In sy ongeduld het Basie
sy roer opgeneem en uit die huis gestrompel,
natuurlik nog onvolledig geklee met net
sy hardloopbroekie aan en sonder skoene.
By sy stoor het hy vir Ta gewaar, nog steeds
tartend aan die tjank. Basie sê sy
hond Spikkels, die Jack Russell, was op
daardie stadium nog by hom. Hy het toe op
die jakkals geskiet, maar sonder sy bril
het hy die outjie heeltemal gemis, waarna
Spikkels hom geskraap het.
Vos se kind hardloop toe verby 'n selfvoerder
waar Basie sy wild voer - steeds met Spikkels
op sy hakke.
Nou, in Basie se eie woorde was dit sekondes
toe hoor hy Spikkels het 'n ander soort
blafgeluid. By nadere ondersoek sien hy
'n luislang het vir Jakkie gevang en Spikkels
het die dood met 'n paar sekondes vrygespring.
Dis toe waar ek in die prentjie kom, en
die kiekie getuig van wat gebeur het.
Die slang en sy prooi is bekyk en benader
en daarna verwyder omdat hy al ook baie
rooiboklammers opgevreet het. Die slang
sal seker nou 'n heerlike oorwinteringslaap
met sy vangs geniet. Natuurlik op 'n ander
plaas.
Groete
Dirk van der Merwe, Modimolle
Mooi, maar duur
Die
Houghs het in Junie 2008 die voorreg gehad
om Namibië te kon verken. Vol bravade
het ons 'n woonbussie gehuur en die pas
noordwaarts vanaf Windhoek aangegee.
By Etosha het ons nuwe geriewe, maar ook
buitensporig stywe tariewe, wat enige toeris
in sy spore sal stuit, teëgekom. Met
die intreeslag in Etosha het ons oornag
in die Namutoni-ruskamp, wat stillerig was.
Die luukse rondawels het leeg gelyk en selfs
die kampeergebied was maar yl gesaai met
kampeerders.
Die ruskamp is baie mooi verfraai en ons
het nie geskroom om 'n aandete by hul restaurant
te geniet nie. Maar dit het ons erg geskok
om deur ons nekke te betaal vir kos wat
taai, onsmaaklik en baie min was.
Die laaste kamp waar ons oorgebly het, was
Okaukuejo met sy praguitsig oor 'n groot
watergat met baie diere. Later die week
het ons weer 'n draai in 'n restaurant gaan
maak om 'n koppie koffie te drink, net om
te sien dat dié se prys sowaar vanaf
die vorige aand van N$9 tot N$12 geklim
het.
Met ons kuiertjie in Etosha het ons geleer
dat daar al hoe meer gerieflike lodges net
buite die reservaat gebou word wat nou 'n
toevlugoord raak vir al hoe meer toeriste
weens hul bekostigbare pryse.
Ons het baie gelees van Etosha se stywe
pryse, en het dit nou eerstehands beleef.
Ja, alles is baie mooi oorgedoen en die
rondawels is enige toeris se droom, maar
hoeveel is 'n toeris werklik bereid om te
betaal vir sulke luuksheid?
'n Kioskwerker het ook haar kommer uitgespreek
dat Junie/Julie eintlik hul besigste toerismetyd
van die jaar behoort te wees en bygevoeg
dat daar beslis iets aan die saak gedoen
sal moet word.
Etosha se diere, die vriendelike mense en
natuurskoon het ons oorweldig. Dit was verskriklik
mooi en die goeie somerreënval het
die pan in 'n gladde spieël omskep.
Etosha was 'n belewenis, maar 'n mens hoop
dat die pryse aangepas sal word. Buitendien,
kan Namibië dit bekostig om sy toeriste
te verloor?
J.A. Hough
'n Reisgedagte vir die maand
Ek
is nou 60 (wie gee om). Ek bly die afgelope
10 jaar in 'n woonwa in die berge (heel
"koe-koe" en half-afgesny). Ek
ry motorfiets (en wil nog Naudésnekpas
en Moordenaarsnek gaan ry, en Hogsback beleef).
My dogter (sy gee regtig om) kom kuier vir
my en bring sakke vol inkopies, en dit en
dat, en die nuutste uitgawe van Mooiloop.
Later lees ek en ek "laaik".
As filosofiese reisiger-dromer lees ek toe
die volgende en wil graag voorstel dat julle
'n reisgedagte vir die maand oorweeg: "Snags
as alles inkrimp tot skaduwees... frons
die sterre al hoe groter oor die mens se
duisterheid. Waarvandaan kom ons regtig?
En om wat hier te kom maak? Dis omdat ons
dit nie weet nie wat ons stories vertel.
Ons moet ons lewens maak." Dit is Abraham
H. de Vries se filosofiese magic.
En my reisgedagte: " 'n Tranerige gegroetery
gooi net 'n skadustreep oor die heerlikheid
van vertrek." Só het Johan Bakkes
dit gestel.
Mooi loop
Tom Weyers
Die voëlgids van Suider-Afrika

Die voëlgids van Suider-Afrika,
wat sedert Februarie 2008 te koop is, is
'n móét vir alle voëlkykers
en -liefhebbers. Die gids het 'n gebruikersvriendelike
stelsel met kleurkodes en kruis-verwysings
om vinnig by die regte voël in die
sagtebandboek, wat 432 bladsye beslaan,
uit te kom.
Die boek het meer as 1 200 volkleurfoto's
van 809 voëls wat die verskillende
kleurvorms illustreer: mannetjie en wyfie,
jonge, broeidrag en ander variasies, simbole
wat die voël se voorkeurhabitat, kos,
sosiale gewoontes en nestipe aandui; verspreidingskaarte
wat die voorkomsdigtheid en migrasiepatrone
aantoon; 'n stelsel wat die voëls volgens
uiterlike kenmerke en gedrag in 12 logiese
groepe met kleurkodes indeel; en volledige
teks wat klem lê op identifikasie
en gedrag, en ook bruikbare inligting verskaf
oor voëlfamilies en kleiner groepe.
Die outeurs is Ulrich Oberprieler en Burger
Cillié. Die voëlgids van
Suider-Afrika (Lapa-uitgewers, www.lapa.co.za)
kos R225.
- Staan die kans om dié voëlgids
te wen in ons Voëlraai-kompetisie
op bladsy 16.
Nuwe skubaduikboek op die rakke
'n
Nuwe skubaduikboek, Dive Spots of Southern
Africa, wat 'n nuttige gids vir alle
duikers (ervare en onervare) sal wees, het
op die winkelrak verskyn. Johan and Amilda
Boshoff het die boek saamgestel nadat hulle
meer as 300 duikplekke in Suider-Afrika
besoek het.
Belangrike riglyne oor elke duikbestemming
(binnelands en kuslangs) sluit in verblyf,
beskikbare geriewe, reiswenke en duiktoestande.
Elke bestemming is met foto's en kaarte
geïllustreer, alle riwwe is ster-gegradeer
om die diepte aan te dui asook seelewe en
ander inligting wat vir die duikgemeenskap
noodsaaklik is.
Kazangula se pont

Ons het pas teruggekeer van ons derde reis,
'n onvergeetlike besoek aan die Mana-poele
in Zimbabwe. Ons het 'n paar lesse geleer
en dalk is dit van waarde vir ander reisigers.
Ons en Theo en Leonora Nagel het besluit
om via Botswana en Zambië te ry weens
die petroltekort en die politieke stand
van sake in Zimbabwe. Die stuk pad vanaf
Kariba na Mana is doodstil en ek is seker
dit is nog steeds veilig om daar te ry.
Ons het die eerste dag vanaf Durban tot
by Mapungubwe gery en toe 'n dag daar oorgestaan.
Wat 'n wonderlike wildtuin en die verblyf
in die Limpopo Forest-tentkamp was ongelooflik.
Op dag drie is ons deur Platjan op pad na
Kasane. Die pad was 'n groot ontnugtering,
want die stuk tussen Nata en Kasane is deur
vragmotors verwoes.'n Mens moes plek-plek
op die grond langs die pad ry. Ons het die
aand in Toro Lodge in Kasane geslaap en
ek kan dit werklik nie aanbeveel nie. Die
lakens was geskeur, maar darem skoon.
Eintlik was die enigste haakplek die pont
by Kazangula. Die ry vragmotors wat gewag
het, was ellelank. Ons het 'n wenk gekry
en verbygery na die pont self. Daar het
twee agente ons ingewag, soos arende hul
prooi van veraf bespied en op ons toegeslaan.
Ek moet darem tot ons verdediging sê
dat ons uit die staanspoor wantrouig was,
maar ook stories gehoor het dat dit tot
'n halwe dag kan neem om die rivier oor
te steek. Ons het op die ou end oor die
R2 000 per motor betaal, en hoewel ek steeds
nie weet wat die korrekte bedrag is nie,
weet ek ons is liederlik ingeloop. Ek dink
reisigers moet vooraf uitvind wat die korrekte
bedrag is. Ons het onsself getroos dat ons
darem vinnig deurgekom het.
Die pad tussen Livingstone en Kalomo is
erger as die een tussen Nata en Kasane.
Hoe ons nie ons motors verwoes het nie en
die aankomende verkeer wat ook om die slaggate
probeer ry het, gemis het, is verbysterend.
Verder noord is die pad weer mooi. Die laaste
stukkie pad na Kariba is pragtig. Ons het
die aand op die oewer van die Kariba geslaap
en daar deur ons nekke betaal.
Maar, toe die wonderwerk van Mana-poele.
Die panne was nog vol water, maar die wild
was skaars. Die beste tyd vir diere is einde
Augustus en September wanneer die panne
opdroog en die diere gedwing word om in
die Zambezi te gaan drink.
Daar was hope voëls soos die witvlerkkiewiet
en die witkopkiewiet, witpelikaan, bosuil,
reuse-ooruil, skopsuil, maar ongelukkig
nie 'n visuil nie. Daar het min mense gekamp,
dus was die plek ons s'n. Ons het vier nagte
in Gway-kamp gebly. Dit is 'n klein private
kamp binne Mana. Onthou tog om die toegangsgeld
vir Mana by die parkekantoor buite Mana
te betaal. Agt stukkies hout kos R70; ons
het toe maar ons eie hout gemaak.
Daar was baie seekoeie en dit het 'n ruk
geneem om aan die geraas snags gewoond te
word. Drie olifante het by ons tente verbygeloop
en die voetspore om ons tente het hul eie
verhaal vertel.
Drie nagte by Goliath Safaris was om onsself
te bederf en die eienaar, Stretch Ferreira,
ken die plek en die diere soos die palm
van sy hand. Saam het ek en hy tot sowat
vyf meter vanaf 'n olifant gestap en dit
sal ek nooit vergeet nie. Toe die olifant
sy ore flap, sê Stretch net: "Steady
boy!" en toe staan hy stil.
Die vuurvliegies by die rivier was vir my
nog wonderliker as enige dier of voël.
Ons het ook met die rivier afgeroei waar
die Zambezi- en Manariviere saamgevloei
het. Wondermooi!
Die uitsonderlikste kamp was Chitake 2.
Dit is so 45 kilometer vanaf die rivier
en daar is geen water of geriewe nie. Die
kamp is op 'n heuwel met 'n uitsig van 360
grade oor die vallei en op die heuwel staan
13 reusagtige kremetartbome. Die maan was
vol en dit was soos in die paradys.
Ons kon brandstof en koepons by Stretch
koop en het toe deur Zimbabwe teruggery.
Die mense kry bitter swaar. Ons het by die
polisieblokkades lekkers of iets uitgedeel,
want hulle wou telkens vriendelik weet:
"What did you bring for your brother
today?"
Mooi loop en dankie vir al die wonderlike
inligting. Doe zo voort!
Elize en Albert Rowan
Mans draf myle vir glimlagte
Die
twee Kapenaars wat die Groot Muur van China
in 2006 kafgedraf het, is weer op die pad
- dié keer kuslangs vanaf Namibië
na Mosambiek. David Grier en Braam Malherbe
beplan om die 3 500 kilometer Cipla Spar
Miles for Smiles Coastal Challenge 2008
in sowat vier maande af te lê en om
R1 000 per kilometer vir Operation Smile
South Africa in te samel.
David (48) en Braam (50) het op Dinsdag
1 Julie in die pad geval en draf van Oranjemund
via Kaapstad na Ponto D' Ouro. Hulle gaan
dieselfde program volg waarmee hulle die
muur getem het - drie skofte van 15 kilometer
elk vir ses dae aaneen, gevolg deur 'n rusdag.
Operation Smile South Africa (wat in 2006
gevestig is) verskaf gratis chirurgie en
mediese behandeling aan kinders wat met
haaslippe en gesplete verhemeltes of misvormde
gesigte gebore is. David en Braam het met
die Groot Muur-drawwery R550 000 vir die
organisasie ingesamel waarmee 55 kinders
die mediese ingryping kon kry om vandag
te kan glimlag.
Hulle is die eerste atlete in die geskiedenis
wat heelpad langs die Groot Muur gehardloop
het en is daarvoor deur Out There as Avonturiers
van die Jaar 2006 beloon.
Baie dankie
Ons het een dag na Freek Robinson se Praat
Saam-program op RSG geluister en so
van Mooiloop te hore gekom.
Op 'n soektog deur ons stad kon ons gelukkig
by Exclusive Books 'n eksemplaar bekom.
Die voorblad het dadelik ons oog gevang,
aangesien die Namib een van ons gunsteling-plekke
op die ou aardbol is.
Die papier waarop die tydskrif gedruk, word,
is maklik hanteerbaar en die bladsye klou
nie aan mekaar vas nie.
Alle voorspoed en seën vorentoe. Ek
is 'n baie tevrede en gelukkige leser.
Marlene Weweje, Pietermaritzburg
Wanneer jy Mooiloop in jou hand
het, het jy nie nodig om fisiek op reis
te gaan nie. Die artikels neem jou op 'n
bolmakiesie van reise deur die oë en
ondervindinge van ander reisigers.
Ander reistydskrifte staan ver agter in
verhouding met die inhoud en passie wat
Mooiloop ons bied. Ek wens die tydskrif
kan weekliks of tweeweekliks op die rakke
verskyn.
Ek het vir 'n vriend van my 'n tweejaar-intekening
as geskenk gegee en hy is mal daaroor. Hy
het sommer ook sy eerste huweliksherdenking
so uit die agterkant van die tydskrif bespreek.
Mooiloop is 'n reis sonder einde
en ek sal aanhou saamloop, selfs al noem
julle die tydskrif Sepela Gabotse.
Stephan Henrico, Olifantshoek
Jul kremetart-artikel (Ondersteboom, Mooiloop,
Julie 2008) herinner my aan 'n boom wat
ek tydens my diensplig in 1983 teëgekom
het. Die boom het in ons basis by Ombalantu
tussen Oshalati en Ruacana in die ou Suidwes-Afrika
gestaan. Veertien mans kon om die boom hande
vat. Die kremetart was terselfdertyd die
kapelaan se kapel omdat die binnekant van
die boom uitgehol was. Interessant, nè!
Stoney Steenkamp, Bellville |