Ramsay, Son & Parker (Pty) Ltd

Foto: Nelis Engelbrecht

 

 
 TUISBLAD
 NUUTSTE UITGAWE
 VAN DIE REDAKTEUR
 BOSSTORIES
 GROEN WENKE
 RADIO LANGPAD
 CHRIS BARNARD
 DOENDINGE
 BLOGS
 KOMPETISIES
 JULLE FOTO'S
 KONTAK
 SKAKELS
 SKERMBEELDE
 
 


 

Bosstories
Briewe, reisverslae, nuusflitse en saakmaakstories
September 2008


'n Jintelman groet vir oulaas

As jy een maal vir Harold Eedes ontmoet het, sal jy weet wat ons hier by Mooiloop bedoel as ons sê dat sy afsterwe vir almal 'n groot verlies is.

Harold het 36 jaar gelede deel van Ramsay, Son & Parker geword en was die afgelope nege jaar besturende direkteur. Buiten al sy ongelooflike prestasies by die uitgewery en die mediabedryf, het hy 'n belangrike rol gespeel in die vestiging van Mooiloop.

Wat 'n mens veral onthou, is die eienskap van hom om te kan luister. En nie voor te skryf nie. In die rowwe pad wat Mooiloop moes loop om gevestig te raak, was Harold altyd daar. Veral toe ons die groot besluit moes neem om die naam te verander van Wegbreek na Mooiloop. Hy het geluister, raad gegee, vrae gevra en duiwelsadvokaat gespeel.

Nou kyk, Harold was 'n Ingilsman. 'n Opregte Ingilsman. En dus 'n opregte jintelman. Toe almal alles gesê het en alle argumente op die tafel neergelê het oor die moontlike nuwe naam, het Harold die span nader geroep. Met sy groot glimlag het hy ons so deurgekyk. En toe met ons gepraat.

"Look, as an Englishman I can't judge the content of your magazine and I can't judge or comment on the proposed new name. But I believe in it, because I believe in you. Your passion. Your fire." En dit het die verskil gemaak.

Harold, jy sal altyd mooi loop in ons almal se harte.

Jakkie en die luislang

Ek sit nog so rustig toe lui my telefoon. Dis vriend Basie Hermann wat net sê: "Kom hierheen en maak gou. En bring jou kamera saam!"

Daar gekom, vertel Basie wat gebeur het. Hy sê hy het so ongeveer 6:45 opgestaan (bietjie laat vir 'n boer, maar nou ja) met 'n verbranne jakkals wat knaend om die plaashuis tjank. In sy ongeduld het Basie sy roer opgeneem en uit die huis gestrompel, natuurlik nog onvolledig geklee met net sy hardloopbroekie aan en sonder skoene.

By sy stoor het hy vir Ta gewaar, nog steeds tartend aan die tjank. Basie sê sy hond Spikkels, die Jack Russell, was op daardie stadium nog by hom. Hy het toe op die jakkals geskiet, maar sonder sy bril het hy die outjie heeltemal gemis, waarna Spikkels hom geskraap het.

Vos se kind hardloop toe verby 'n selfvoerder waar Basie sy wild voer - steeds met Spikkels op sy hakke.

Nou, in Basie se eie woorde was dit sekondes toe hoor hy Spikkels het 'n ander soort blafgeluid. By nadere ondersoek sien hy 'n luislang het vir Jakkie gevang en Spikkels het die dood met 'n paar sekondes vrygespring.

Dis toe waar ek in die prentjie kom, en die kiekie getuig van wat gebeur het.
Die slang en sy prooi is bekyk en benader en daarna verwyder omdat hy al ook baie rooiboklammers opgevreet het. Die slang sal seker nou 'n heerlike oorwinteringslaap met sy vangs geniet. Natuurlik op 'n ander plaas.

Groete
Dirk van der Merwe, Modimolle

Mooi, maar duur

Die Houghs het in Junie 2008 die voorreg gehad om Namibië te kon verken. Vol bravade het ons 'n woonbussie gehuur en die pas noordwaarts vanaf Windhoek aangegee.

By Etosha het ons nuwe geriewe, maar ook buitensporig stywe tariewe, wat enige toeris in sy spore sal stuit, teëgekom. Met die intreeslag in Etosha het ons oornag in die Namutoni-ruskamp, wat stillerig was. Die luukse rondawels het leeg gelyk en selfs die kampeergebied was maar yl gesaai met kampeerders.

Die ruskamp is baie mooi verfraai en ons het nie geskroom om 'n aandete by hul restaurant te geniet nie. Maar dit het ons erg geskok om deur ons nekke te betaal vir kos wat taai, onsmaaklik en baie min was.

Die laaste kamp waar ons oorgebly het, was Okaukuejo met sy praguitsig oor 'n groot watergat met baie diere. Later die week het ons weer 'n draai in 'n restaurant gaan maak om 'n koppie koffie te drink, net om te sien dat dié se prys sowaar vanaf die vorige aand van N$9 tot N$12 geklim het.

Met ons kuiertjie in Etosha het ons geleer dat daar al hoe meer gerieflike lodges net buite die reservaat gebou word wat nou 'n toevlugoord raak vir al hoe meer toeriste weens hul bekostigbare pryse.

Ons het baie gelees van Etosha se stywe pryse, en het dit nou eerstehands beleef. Ja, alles is baie mooi oorgedoen en die rondawels is enige toeris se droom, maar hoeveel is 'n toeris werklik bereid om te betaal vir sulke luuksheid?

'n Kioskwerker het ook haar kommer uitgespreek dat Junie/Julie eintlik hul besigste toerismetyd van die jaar behoort te wees en bygevoeg dat daar beslis iets aan die saak gedoen sal moet word.

Etosha se diere, die vriendelike mense en natuurskoon het ons oorweldig. Dit was verskriklik mooi en die goeie somerreënval het die pan in 'n gladde spieël omskep.

Etosha was 'n belewenis, maar 'n mens hoop dat die pryse aangepas sal word. Buitendien, kan Namibië dit bekostig om sy toeriste te verloor?

J.A. Hough

'n Reisgedagte vir die maand

Ek is nou 60 (wie gee om). Ek bly die afgelope 10 jaar in 'n woonwa in die berge (heel "koe-koe" en half-afgesny). Ek ry motorfiets (en wil nog Naudésnekpas en Moordenaarsnek gaan ry, en Hogsback beleef).

My dogter (sy gee regtig om) kom kuier vir my en bring sakke vol inkopies, en dit en dat, en die nuutste uitgawe van Mooiloop. Later lees ek en ek "laaik".

As filosofiese reisiger-dromer lees ek toe die volgende en wil graag voorstel dat julle 'n reisgedagte vir die maand oorweeg: "Snags as alles inkrimp tot skaduwees... frons die sterre al hoe groter oor die mens se duisterheid. Waarvandaan kom ons regtig? En om wat hier te kom maak? Dis omdat ons dit nie weet nie wat ons stories vertel. Ons moet ons lewens maak." Dit is Abraham H. de Vries se filosofiese magic.

En my reisgedagte: " 'n Tranerige gegroetery gooi net 'n skadustreep oor die heerlikheid van vertrek." Só het Johan Bakkes dit gestel.

Mooi loop
Tom Weyers

Die voëlgids van Suider-Afrika

Die voëlgids van Suider-Afrika, wat sedert Februarie 2008 te koop is, is 'n móét vir alle voëlkykers en -liefhebbers. Die gids het 'n gebruikersvriendelike stelsel met kleurkodes en kruis-verwysings om vinnig by die regte voël in die sagtebandboek, wat 432 bladsye beslaan, uit te kom.

Die boek het meer as 1 200 volkleurfoto's van 809 voëls wat die verskillende kleurvorms illustreer: mannetjie en wyfie, jonge, broeidrag en ander variasies, simbole wat die voël se voorkeurhabitat, kos, sosiale gewoontes en nestipe aandui; verspreidingskaarte wat die voorkomsdigtheid en migrasiepatrone aantoon; 'n stelsel wat die voëls volgens uiterlike kenmerke en gedrag in 12 logiese groepe met kleurkodes indeel; en volledige teks wat klem lê op identifikasie en gedrag, en ook bruikbare inligting verskaf oor voëlfamilies en kleiner groepe.

Die outeurs is Ulrich Oberprieler en Burger Cillié. Die voëlgids van Suider-Afrika (Lapa-uitgewers, www.lapa.co.za) kos R225.

  • Staan die kans om dié voëlgids te wen in ons Voëlraai-kompetisie op bladsy 16.

Nuwe skubaduikboek op die rakke

'n Nuwe skubaduikboek, Dive Spots of Southern Africa, wat 'n nuttige gids vir alle duikers (ervare en onervare) sal wees, het op die winkelrak verskyn. Johan and Amilda Boshoff het die boek saamgestel nadat hulle meer as 300 duikplekke in Suider-Afrika besoek het.

Belangrike riglyne oor elke duikbestemming (binnelands en kuslangs) sluit in verblyf, beskikbare geriewe, reiswenke en duiktoestande. Elke bestemming is met foto's en kaarte geïllustreer, alle riwwe is ster-gegradeer om die diepte aan te dui asook seelewe en ander inligting wat vir die duikgemeenskap noodsaaklik is.

Kazangula se pont

Ons het pas teruggekeer van ons derde reis, 'n onvergeetlike besoek aan die Mana-poele in Zimbabwe. Ons het 'n paar lesse geleer en dalk is dit van waarde vir ander reisigers.

Ons en Theo en Leonora Nagel het besluit om via Botswana en Zambië te ry weens die petroltekort en die politieke stand van sake in Zimbabwe. Die stuk pad vanaf Kariba na Mana is doodstil en ek is seker dit is nog steeds veilig om daar te ry.

Ons het die eerste dag vanaf Durban tot by Mapungubwe gery en toe 'n dag daar oorgestaan. Wat 'n wonderlike wildtuin en die verblyf in die Limpopo Forest-tentkamp was ongelooflik. Op dag drie is ons deur Platjan op pad na Kasane. Die pad was 'n groot ontnugtering, want die stuk tussen Nata en Kasane is deur vragmotors verwoes.'n Mens moes plek-plek op die grond langs die pad ry. Ons het die aand in Toro Lodge in Kasane geslaap en ek kan dit werklik nie aanbeveel nie. Die lakens was geskeur, maar darem skoon.

Eintlik was die enigste haakplek die pont by Kazangula. Die ry vragmotors wat gewag het, was ellelank. Ons het 'n wenk gekry en verbygery na die pont self. Daar het twee agente ons ingewag, soos arende hul prooi van veraf bespied en op ons toegeslaan. Ek moet darem tot ons verdediging sê dat ons uit die staanspoor wantrouig was, maar ook stories gehoor het dat dit tot 'n halwe dag kan neem om die rivier oor te steek. Ons het op die ou end oor die R2 000 per motor betaal, en hoewel ek steeds nie weet wat die korrekte bedrag is nie, weet ek ons is liederlik ingeloop. Ek dink reisigers moet vooraf uitvind wat die korrekte bedrag is. Ons het onsself getroos dat ons darem vinnig deurgekom het.

Die pad tussen Livingstone en Kalomo is erger as die een tussen Nata en Kasane. Hoe ons nie ons motors verwoes het nie en die aankomende verkeer wat ook om die slaggate probeer ry het, gemis het, is verbysterend. Verder noord is die pad weer mooi. Die laaste stukkie pad na Kariba is pragtig. Ons het die aand op die oewer van die Kariba geslaap en daar deur ons nekke betaal.

Maar, toe die wonderwerk van Mana-poele. Die panne was nog vol water, maar die wild was skaars. Die beste tyd vir diere is einde Augustus en September wanneer die panne opdroog en die diere gedwing word om in die Zambezi te gaan drink.

Daar was hope voëls soos die witvlerkkiewiet en die witkopkiewiet, witpelikaan, bosuil, reuse-ooruil, skopsuil, maar ongelukkig nie 'n visuil nie. Daar het min mense gekamp, dus was die plek ons s'n. Ons het vier nagte in Gway-kamp gebly. Dit is 'n klein private kamp binne Mana. Onthou tog om die toegangsgeld vir Mana by die parkekantoor buite Mana te betaal. Agt stukkies hout kos R70; ons het toe maar ons eie hout gemaak.

Daar was baie seekoeie en dit het 'n ruk geneem om aan die geraas snags gewoond te word. Drie olifante het by ons tente verbygeloop en die voetspore om ons tente het hul eie verhaal vertel.

Drie nagte by Goliath Safaris was om onsself te bederf en die eienaar, Stretch Ferreira, ken die plek en die diere soos die palm van sy hand. Saam het ek en hy tot sowat vyf meter vanaf 'n olifant gestap en dit sal ek nooit vergeet nie. Toe die olifant sy ore flap, sê Stretch net: "Steady boy!" en toe staan hy stil.

Die vuurvliegies by die rivier was vir my nog wonderliker as enige dier of voël. Ons het ook met die rivier afgeroei waar die Zambezi- en Manariviere saamgevloei het. Wondermooi!
Die uitsonderlikste kamp was Chitake 2. Dit is so 45 kilometer vanaf die rivier en daar is geen water of geriewe nie. Die kamp is op 'n heuwel met 'n uitsig van 360 grade oor die vallei en op die heuwel staan 13 reusagtige kremetartbome. Die maan was vol en dit was soos in die paradys.

Ons kon brandstof en koepons by Stretch koop en het toe deur Zimbabwe teruggery. Die mense kry bitter swaar. Ons het by die polisieblokkades lekkers of iets uitgedeel, want hulle wou telkens vriendelik weet: "What did you bring for your brother today?"

Mooi loop en dankie vir al die wonderlike inligting. Doe zo voort!

Elize en Albert Rowan

Mans draf myle vir glimlagte

Die twee Kapenaars wat die Groot Muur van China in 2006 kafgedraf het, is weer op die pad - dié keer kuslangs vanaf Namibië na Mosambiek. David Grier en Braam Malherbe beplan om die 3 500 kilometer Cipla Spar Miles for Smiles Coastal Challenge 2008 in sowat vier maande af te lê en om R1 000 per kilometer vir Operation Smile South Africa in te samel.

David (48) en Braam (50) het op Dinsdag 1 Julie in die pad geval en draf van Oranjemund via Kaapstad na Ponto D' Ouro. Hulle gaan dieselfde program volg waarmee hulle die muur getem het - drie skofte van 15 kilometer elk vir ses dae aaneen, gevolg deur 'n rusdag.

Operation Smile South Africa (wat in 2006 gevestig is) verskaf gratis chirurgie en mediese behandeling aan kinders wat met haaslippe en gesplete verhemeltes of misvormde gesigte gebore is. David en Braam het met die Groot Muur-drawwery R550 000 vir die organisasie ingesamel waarmee 55 kinders die mediese ingryping kon kry om vandag te kan glimlag.

Hulle is die eerste atlete in die geskiedenis wat heelpad langs die Groot Muur gehardloop het en is daarvoor deur Out There as Avonturiers van die Jaar 2006 beloon.

Baie dankie

Ons het een dag na Freek Robinson se Praat Saam-program op RSG geluister en so van Mooiloop te hore gekom.

Op 'n soektog deur ons stad kon ons gelukkig by Exclusive Books 'n eksemplaar bekom. Die voorblad het dadelik ons oog gevang, aangesien die Namib een van ons gunsteling-plekke op die ou aardbol is.

Die papier waarop die tydskrif gedruk, word, is maklik hanteerbaar en die bladsye klou nie aan mekaar vas nie.

Alle voorspoed en seën vorentoe. Ek is 'n baie tevrede en gelukkige leser.

Marlene Weweje, Pietermaritzburg

Wanneer jy Mooiloop in jou hand het, het jy nie nodig om fisiek op reis te gaan nie. Die artikels neem jou op 'n bolmakiesie van reise deur die oë en ondervindinge van ander reisigers.
Ander reistydskrifte staan ver agter in verhouding met die inhoud en passie wat Mooiloop ons bied. Ek wens die tydskrif kan weekliks of tweeweekliks op die rakke verskyn.

Ek het vir 'n vriend van my 'n tweejaar-intekening as geskenk gegee en hy is mal daaroor. Hy het sommer ook sy eerste huweliksherdenking so uit die agterkant van die tydskrif bespreek.
Mooiloop is 'n reis sonder einde en ek sal aanhou saamloop, selfs al noem julle die tydskrif Sepela Gabotse.

Stephan Henrico, Olifantshoek

Jul kremetart-artikel (Ondersteboom, Mooiloop, Julie 2008) herinner my aan 'n boom wat ek tydens my diensplig in 1983 teëgekom het. Die boom het in ons basis by Ombalantu tussen Oshalati en Ruacana in die ou Suidwes-Afrika gestaan. Veertien mans kon om die boom hande vat. Die kremetart was terselfdertyd die kapelaan se kapel omdat die binnekant van die boom uitgehol was. Interessant, nè!

Stoney Steenkamp, Bellville


-------------------------------------

Augustus 2008
Julie 2008

Junie 2008

Mei 2008

April 2008
Maart 2008
Februarie 2008
Januarie 2008
Oktober 2007
September 2007
Augustus 2007

 

 

footer