Bosstories Briewe, reisverslae,
nuusflitse en saakmaakstories
September 2007
Ver
in die ou Kalahari
Die Kalahari is 'n wêreld waar jy twee
keer huil - die dag as jy daar aankom en die
dag as jy moet ry.
Daar is 'n aardsheid wat jy nêrens anders
kry nie. Ek onthou my bekendstelling aan die
Kalahari. Dit was in Oktober 1994.
Ek het gedink (en gehoor) daar is net 'n geroeste
sinkplaat tussen dié plek en die hel,
maar kort voor lank het ek my hart verloor.
Ek het hom verloor daar waar 'n stofstorm
oor die kaal vlaktes hardloop soos 'n wegholtrein
sonder spore. Daar waar jy jou toekoms en
verlede oor die vlaktes, heuwels, berge en
koppies kan sien kom en gaan.
'n Storie in die volksmond is dat die Here
en die duiwel kaartgespeel het met dié
stuk aarde as die wenner se prys. Die duiwel
het gewen en aan die Here gesê: "Vat
dit maar, daar gaan in elk geval niks aan
nie."
Ek het al die sonopkoms gemeet. Een minuut
37 sekondes vandat hy sy strepie op die horison
wys tot die son in volle glorie die nag verdryf
en aankondig dat hy vir die volgende 12 uur
die bepaler van beweging is.
Dan sak hy bloedrooi soos 'n gewonde kryger
weg.
Die verandering in die omgewing is soms skaars
opmerklik, soms is dit van "epidermiese
proporsies".
Maar tussendeur die woedende donderstorms,
windverwaaide dae en dorre woestynweer is
die oorheersende beitel in die vorming, uitwissing
en herskepping van die natuur die teenwoordigheid
van reën en wind - of die wegbly daarvan.
In die Kalahari kry jy vier seisoene in een
dag. Jy staan op en kry koud.
Wanneer die middaguur aanbreek, wil jy dood
van die hitte.
Ewe skielik steek 'n herfswindjie op wat jou
afkoel, maar wat ook waarsku dat iets op pad
is.
Stadig word wolke nadergewaai, die eerstes
is maar so groot soos 'n man se hand, en dan
pak die kobaltblou lug donker toe.
Kort voor lank breek 'n tipiese Kalahari-donderstorm
oor die vlaktes uit om net so gou weer op
te klaar.
Skielik verskyn 'n kiewiet, gompou, tarentaal,
grysvalk, Kaapse geelogie, patrys of 'n sekretarisvoël
op jou pad.
Dan sal 'n slang, likkewaan, ystervark, duiker,
bakoorjakkals of 'n skerpioen iewers deur
die dag weer jou pad na iewers anders kruis.
Wie kon nog ooit die kordaat soldaatfiguur
van 'n stokstertmeerkat weerstaan?
Die donker word geken aan die weemoedige geklaag
'n naguiltjie op 'n telefoonpaal en die bloedstollende
roep van 'n jakkals onder die volmaan.
Deur dié wêreld het David Livingstone
(hy het immers sy bekende reis deur Afrika
op Kuruman begin) en Robert en Mary Moffat
beweeg en hul wortels in die grond gegrawe.
Mense ry dikwels deur sekere streke van ons
land en vra hulself af hoe enige persoon op
'n plek soos die Kalahari kan oorleef.
Vir daardie mense nooi ons hartlik uit. Kom,
kom kuier by ons. Kom bly by ons en ervaar
die Kalahari.
So terloops, ek het nie net my hart op die
natuurskoon verloor nie; ek het ook my vrou
daar ontmoet.
Sien julle binnekort.
Stephan Henrico, Olifantshoek
Snorkel
vir beginners
Ons het onlangs 'n wonderlike vakansie by
Barra de Praia naby Inhambane in Mosambiek
gehad. Dit was 'n vakansie van eerstes,
onder meer die eerste keer dat ons gaan
snorkel het. Ná 'n effense gesukkel
het ek reggekom met die asemhaling, en het
begin om myself in die helderskoon water
te geniet. My vrou, Doreen, was egter minder
gelukkig en moes kortkort 'n mondvol seewater
uitproes. Ek moet toegee, sy het nie opgegee
nie en uiteindelik in sowat vyf sentimeter
water gesnorkel. Die gesoute snorkelaars
in die geselskap het maar uit beleefdheid
anderkant toe gekyk. Daardie aand om die
braaivleisvuur was die nuwe snorkeltegniek
die hoofonderwerp van bespreking.
Peter Thomas, Bracken Gardens
Drink
op roofvoëls se gesondheid
Visarende en ander roofvoëls wat in
die Breëriviervallei en omliggende
omgewing voorkom, kan die lewe van voor
af geniet as die Breërivier-visarendprojek
daarin slaag om omgewingsvriendelike boerdery
daar te bevorder.
Dié navorsingprojek, wat deur die
bewaringsorganisasie Birds of Prey Working
Group bestuur word, gaan 'n besoedelingsprofiel
vir die Breërivier saamstel om vas
te stel hoe dié voëls onder
meer deur die konsentrasie van plaagdoders
en die watergehalte beïnvloed word.
André Botha, bestuurder van die Birds
of Prey Working Group by die Endangered
Wildlife Trust, sê die Breëriviervallei
is 'n intens bewerkte landbougebied en 'n
groot verskeidenheid van plaagdoders word
gebruik.
"Roofdiere wat vis en voëls eet,
is veral vatbaar vir chemiese besoedeling,"
sê André.
Om seker te maak dit gaan klopdisselboom
met hul gesondheid borg Flight of the Fish
Eagle-brandewyn die projek vir die volgende
drie jaar.
Angola
- pragtige, interessante, verwaarloosde
land
Ek het met groot belangstelling Mooiloop
se hoofstorie oor Angola in die Augustus
2007-uitgawe gelees, en kon nie die versoeking
weerstaan om van óns reis daarheen
te vertel nie.
Op ons reis na Angola se drie suidelikste
provinsies, Namibe, Huila en Cunene, het
ons groep van 15 ná die aanvanklike
gesloer by die grenspos net die avontuur
van dié land voor ons gehad.
Ons sou boslangs teen die Kunenerivier tot
by die mond ry, dan kuslangs na Tombua,
Namibe, Lubango, Cahama, Ondjiva en dan
oor die grens deur Oshikango terugkom. Die
dorpies waardeur ons gery het, is erg verwaarloos.
Orals staan mooi geboue uit die Portugese
tyd, maar hulle word nie in stand gehou
nie. Die landelike gebied is pragtig en
rustig; kinders sit onder bome en doen skoolwerk,
ander sit in takgeboutjies wat as skool
dien, maar almal is deurgaans vriendelik.
Ons het later die mooi natuur agtergelaat
en die dik rooi streep van die hoofpad op
die padkaart gevolg. By Cahama kom ons toe
op dié hoofpad - nie een van julle
het al ooit so iets beleef nie!
Ja, ons ken plaaspaaie en slaggate, maar
nie 'n pad wat uit gate met net teerblertsies
hier en daar bestaan nie. Die bestuurders
het versigtig gery om af en toe 'n bietjie
teer raak te ry. Gelukkig is daar nie baie
verkeer nie en het dit het nie veel saak
gemaak of ons nou links of regs voortfoeter
nie.
Dit duur ure - ons ry teen 20 tot 30 kilometer
per uur aan sowat 200 kilometer. Dis dus
te verstane dat ons daagliks ure lank moes
ry om êrens te kom. Gelukkig was die
indeling in die voertuie sodanig dat dit
al hoe geselliger geword het.
In Lubango is daar pragtige ou geboue wat
heeltemal of half vernietig is en duisende
kleihuisies met sinkdakke met klippe bo-op.
En tussen alles is daar honderde netjiese
blou en wit taxi's.
Die Portugees by die netjiese kampplek vertel
dat hulle net een uur per dag elektrisiteit
het. Sommige plekke kry twee uur, maar dis
selde. Hoe nou gemaak? Almal het maar kragopwekkers
om dinge aan die gang te hou.
Volgens hom het die Coca-Cola-fabriek daar
verlede jaar die goue prys vir die beste
produk gekry omdat die water so besonder
goed is.
Die volgende oggend het ons gids ons na
twee besienswaardighede in Lubango geneem.
Die een op 'n pragtige bergpad deur 'n lieflike
omgewing waar die oorblyfsels van eertydse
Portugese plase op die berghange verwaarloos
staan.
Dié plek staan bekend as die Gate
van Lubangoen en dit spreek van tragedie:
gedurende die Grensoorlog het Swapo 'n kamp
bo-op die berg gehad. Hulle het Ovambo's
ondervra en as hulle nie kon of wou antwoord
nie, is hulle van die hoogste kranse afgegooi.
Mense was al onder en kan nog van die beendere
sien.
Aan die ander kant van die stad, ook op
'n hoë berg, staan 'n Christusbeeld
kolossaal en indrukwekkend.
Sowat nege kilometer vanaf Lubango kom ons
by Humpata waar die Dorsland-trekkers hulle
in 1874/75 gaan vestig het. Daar is nog
oorblyfsels van die nedersetting en selfs
ou vrugtebome staan nog. Van die aartappelboere
saam met ons het die grond bevoel en gesê
die Trekkers het die beste plek uitgesoek.
Daarna durf ons die Sierra de Lebapas aan.
Dis 15 kilometer lank en daal 1 000 meter
af kus toe. Ek het beslis nie al die passe
ter wêreld gesien nie, maar in my
lewe het ek nog nie so iets in Suid-Afrika
of Europa teëgekom nie.
Die landskap is interessant en die teerpad
kookwater. Ons ry eers oor die Rio Gerole
- 'n groot rivier - en dan kom die welwitschias
aan die beurt - honderde van hulle. By die
see aangekom het ons kamp ingerig vir twee
dae.
Dit was twee heerlike dae van mossels pluk
en oesters uithaal. Vars vis in foelie met
kruie en wyn bedruip en dan in die kole
gedruk. Smullekker kabeljou in 'n pan gebak.
Koningskos uit die see.
Ná dié lekker bly en eet was
dit tyd om op te pak en is ons terug oor
dieselfde pas na Lubango waar ons brandstof
wou kry, maar daar was nie 'n druppel in
dié stad nie. So 40 kilometer daarvandaan
het ons darem petroltenks volgemaak.
Toe was dit weer die slaggatpad en 'n asemrowende
roete vanaf Cahama. Derhonderde kremetartbome
het langs die pad gestaan - ons monde het
oopgehang oor soveel prag! En daar's water
langs die pad met die mooiste waterlelies,
kilometers aaneen.
Ons het twee nagte in die wildernis gekamp
op pragtige plekke en toe 'n mooi pad na
N'Giva/Ondjiva gevat. Dis 'n pragtige, moderne
dorp.
Toe grenspos toe. Dit het drie uur geduur
voordat ons in Namibië was. Elke tas
en elke houer en elke slaaprol moes afgehaal
en deursoek word. Die passasiers moes deur
paspoortbeheer gaan en die bestuurders moes
alleen afpak.
Die burokrasie ten spyt, het jy soveel mooi
om te onthou. Tog is jy net bly om by die
huis te kan kom.
Marié Smit, Kaapstad
Wie
kan help?
Ek het in Junie 2007 in Bali gaan ontspan.
Oral is pragtige standbeelde wat "rokkies"
aan het.Ek het rondgevra onder vriende en
kollegas wat vantevore daar vakansie gehou
het en hulle het nie die stand-beelde met
klere aan gesien nie.
Kan iemand my dalk sê waarom die standbeelde
bedek was?
Dankie vir die interessante leesstof in
Mooiloop. Dis hoeka Jazz Kuschke se Bielie
bielie Bali-artikel (Desember 2006) wat
my lus gemaak het om ook soontoe te gaan.
Ek het gelees en laat waai.
Roulé le Roux, Milnerton
Doendinge - Stanford vier sy 150ste
verjaardag
Stanford, een van die Wes-Kaap se bekoorlikste
en bes bewaarde dorpies, vier sy 150ste
verjaardag vanaf 5 tot 7 Oktober 2007.
Tydens die feesvieringe is daar geleentheid
vir Stanford se besoekers om die Spookhuis
te besigtig op Saterdag 6 Oktober vanaf
11:30 tot 12:30.
'n Werkwinkel oor taai tameletjies word
ook Saterdag vanaf 14:00 aangebied. Onderwerpe
sluit in hoe om 'n dorp se historiese karakter
teen die aanslag van ontwikkeling te beskerm
en die restourasie van ou geboue. Dit kos
R60 per persoon.
Ander doendinge sluit in 'n hondeskou, voëlverskrikkerkompetisie
en 'n klassieke-motoruitstalling. Daar is
ook 'n boeremark vir vars produkte en plaaslike
wyn kan geproe word.
Vir meer inligting, bel Bea Whittaker by
028 341 0430 of Irene Thomlinson by 028
341 0048, of besoek www.stanford.co.za.
Doendinge - Wellington ooptuine-naweek in
Oktober
Die Wellington Tuinbouklub stel op Vrydag
12 Oktober en Saterdag 13 Oktober 2007 vier
dorpstuine en een plaastuin oop vir die
publiek.
Twee van die dorpstuine is vir die eerste
keer oop en een van die dorpstuine en plaastuin
was ses jaar gelede oop. Die ander dorpstuin
is gereeld oop en was ook al op Kyknet se
Tuinpaleis.
In een van die tuine sal 'n teetuin met
tee, koffie, vrugtesap en versnaperings
wees. Die marktafel en stalletjies met vars
produkte, konfyte, brode, koekies, saailinge,
plante en nog hope winskopies is ook daar.
Wellington is 70 kilometer vanaf Kaapstad.
Neem die R44-afrit vanaf die N1en kom geniet
die dag saam met ons.
Liefdadigheidsorganisasies op Wellington
deel in die winste.
Datum: 12 Oktober en 13 Oktober.
Tyd: 10:00 tot 16:30 (daagliks)
Toegang: R30 insluitende al die tuine;
onder 12's gratis.
Kaartjies: vooruit beskikbaar by
Basson Skoene, 26 Kerkstraat (021 864 1362)
of voor Wellington Museum op oop dae. Geen
kaartjies is by die tuine te koop nie. Die
Museum is aan die onder kant van Kerkstraat
links, skuins oorkant die Shell garage op
regter kant.
Vir meer inligting oor kaartjies bel Heather
Grewar by 021 873 2001 of Marita Naudé
by 021 873 6107. Vir roete-navrae die oop
dae bel Liekie Neethling 083 669 5768
|