Ramsay, Son & Parker (Pty) Ltd

Foto: Mariska Kriek

 

 
 TUISBLAD
 NUUTSTE UITGAWE
 VAN DIE REDAKTEUR
 BOSSTORIES
 GROEN WENKE
 RADIO LANGPAD
 CHRIS BARNARD
 DOENDINGE
 BLOGS
 KOMPETISIES
 JULLE FOTO'S
 KONTAK
 SKAKELS
 SKERMBEELDE
 
 


 
Bosstories
Bosstories Briewe, reisverslae, nuusflitse en saakmaakstories

September 2007

Ver in die ou Kalahari
Die Kalahari is 'n wêreld waar jy twee keer huil - die dag as jy daar aankom en die dag as jy moet ry.

Daar is 'n aardsheid wat jy nêrens anders kry nie. Ek onthou my bekendstelling aan die Kalahari. Dit was in Oktober 1994.

Ek het gedink (en gehoor) daar is net 'n geroeste sinkplaat tussen dié plek en die hel, maar kort voor lank het ek my hart verloor.

Ek het hom verloor daar waar 'n stofstorm oor die kaal vlaktes hardloop soos 'n wegholtrein sonder spore. Daar waar jy jou toekoms en verlede oor die vlaktes, heuwels, berge en koppies kan sien kom en gaan.

'n Storie in die volksmond is dat die Here en die duiwel kaartgespeel het met dié stuk aarde as die wenner se prys. Die duiwel het gewen en aan die Here gesê: "Vat dit maar, daar gaan in elk geval niks aan nie."

Ek het al die sonopkoms gemeet. Een minuut 37 sekondes vandat hy sy strepie op die horison wys tot die son in volle glorie die nag verdryf en aankondig dat hy vir die volgende 12 uur die bepaler van beweging is.

Dan sak hy bloedrooi soos 'n gewonde kryger weg.

Die verandering in die omgewing is soms skaars opmerklik, soms is dit van "epidermiese proporsies".

Maar tussendeur die woedende donderstorms, windverwaaide dae en dorre woestynweer is die oorheersende beitel in die vorming, uitwissing en herskepping van die natuur die teenwoordigheid van reën en wind - of die wegbly daarvan.

In die Kalahari kry jy vier seisoene in een dag. Jy staan op en kry koud.

Wanneer die middaguur aanbreek, wil jy dood van die hitte.

Ewe skielik steek 'n herfswindjie op wat jou afkoel, maar wat ook waarsku dat iets op pad is.

Stadig word wolke nadergewaai, die eerstes is maar so groot soos 'n man se hand, en dan pak die kobaltblou lug donker toe.

Kort voor lank breek 'n tipiese Kalahari-donderstorm oor die vlaktes uit om net so gou weer op te klaar.

Skielik verskyn 'n kiewiet, gompou, tarentaal, grysvalk, Kaapse geelogie, patrys of 'n sekretarisvoël op jou pad.

Dan sal 'n slang, likkewaan, ystervark, duiker, bakoorjakkals of 'n skerpioen iewers deur die dag weer jou pad na iewers anders kruis.

Wie kon nog ooit die kordaat soldaatfiguur van 'n stokstertmeerkat weerstaan?

Die donker word geken aan die weemoedige geklaag 'n naguiltjie op 'n telefoonpaal en die bloedstollende roep van 'n jakkals onder die volmaan.

Deur dié wêreld het David Livingstone (hy het immers sy bekende reis deur Afrika op Kuruman begin) en Robert en Mary Moffat beweeg en hul wortels in die grond gegrawe.

Mense ry dikwels deur sekere streke van ons land en vra hulself af hoe enige persoon op 'n plek soos die Kalahari kan oorleef.

Vir daardie mense nooi ons hartlik uit. Kom, kom kuier by ons. Kom bly by ons en ervaar die Kalahari.

So terloops, ek het nie net my hart op die natuurskoon verloor nie; ek het ook my vrou daar ontmoet.

Sien julle binnekort.

Stephan Henrico, Olifantshoek

Snorkel vir beginners
Ons het onlangs 'n wonderlike vakansie by Barra de Praia naby Inhambane in Mosambiek gehad. Dit was 'n vakansie van eerstes, onder meer die eerste keer dat ons gaan snorkel het. Ná 'n effense gesukkel het ek reggekom met die asemhaling, en het begin om myself in die helderskoon water te geniet. My vrou, Doreen, was egter minder gelukkig en moes kortkort 'n mondvol seewater uitproes. Ek moet toegee, sy het nie opgegee nie en uiteindelik in sowat vyf sentimeter water gesnorkel. Die gesoute snorkelaars in die geselskap het maar uit beleefdheid anderkant toe gekyk. Daardie aand om die braaivleisvuur was die nuwe snorkeltegniek die hoofonderwerp van bespreking.

Peter Thomas, Bracken Gardens

Drink op roofvoëls se gesondheid
Visarende en ander roofvoëls wat in die Breëriviervallei en omliggende omgewing voorkom, kan die lewe van voor af geniet as die Breërivier-visarendprojek daarin slaag om omgewingsvriendelike boerdery daar te bevorder.

Dié navorsingprojek, wat deur die bewaringsorganisasie Birds of Prey Working Group bestuur word, gaan 'n besoedelingsprofiel vir die Breërivier saamstel om vas te stel hoe dié voëls onder meer deur die konsentrasie van plaagdoders en die watergehalte beïnvloed word.

André Botha, bestuurder van die Birds of Prey Working Group by die Endangered Wildlife Trust, sê die Breëriviervallei is 'n intens bewerkte landbougebied en 'n groot verskeidenheid van plaagdoders word gebruik.

"Roofdiere wat vis en voëls eet, is veral vatbaar vir chemiese besoedeling," sê André.

Om seker te maak dit gaan klopdisselboom met hul gesondheid borg Flight of the Fish Eagle-brandewyn die projek vir die volgende drie jaar.

Angola - pragtige, interessante, verwaarloosde land
Ek het met groot belangstelling Mooiloop se hoofstorie oor Angola in die Augustus 2007-uitgawe gelees, en kon nie die versoeking weerstaan om van óns reis daarheen te vertel nie.

Op ons reis na Angola se drie suidelikste provinsies, Namibe, Huila en Cunene, het ons groep van 15 ná die aanvanklike gesloer by die grenspos net die avontuur van dié land voor ons gehad.

Ons sou boslangs teen die Kunenerivier tot by die mond ry, dan kuslangs na Tombua, Namibe, Lubango, Cahama, Ondjiva en dan oor die grens deur Oshikango terugkom. Die dorpies waardeur ons gery het, is erg verwaarloos.

Orals staan mooi geboue uit die Portugese tyd, maar hulle word nie in stand gehou nie. Die landelike gebied is pragtig en rustig; kinders sit onder bome en doen skoolwerk, ander sit in takgeboutjies wat as skool dien, maar almal is deurgaans vriendelik.

Ons het later die mooi natuur agtergelaat en die dik rooi streep van die hoofpad op die padkaart gevolg. By Cahama kom ons toe op dié hoofpad - nie een van julle het al ooit so iets beleef nie!

Ja, ons ken plaaspaaie en slaggate, maar nie 'n pad wat uit gate met net teerblertsies hier en daar bestaan nie. Die bestuurders het versigtig gery om af en toe 'n bietjie teer raak te ry. Gelukkig is daar nie baie verkeer nie en het dit het nie veel saak gemaak of ons nou links of regs voortfoeter nie.

Dit duur ure - ons ry teen 20 tot 30 kilometer per uur aan sowat 200 kilometer. Dis dus te verstane dat ons daagliks ure lank moes ry om êrens te kom. Gelukkig was die indeling in die voertuie sodanig dat dit al hoe geselliger geword het.

In Lubango is daar pragtige ou geboue wat heeltemal of half vernietig is en duisende kleihuisies met sinkdakke met klippe bo-op. En tussen alles is daar honderde netjiese blou en wit taxi's.

Die Portugees by die netjiese kampplek vertel dat hulle net een uur per dag elektrisiteit het. Sommige plekke kry twee uur, maar dis selde. Hoe nou gemaak? Almal het maar kragopwekkers om dinge aan die gang te hou.

Volgens hom het die Coca-Cola-fabriek daar verlede jaar die goue prys vir die beste produk gekry omdat die water so besonder goed is.

Die volgende oggend het ons gids ons na twee besienswaardighede in Lubango geneem.

Die een op 'n pragtige bergpad deur 'n lieflike omgewing waar die oorblyfsels van eertydse Portugese plase op die berghange verwaarloos staan.

Dié plek staan bekend as die Gate van Lubangoen en dit spreek van tragedie: gedurende die Grensoorlog het Swapo 'n kamp bo-op die berg gehad. Hulle het Ovambo's ondervra en as hulle nie kon of wou antwoord nie, is hulle van die hoogste kranse afgegooi. Mense was al onder en kan nog van die beendere sien.

Aan die ander kant van die stad, ook op 'n hoë berg, staan 'n Christusbeeld kolossaal en indrukwekkend.

Sowat nege kilometer vanaf Lubango kom ons by Humpata waar die Dorsland-trekkers hulle in 1874/75 gaan vestig het. Daar is nog oorblyfsels van die nedersetting en selfs ou vrugtebome staan nog. Van die aartappelboere saam met ons het die grond bevoel en gesê die Trekkers het die beste plek uitgesoek.

Daarna durf ons die Sierra de Lebapas aan. Dis 15 kilometer lank en daal 1 000 meter af kus toe. Ek het beslis nie al die passe ter wêreld gesien nie, maar in my lewe het ek nog nie so iets in Suid-Afrika of Europa teëgekom nie.

Die landskap is interessant en die teerpad kookwater. Ons ry eers oor die Rio Gerole - 'n groot rivier - en dan kom die welwitschias aan die beurt - honderde van hulle. By die see aangekom het ons kamp ingerig vir twee dae.

Dit was twee heerlike dae van mossels pluk en oesters uithaal. Vars vis in foelie met kruie en wyn bedruip en dan in die kole gedruk. Smullekker kabeljou in 'n pan gebak. Koningskos uit die see.

Ná dié lekker bly en eet was dit tyd om op te pak en is ons terug oor dieselfde pas na Lubango waar ons brandstof wou kry, maar daar was nie 'n druppel in dié stad nie. So 40 kilometer daarvandaan het ons darem petroltenks volgemaak.

Toe was dit weer die slaggatpad en 'n asemrowende roete vanaf Cahama. Derhonderde kremetartbome het langs die pad gestaan - ons monde het oopgehang oor soveel prag! En daar's water langs die pad met die mooiste waterlelies, kilometers aaneen.

Ons het twee nagte in die wildernis gekamp op pragtige plekke en toe 'n mooi pad na N'Giva/Ondjiva gevat. Dis 'n pragtige, moderne dorp.

Toe grenspos toe. Dit het drie uur geduur voordat ons in Namibië was. Elke tas en elke houer en elke slaaprol moes afgehaal en deursoek word. Die passasiers moes deur paspoortbeheer gaan en die bestuurders moes alleen afpak.

Die burokrasie ten spyt, het jy soveel mooi om te onthou. Tog is jy net bly om by die huis te kan kom.

Marié Smit, Kaapstad

Wie kan help?
Ek het in Junie 2007 in Bali gaan ontspan. Oral is pragtige standbeelde wat "rokkies" aan het.Ek het rondgevra onder vriende en kollegas wat vantevore daar vakansie gehou het en hulle het nie die stand-beelde met klere aan gesien nie.

Kan iemand my dalk sê waarom die standbeelde bedek was?

Dankie vir die interessante leesstof in Mooiloop. Dis hoeka Jazz Kuschke se Bielie bielie Bali-artikel (Desember 2006) wat my lus gemaak het om ook soontoe te gaan.

Ek het gelees en laat waai.

Roulé le Roux, Milnerton

Doendinge - Stanford vier sy 150ste verjaardag
Stanford, een van die Wes-Kaap se bekoorlikste en bes bewaarde dorpies, vier sy 150ste verjaardag vanaf 5 tot 7 Oktober 2007.

Tydens die feesvieringe is daar geleentheid vir Stanford se besoekers om die Spookhuis te besigtig op Saterdag 6 Oktober vanaf 11:30 tot 12:30.

'n Werkwinkel oor taai tameletjies word ook Saterdag vanaf 14:00 aangebied. Onderwerpe sluit in hoe om 'n dorp se historiese karakter teen die aanslag van ontwikkeling te beskerm en die restourasie van ou geboue. Dit kos R60 per persoon.

Ander doendinge sluit in 'n hondeskou, voëlverskrikkerkompetisie en 'n klassieke-motoruitstalling. Daar is ook 'n boeremark vir vars produkte en plaaslike wyn kan geproe word.

Vir meer inligting, bel Bea Whittaker by 028 341 0430 of Irene Thomlinson by 028 341 0048, of besoek www.stanford.co.za.

Doendinge - Wellington ooptuine-naweek in Oktober

Die Wellington Tuinbouklub stel op Vrydag 12 Oktober en Saterdag 13 Oktober 2007 vier dorpstuine en een plaastuin oop vir die publiek.

Twee van die dorpstuine is vir die eerste keer oop en een van die dorpstuine en plaastuin was ses jaar gelede oop. Die ander dorpstuin is gereeld oop en was ook al op Kyknet se Tuinpaleis.

In een van die tuine sal 'n teetuin met tee, koffie, vrugtesap en versnaperings wees. Die marktafel en stalletjies met vars produkte, konfyte, brode, koekies, saailinge, plante en nog hope winskopies is ook daar.

Wellington is 70 kilometer vanaf Kaapstad. Neem die R44-afrit vanaf die N1en kom geniet die dag saam met ons.

Liefdadigheidsorganisasies op Wellington deel in die winste.

Datum: 12 Oktober en 13 Oktober.

Tyd: 10:00 tot 16:30 (daagliks)

Toegang: R30 insluitende al die tuine; onder 12's gratis.

Kaartjies: vooruit beskikbaar by Basson Skoene, 26 Kerkstraat (021 864 1362) of voor Wellington Museum op oop dae. Geen kaartjies is by die tuine te koop nie. Die Museum is aan die onder kant van Kerkstraat links, skuins oorkant die Shell garage op regter kant.

Vir meer inligting oor kaartjies bel Heather Grewar by 021 873 2001 of Marita Naudé by 021 873 6107. Vir roete-navrae die oop dae bel Liekie Neethling 083 669 5768


 

 

footer