|
Bosstories
Briewe, reisverslae, nuusflitse en saakmaakstories
Oktober 2008
Olyfkopwewer
Ek
en 'n paar vriende het in Junie 2008 naby
Inhambane, Mosambiek, gaan skubaduik, maar
gure weer het ons uit die water gehou. Net
daar en dan het ek my vriende oorreed om
saam met my die binneland in te vaar op
soek na een van Suider-Afrika se seldsaamste
voëls: die olyfkopwewer (Ploceus
olivaceiceps).
Vanaf Inhambane het ons in 'n suidelike
rigting gery en ná die dorp Inharrime
na die binneland (die bord wys Panda) afgedraai.
Die sandpad was in 'n goeie toestand en
dit was nie nodig om 4x4-modus te gebruik
nie.
Die habitat het vinnig verander vanaf uitheemse
kokospalms na moerasse omring deur grasveld,
doringveld/savanna, 'n pragtige groep inheemse
Borassus-palms en dan begin die Miombo-boomveld
oorheers deur Brachystegia spiciformis.
Ná nog 60 kilometer op die sandpad
was ons in die dorpie Panda en het links
gedraai by die enigste T-aansluiting.
Ek is al 19 jaar lank 'n voëlkyker
en weet presies waar om na die olyfkopwewer
te soek: 13,2 kilometer vanaf die T-aansluiting
het die veld verander na groter Brachystegia-bome
wat wat met oumansbaard (Usnea barbata)
bedek is en dáár het ons stilgehou
en voëlgroepe bestudeer.
Daar was onder meer mikstert-byvangers
(Dicrurus adsimilis), rooibekkakelaars
(Phoeniculus purpureus) en witborskatakoeroes
(Coracina pectoralis) en toe 'n olyfkopwewer-paartjie.
Ek het hulle vir sowat 'n uur bestudeer
en gesien hoe hulle insekte en klein spinnekoppe
eet. Hulle het baie aktief in dieselfde
boom rondbeweeg en oral tussen die takke
na kos gesoek. Dit was vir my die hoogtepunt
van my vakansie.
Die hartseer was om te sien hoe die habitat
besig is om sy laaste asem uit te blaas.
Bome word daagliks afgekap om 'n oopte te
skep sodat die mense daar kan intrek en
probeer boer. Ons het gehoor hoe takke afgesaag
word en gesien hoe dié bome dan per
trekker vervoer word. Dit word vir kosmaak
gebruik, tot houtskool verwerk en die groter
bome word 'n tafelblad of stoel of iets
dergliks.
En dit is nét in daardie area in
Mosambiek waar die olyfkopwewer voorkom.
Dit is die enigste plek suid van die Zambezirivier
waar hul broei (hulle gebruik die oumansbaard
om hul neste te bou) en na raming is daar
omtrent 100 pare in die Moimbo-boomveld.
'n Suid-Afrikaner en kranige voëlkyker,
Maans Booyens, het onlangs 'n konsessie
naby Panda bekom waar Miombo-habitat en
die olyfkopwewer voorkom. Hyliota-kamp is
net toeganklik deur vooraf reëlings
te tref - besoek www.birding.co.za of stuur
'n e-posboodskap aan Maans by maans@telkomsa.net.
Deur na die olyfkopwewers te gaan kyk en
ekotoerisme te ondersteun, kan ons dalk
'n verskil maak om die laaste stukkie habitat
te bewaar voor dié voëlspesie
ook nie meer in ons veldgidse verskyn nie.
'n Ander voorstel is om nie houtskool of
hout langs die pad te koop nie, want soos
dit tans lyk, het die voëls nie 'n
kans teen die mens nie.
Ehren Eksteen, Nelspruit
Kremetarte
Dankie
vir jul artikel in Mooiloop (Julie 2008)
oor die besonderse kremetartboom wat die
meeste natuurliefhebbers baie na aan die
hart lê. Ek het eiendom in die Soutpansberg
digby Waterpoort. Ek heg 'n foto hierby
aan van die grootste kremetart in die bergreeks.
Daar is verskeie feite bekend oor die reuse,
maar daar is ook besonderhede wat onbekend
is en nêrens nagevors kan word nie.
'n Paar hiervan is dat die bome se ouderdom
bepaal word op grond van hul koolstofinhoud
in die stam. Daar word gepraat van bome
tot 6 000 jaar oud. Is dit 'n feit?
Hoe vind die boom se bevrugting en voortplanting
plaas? Is dit waar dat jy 'n "manlike"
en "vroulike" boom kry?
'n Gemiddelde kremetart het tot 120 000
liter water in sy takke. Kremetarte groei
net op sekere breedtegrade.
Julle kan gerus die Soutpansberg-gebied
besoek. Die gebied tussen Waterpoort en
Vivo is al deur navorsers as die "golden
horseshoe" beskryf.
Groete
Thabu Bosman
Thabu, professor Braam van Wyk van Tukkies
sê die kremetart se blomme is tweeslagtig
- 'n boom se blomme het sowel manlike as
vroulike geslagsorgane. Daar is beslis nie
manlike en vroulike bome nie. Rupert Watson
skryf in The African Boabab dat daar
geen uitsluitsel oor kremetartbome se ouderdom
is nie, want koolstof-datering is te onbetroubaar
en jaarringe (as daar is) dui eerder op
nat seisoene as ouderdom in jare. Nog 'n
bron sê 'n boom met 'n deursnit van
sewe meter was maar net 600 jaar oud. Alle
aanduidings is dat 1 000 jaar die maksimum
ouderdom kan wees.
Kramatte
Die
artikel oor die kramatte van die Kaap (Mooiloop,
Augustus 2008) het my hartsnare diep geroer.
Ek het nie net 'n besondere sagte plekkie
vir die Kaapse Moslems nie, maar is ook
heeltemal verslaaf aan Indonesië waar
- soos die skrywer, Naomi Bruwer, tereg
noem - hulle veral oorspronklik vandaan
kom.
Ek het twee jaar gelede na Banten (waar
ons woord Bantam vandaan kom!) gereis; nie
alleen die gebied waar sjeik Yusuf saam
met sy skoonpa teen die Nederlanders geveg
het nie, maar ook die einste area waar Multatuli
se Max Havelaar afgespeel het. Dit is 'n
pragtige, landelike deel van Java. Die mense
ploeg nog met karboue en van die koning
van Banten (eens seker die rykste en magtigste
ryk in die Ooste) se paleis is net 'n paar
verlate murasies oor.
Die mistiek wat die artikel rondom die
kramat-geloof uitwys, stap so reg uit die
oerwoude van Java
so julle het my
duisende kilometers weggevoer en my weer
laat besef hoe vreeslik afgeskeep hierdie
kulturele skakel met ons verlede is. Baie
dankie vir die sensitiwiteit waarmee julle
die skakel vir my verhelder het.
Sandra Troskie
Pramberg tot Tietiesbaai
'n
Jaar terug het ons - ek en my pelle Schalk
Grünewald en Russell Field - op 'n
road trip besluit nadat ons die rolprent
Wild Hogs gesien het. Net ons drie
op die oop pad met g'n verantwoordelikhede
behalwe om heelhuids tuis te kom nie.
Uiteindelik het die dag van ons vertrek
aangebreek, die Mercedes-woonbus het sy
rondtes gedoen en ons was op pad. Teen halfvyf
die middag het ons ons bestemming bereik:
Pramberg in die Tankwa-Karoo- Nasionale
Park. Ons was net betyds ingegrawe vir die
begin van die Stormers-wedstryd, met lekker
driejaaroud en Coke voor die draadloos aan't
luister hoe die Stormers teen die Hurricanes
moles maak. Soete oorwinning, man.
Vanuit die Tankwa het ons oor die Gannaga-pas
in die rigting van Middelpos gery. Die pas,
met uitkykpunte oral, is ongelooflik mooi,
maar ook 'n vreeslike uitdaging vir 'n woonbusbestuurder
met hoogtevrees.
Maandagoggend is ons vroeg vort via Middelpos
na Sutherland, want ons het 'n teleskooptoer
vir daardie aand bespreek. Maar net voor
ons die dorp inry, het ons met 'n pap wiel
gaan staan. Geluk was egter aan ons kant
en ons het vir David ontmoet wat omtrent
die eerste besigheid in Sutherland is soos
jy van die grondpad af kom. Hy is duidelik
daar vir 'n rede. Lekker hoenderpastei geëet
by Halley-sê-Komeet.
Nodeloos om te sê, ons het 'n baie
interessante tydjie by die teleskope deurgebring;
dit was net vrek koud.
Dinsdag het ons 'n lang pad voor ons gehad
- 'n ete-afspraak in Williston wat ons uit
die Kaap gereël het en ná 'n
lekker koppie koffie op Sutherland was die
grondpad via Fraserburg na Williston ons
voorland.
Tog het ons daar uitgekom en 'n lieflike
middagete met heilsame kookkos en uitbundige
gasvryheid geniet. Dit was net wat nodig
was vir die stamperige pad na Brandvlei,
waar ons by die Voorsorg-slaghuis vir Wynand
Windpomp ontmoet het. Hy is nie net slaghuis-eienaar
nie; hy is ook 'n kranige sanger met twee
CD's agter sy naam en daardie aand het ons
'n Windpomp-braai op Keimoes gehou.
Woensdag het ons 'n korter rydag gehad,
rigting die Augrabies- Nasionale Park. Dit
is werklik een van die mooiste reservate
in ons land en is baie goed toegerus en
netjies.
Vanaf Augrabies het ons die woonbus se neus
in die lang reguit rigting van Springbok
gedruk, maar die langpad pla mos nie as
daar goeie geselskap en lekker musiek is
nie.
Ons moes eers op Kakamas stop vir Imodium-pilletjies
(daar is ongelooflike toeval in die name),
want ons Kaapse ingewande is mos nie gewoond
aan die Noord-Kaapse water nie. Maar op
Springbok het ons kans gesien vir kos, hoewel
die gemoedere begin sak het - die draai
Kaap se kant toe was volgende op die roetebeplanning.
Die woonbus het homself baie goed gedra
(behalwe vir die flattie). Van die
omtrent 1 500 kilometer was seker 600 kilometer
grondpad, maar tussen Kamieskroon en Garies
het die spreekwoordelike pô-pô
die fên geslaan. Op 'n nat-nuwe teerpad
het 'n klippie opgespring en die "slaapkamer"-venster
uitgeslaan en ons was genoodsaak om nood-herstelwerk
by ons Strandfontein-kampplek te doen.
Van daar het die pad gelei na Lambertsbaai
en St. Helenabaai voor ons in Tietiesbaai
gaan kamp opslaan en die laaste aand afgesluit
het met hamburgers op die kole en 'n driejaaroud
en Coke in die glas. Wat 'n kombinasie(?)!
Die week het definitief vriendskappe verstewig
en selfs die vrouens het ons baie gemis.
Dit was een van daai reise wat jou vir 'n
baie lang tyd sal bybly.
Manus Minnie
Soet en seer van Pomene
Toe
die Berea met sy vrag suiker (die soet)
ongeveer 50 jaar gelede tydens stormweer
by Pomene, Mosambiek, gestrand het (die
seer), het dié gebeurtenis as't ware
'n era van kontras - van soet en seer -
vir die mense van Pomene ingelui.
Tussen Masinga en Pomene kronkel die sowat
60 kilometer lange grondpad oor heuwels,
deur digte plantegroei, sand en erosieslote
totdat jy ná meer as twee uur met
'n seer rug jou bestemming bereik. In Pomene
aangekom, oorskadu die soet van die natuurskoon
egter baie gou die seer van die stamperige
rit. En vir die volgende paar dae bly soet
en seer onlosmaaklik deel van die unieke
ritme en hartklop van dié plek.
Aan die een kant is daar die bykans onbeskryflike
natuurskoon van Pomene. Die lowergroen plantegroei,
ryke voëlverskeidenheid, uitgestrekte
wit strande, manjifieke rotsformasies, waterskilpaaie,
dolfyne en helder strandmere vloei saam
in 'n natuurlike kunswerk wat vinnig die
harmonie in die besoeker se hart herstel.
Aan die ander kant is die spore van vernietiging
wat Mosambiek se bloedige burgeroorlog van
meer as 20 jaar gelaat het, duidelik sigbaar.
Gedurende die 1970's het hewige gevegte
tussen Renamo en Frelimo in dié eens
rustige gebied uitgebreek. Die Portugese
eienaars van die Ou Hotel (soos die oorblyfsels
van die hotel wat in die 1960's deur Portugese
immigrante gebou is vandag bekend staan)
was onder diegene wat hul aardse besittings
net so agtergelaat het om die land binne
24 uur te verlaat.
Tot en met die aanbreek van die burgeroorlog
was die Ou Hotel die onbetwiste juweel van
Pomene en 'n idilliese vakansiebestemming
vir diegene wat kans gesien het om die lang
afstand en slegte paaie daarheen aan te
durf. Sedertdien is die hotel geplunder
en gereduseer tot 'n onaanskoulike bouval.
Tog is dit steeds duidelik dat dié
hotel, met sy skouspelagtige uitsig oor
die baai van Pomene, talle vakansiegangers
tydens sy goue era moes bekoor het.
Daar is nou twee lodges op Pomene wat gerieflike
(selfs luukse) verblyf aan die toenemende
aantal Suid-Afrikaners wat die plek besoek,
bied.
Vanweë sy hoë jaarlikse reënval,
gematigde klimaat en vrugbare landbougrond
het die gebied enorme landboupotensiaal.
Tog is die plaaslike inwoners al vir dekades
in 'n armoede-spiraal vasgevang en kon hulle
nog nie daaruit ontsnap nie - nog 'n kontras
wat die besoeker opval.
Vis is die plaaslike inwoners se vernaamste
proteïenbron. Hul dieet word aangevul
deur neute, piesangs, papajas, maniok (kasawas)
en aartappels wat in die gebied verbou word.
Bestaansboerdery is aan die orde van die
dag en geen surplusprodukte word gekweek
wat van die hand gesit kan word nie. Van
die inwoners genereer 'n karige inkomste
deur aandenkings uit hout te maak en dit
aan toeriste te verkoop, terwyl ander die
sowat 40 vakansiehuise oppas.
Die inwoners woon in eenvoudige huise wat
van modder, boomtakke en riet gebou word.
Lopende water, elektrisiteit, behoorlike
mediese sorg, winkels en telefoon- en selfoonverbinding
is uiteraard nie beskikbaar nie.
Ten spyte van - of dalk juis deels weens
- die gebrek aan bogenoemde geriewe is 'n
besoek aan Pomene 'n unieke belewenis.
Dis 'n ware mekka vir die hengelaar, branderryer,
voëlkyker asook vir diegene wat die
rus, vrede en ongerepte natuurskoon wil
inadem ten einde hul batterye behoorlik
te laai.
Die seer van die lang rit na Pomene vervaag
gou voor die soet wat dié taamlik
onbekende Afrika-juweel die besoeker bied.
Johan Schoonraad
Bamboeskoek - kinkel in die kabel
Jy
maak die hele week of jy nie die weervoorspelling
hoor nie: "Swaar reën in die Oos-Kaapse
berge en sneeu teen Sondag."
Ons toerleier, Schalk Burger, se haarfyn
uitgewerkte plan is twee nagte in Bamboeshoek,
drie nagte in Ferndale, wat die Ferndale-,
Wilder Ride- en Difflock Alley-roetes insluit,
en dan vier salige dae in Hogsback. Alles
in die Oos-Kaapse berge.
Jy skarrel verwoed om jou lessenaar skoon
en doenlysies teen die yskas, badkamerkas
en spieël by die telefoon afgetik te
kry. Vrydagoggend, opstaantyd met hoenderkraai,
finale inpaktyd, vertrektyd!
By die afgespreekte rendezvous-punt staan
die manne al hande in die sakke lekker in
hul broederlike bondeltjie en brag-praatjies
praat en maak of hulle dit nie eers sien
nie. Dis nou dat dit katte en honde reën.
Die vrouens loer onderlangs na die wolke
en dan met 'n onmiskenbare ouens-hier-kom-nonsens-kyk
na mekaar. Elgru Burger en Drienie Vorster
stuur vir mekaar sulke wenkbrouboodskappe,
maar niemand het 'n benul van wat in hul
koppe broei nie. Uiteindelik vertrek die
konvooi, soos motorbote, mooi agtermekaar
in die voorste ou se glipstroom. Jy sien
net water spat deur Reddersburg en Smithfield
en Paul Roux. In Aliwal spat dit éérs.
Schalk wag al vir ons in Queenstown. Die
gewone oor en weer radio-kletsery is ietwat
gedemp.
"Hallo julle." Dis Elgru, koeltjies.
"Schalk het laat weet dis onmoontlik
om in Bamboeshoek te gaan kamp. Die paaie
is in elk geval toe. Maar toemaar, ons druk
deur Keimond toe. Issit oukei met julle?"
Drienie en Elgru het alles al uitgeklaar.
Die konvooi mik na Keimond waar die Burgers
én die Vorsters strandhuise het.
Die skoonmakers is gereël, die vlermuismis
uitgevee en slaapplekke toegeken. Ons gaan
kamp in twee strandhuise. Koebaai Bamboeshoek,
hallo Keimond.
Net so voor skemer roei ons Keimond in,
skrop tussen die koes vir die reën
nes en gou draai 'n lekker braairokie dapper
by die nat skoorsteen van die Vorsters uit.
Saterdag is waterspatnat. Skemer-aand beset
ons 'n restaurant en gou gaan dit baie beter.
Soos wat die waterpassies van die wynbottels
sak, gaan dit al hoe joliger. Man, maar
die Bamboeshoek-kamp in Keimond is 'n bielie-lekker
plek. Arme Ronel Meyer lê die volgende
dag half vrywillig saam met haar lewer in
die kooi.
Sondagoggend, droewe dag, bring Lettie
Zondach van die huis langsaan grootoog die
treurige tyding: "Schalk is hospitaal
toe laasnag, Neels (Meyer) en Elgru het
hom in die gietende reën weggebring.
Hy't blaasobstruksie. Foeitog, dis mos vreeslik
seer. My geliefde het mos ook eenkeer so
'n ding oorgekom en toe sê 'n vrou
ons moet 'n groot ui in ringe sny en in
'n wyebek-bottel sit en kookwater daaroor
gooi en
h'm
jy weet wat (of
wie) dan in die bottel laat afhang. Haai,
dit was sommer net woerts, toe loop sy watertjies
weer té mooi."
Dis net genade dat ons toe nie in die Bamboeshoek
se berge sit nie. Vir Louis beteken so 'n
storie mos nou net een ding: hy gryp na
sy pen en tekenpapier en Schalk en uie-ringe
en jy weet wie kry 'n hele nuwe lewensbetekenis.
Hy karikatuur al die droefenis uit Schalk
se smartlikheid. Ons bring die res van die
Sondag deur in 'n bykans permanente toestand
van spasmodiese gelag. Veral nadat Schalk,
met die hulp van 'n behendige uroloog wat
gou weer die stukkie sensitiewe waterwerke
aan die gang gekry het, so teen laatmiddag
- weliswaar 'n bietjie vaal om die kiewe
- gelukkig weer tuis is.
Uiteindelik wen die Afrikason teen Maandag
die stryd teen die wolke. Toe gebruik ons
Keimond van 'n kant af op. Die res van ons
kuier deur Morganbaai, Haga Haga, Thomas
River Village naby Cathcart en uiteindelik
heerlike Hogsback toe, is 'n lang, uie-gegeurde
storie vir 'n ander dag.
Dankie vader vir vriende, vir veilige reis
en vir die heerlike sielsbatterye herlaai
van hierdie onvergeetlike Bamboeskloof-trip.
En dit ten spyte van (of is dit te danke
aan?) swaar reën in die Oos-Kaapse
berge.
Ann Hiemstra
Onderdorp is bobaas
Partykeer is die enigste goeie ding van
'n eetervaring die storie wat 'n mens agterna
kan vertel. Dan weer, as jy die waarskuwingstekens
ignoreer, moet jy seker nie te veel kla
nie.
In die skoolvakansie het ek en my gesin
die langpad van die Kaap na Mpumalanga aangepak
om by vriende te gaan kuier. Ons het in
die omgewing rondgery en Pelgrimsrus was
een van die plekke wat ons wou besoek.
Toe dit tyd raak vir middagete besluit
ons ons wil nie iets eksoties hê nie.
Net iets ligs wat vinnig voorberei kan word.
Ek sal maar net sê ons het 'n eetplek
in die bodorp naby die Royal-hotel gekies.
Die gevaarligte het vinnig geflikker. Daar
was net een kelnerin. Sy was egter vriendelik
en het gou kom hoor wat ons wil drink. My
dogter kon nie 'n melkskommel kry nie, want
die restaurant het nie roomys gehad nie.
My vrou kon nie wit wyn kry nie, want daar
was net rooi wyn. Daar was ook nie Savannah
nie, maar gelukkig het die vriendelike kelnerin
aangebied om wit wyn by die restaurant langsaan
te gaan haal. Ek kon wel nie 'n getapte
bier kry nie, maar daar was darem bier.
Toe my vrou later opmerk dat daar darem
heelparty dinge nie beskikbaar is nie, het
die kelnerin so ewe gesê: "Onthou,
dit is Pelgrimsrus."
Ek kon dit nie beter stel nie. Dis Pelgrimsrus!
Ons is Kapenaars wat moeite gedoen het om
op Pelgrimsrus uit te kom. Gaan luister
na die mense in die strate. Hulle praat
Duits, Frans en 'n paar tale wat ek nie
herken nie. Toeriste kom van heinde en ver.
As jy wil hê hulle moet hul geld by
jou bestee, moet jy seker maak jou diens
is onberispelik.
Ten spyte van die rits waarskuwings-tekens
bly ons sit. Ons wil nie ongeduldig wees
nie. Buitendien, hoeveel moeite kan dit
wees om een springbok-carpaccio en twee
forel-slaaie aanmekaar te slaan? Toe begin
ons wag. Kort-kort skarrel die kelnerin
met 'n bord kos na 'n ander tafel. Ons glase
word leër en die hongerpyne word erger.
Minstens 'n halfuur later wink ons die kelnerin
nader en vra hoe lank ons nog moet wag.
Sy sê sy sal in die kombuis gaan hoor
en kom vra ná 'n rukkie of ons sal
omgee om hoenderslaai pleks van forelslaai
te eet.
Ons het besluit genoeg is genoeg en vir
ons drinkgoed betaal. Met die loopslag het
ons vir haar gesê dis maklik die swakste
diens wat ons nóg in 'n eetplek gehad
het. Dit is nie haar skuld nie: sy is oulik
en gaaf, maar haar bestuurder is besonder
onbekwaam. Dit is toe wat sy sê: "Met
ontbyt het dit nog erger gegaan."
'n Mens ril by die blote gedagte. Wat was
toe alles op?
Gelukkig is daar ander eetplekke op Pelgrimsrus.
In die onderdorp was die diens flink en
die kos lekker. Soontoe sal ek weer gaan,
maar die eetplekke in die bodorp sien my
nie maklik weer nie.
Jan Bosman, Durbanville
'n Ware Botswana-storie
Kyk,
as 'n mens 'n 4x4 aanskaf, soek jy 'n geleentheid
om dit te gebruik en so het ek en my eggenoot,
Volla du Plessis, al wat 'n Mooiloop
en 4x4-tydskrif is bestudeer op soek na
'n sakpas-toer. Vir eers het ons 'n tentjie
geleen, al was hy so dun dat jy die man
op die maan daardeur kon sien.
\Met kaart op die skoot en ek, wat in my
eie dorpie met 'n 1 000 inwoners kan verdwaal,
wat navigator speel, draai ons die Cherokee
se neus in die rigting van Botswana en gou-gou
soen ons bande die teerpad.
Toe ons by die bymekaarkomplek aankom,
was dit 'n aangename-kennis-vir-Afrika voor
iets op die kole gegooi is.
Nou moet ek eers vertel: Volla is 'n platjie
en 'n regte pretsoeker. Ek het voor die
toer geweet dat ons mede-4x4-ryers in hul
spoor moet trap.
Dit gebeur toe sommer vroeg-vroeg op die
toer. Twee manne besluit om 'n stuk biltong
aan 'n rek in 'n boom op te hang om te sien
watter diere kom inspeksie hou. Ek weet
van g'n sout of water nie dat Volla alom
verkondig het hoe bang ek vir wilde diere
is en hoe ontsteld ek is oor die dun tent.
Nie lank nie, toe is dit "hoezit"!
Seker sewe hiënas het die reuk van
die koningskos gekry en nog voor ek my kop
so lekker knus op my kussing kon neersit,
spreek Ta die kamp toe met sy gehie-hie.
Kort voor lank val sy maters in en hulle
maak die vreeslikste koor hier neffens my
tent. Deur die tent lyk dinge nie goed nie;
oral is hoppende, springende, tjankende,
swaaiende hiënas. Einde ten laaste
kry die een die biltong van die rek af en
laat wiel die donkerte in met sy tjankende,
laggende maters agterna.
Die volgende nag besluit Volla om die manne
terug te kry vir sy slaaplose nag omdat
ek van toe af nagwag was.
Almal het rustig geword en hy besef die
natuur roep. Daarvoor het elke voertuig
'n slop-emmer met 'n deksel gekry, want
waar ons gekamp het, kan jy dit nie saans
buite waag nie. Volla besluit die emmer
is nie na sy sin nie en hy het genoeg mannemoed
om sy staan buite te loop staan. Almal se
noodemmers staan bo in hul daktente, onder
by hul trokkie-slaapnessies, of soos ons
s'n, eenkant in die verste hoek van die
tent.
Volla het gehoor gegee aan die natuur en
besluit toe om die twee manne met hul deftige
sleepwaens skrik te maak. Hy krap-krap teen
elk se bo-tentjie en skarrel vinnig ons
tent binne. Ek dog 'n gedierte het hom aan
die jaag en val amper flou van skrik.
Toe gaan 'n flitslig in een van die bo-tente
aan om te kyk wat dalk wil inkom. So tussen
sjuut... stil... luister, hoor ek die een
aan ons linkerkant roep: "O vrek, hy't
omgeval!" Vroeg die volgende oggend
hang al wat 'n kombers en matras is aan
al wat 'n moontlike boom is.
Met die oppak is die wasgoed bespuit met
al wat 'n lekkerruikding is terwyl sommige
dames waarskuwings uiter dat almal van nou
af versigtig moet wees.
Veel later kom ons by 'n drinkgat waar
23 leeus 'n jong olifant platgetrek en pas
aan hul aandete begin smul het. Ons het
so 'n kilometer van daar kamp opgeslaan,
lekker geëet en om die kampvuur geluister
hoe die leeus oor hul vangs baklei. Toe
kry Volla die blink gedagte om sy leeugeluide-CD
op die proef te stel. Hy dwaal so stil-stil
af en gaan speel die CD in ons voertuig.
Daar is dadelik stilte onder die groep,
ore wat luister, vingers voor lippe: "Haai,
daai leeus kom mos nou nader," is die
eerste opmerking.
Almal raak ná 'n ruk rustig, maar
nie lank daarna nie is leeu se kind nog
'n bietjie nader (altans, so klink dit omdat
Volla die volumeknoppie draai) ... nog 'n
bietjie nader totdat hulle besluit nou moet
ons liewer laertrek. Soos mes word voertuie
wat kan beweeg só geparkeer dat g'n
Zoeloe in Dingaan se tyd sou kon deurkom
nie. Dit is die vinnigste wat ek nóg
gesien het hoe 'n kamp in 'n laer verander.
Ná 'n ruk besluit die toerleier die
gevaar is definitief afgeweer en die leeus
het in 'n ander rigting beweeg.
Nog is dit het einde niet. 'n Samaritaan
wat besluit het ek kan in sy bo-tent slaap,
besluit om ons tent (met Volla binne-in)
aan te durf, en hang sy lantern aan 'n tak
sodat dit deur die nag lig kan gooi - ingeval
van gevaar en optrede daarteen. Die buurman
weet nie die lig moet bly brand nie en maak
die lantern dood.
So teen tweeuur in die nag skud die Samaritaan-Kapenaar
vir Volla wakker: "Hoorrrrr jy ons
prrrrrobleem. Hulle het die lig afgesprrrring,"
en hy beduie wild na buite. Volla rits die
deur versigtig en saggies oop en skrik hom
lam vir die bloedbesmeerde en vetgevrete
leeus om die tent. Ek glo Volla se hart
het aan sy ore se stiebeuel, hamer en aambeeld
geklop en dat die leeus dit kon hoor, want
leeu se kinders het by hul tent en Buurman
se slaapplekke verby beweeg.
Die volgende oggend was daar nie 'n plek
om die tent waar daar nie 'n leeuspoor was
nie. Dit het my liewe eggenoot so effens
tot stilte en soetwees gedwing, maar ook
nie vir
te lank nie.
Nou ja, wees gewaarsku... ligloop en wakker-slaap
as julle saam met my mansmens mooi loop.
Linda du Plessis, Bultfontein
Natuur-lik, Erik Holm
Wen 1 van 3 eksemplare van Erik Holm se
nuutste boek Natuur-lik. [Kliek
hier]
As
ekoloë realistiese wetenskaplikes en
die werklike groen groenes is, wie is dan
pienk groenes en rooi groenes? En waarom
word professor Erik Holm woedend elke keer
wanneer 'n krimineel as "erger as 'n
dier" beskryf word?
Het jy geweet vegetariërs pik bloot
op die mees weerlose lewende wesens wat
nie kan skree of weghol nie? Is diereregte-aktiviste
net ongelukkige en onvrolike mense wat ander
mense ewe ongelukkig wil maak?
Erik se nuwe boek, Natuur-lik, kyk
deur 'n bioloog se oë na die mensdom
se doen en late, en dít wat hy sien
sal lesers laat dink, nadink en lag omdat
sy blik op die lewe ander verrassende fasette
daarvan belig.
Die boek is 'n samevatting van Erik se
rubrieke wat die afgelope vier jaar in Beeld
verskyn het.
Uitgewer: Briza Publikasies, 021
329 3896, books@briza.co.za,
www.briza.co.za.
Prys: R95.
Word soogdier-slim met hersiene veldgids
Hierdie
nuwe uitgawe van Veldgids tot Soogdiere
van Suider-Afrika is uitvoerig hersien
om gebruikers te help om nie net die ikoniese
groter soogdiere uit te ken nie, maar ook
om te onderskei tussen die verstommende
verskeidenheid spesies wat op die oog af
eenders is.
Kleursleutels maak dit maklik om familiegroeperings
na te slaan, en die uitgebreide inleiding
help spesies in konteks plaas. Die teks
bevat die kenmerkende eienskappe van elke
land- en seesoogdier, insluitende tipiese
gedrag, voorkeurhabitat, kos en voortplanting.
Hierdie bygewerkte uitgawe, wat 350 spesiebeskrywings,
470 foto's en meer as 275 verspreidingskaarte
sowel as uitgesoekte mens-dier-groottevergelykings,
spoortekeninge en skedelfoto's bevat, vergroot
ons begrip van die subkontinent se soogdiere.
Sedert dit die eerste keer in 1988 op winkelrakke
verskyn het, het die Veldgids tot Soogdiere
van Suider-Afrika die gewildste soogdiergids
van die streek geword.
Uitgewer: Struik Uitgewers, info@struik.co.za,
www.struik.co.za.
Prys: R189,95.
Nuwe Bakkes-boek beskikbaar
Wen
1 eksemplaar van Johan Bakkes se boek, Norrevøk
(N56°04 O78°49). [Kliek
hier]
Johan Bakkes se nuutste bundel reisverhale,
Norrevøk (N56°04 O78°49),
is saamgestel uit sy avonture deur onder
meer China. Van die verhale het in Mooiloop
verskyn, maar heelwat stories sien nou vir
die eerste keer die lig. Die boek is beskikbaar
by boekwinkels landwyd vanaf Oktober 2008.
Uitgewer: NB Uitgewers, ebloemhof@nb.co.za,
www.nb.co.za.
Prys: R140.
- Lees die laaste van Johan se Reisjoernaal-stories
in vandeesmaand se Mooiloop.
|