Ramsay, Son & Parker (Pty) Ltd

Foto: Mariska Kriek

 

 
 TUISBLAD
 NUUTSTE UITGAWE
 VAN DIE REDAKTEUR
 BOSSTORIES
 GROEN WENKE
 RADIO LANGPAD
 CHRIS BARNARD
 DOENDINGE
 BLOGS
 KOMPETISIES
 JULLE FOTO'S
 KONTAK
 SKAKELS
 SKERMBEELDE
 
 


 
Bosstories
Bosstories Briewe, reisverslae, nuusflitse en saakmaakstories

Oktober 2007

Paindane-staptog in Mosambiek
Lenie Heystek het saam met vriende 'n nuwe vyfdag-staproete by Paindane, Mosambiek, "toetsbestuur". Sy het in een stuk teruggekeer na Suid-Afrika en lewer verslag daaroor.

Ken jy die gevoel as die wekker jou vroegmore wakker lui en voor jy jou oë kan oopmaak, dink jy: "Ek moet die padkos in die yskas onthou!" Ek het min geslaap, want die opwinding van die stapavontuur wat voorlê, die benoudheid vir die rompslomp by die grenspos en die onrus oor wat op die lang pad kan gebeur het die hele nag deur my gedagtes gespook.

Dis eers as ek my rugsak saam met die van my medestappers in die sleepwa prop en my sit in die voertuig kry dat ek ontspan. As ek die gerusstellende hobbel van my paspoort in my heupbelt vir die soveelste keer met my vingers voel, besluit ek: kom wat wil, nou vat ek alles net soos dit kom. Geniet gaan ek dit geniet.

Ons ontmoet die ander voertuig se mense net buite Pretoria en om 7:00 is ons fluks op pad na Nelspruit vanwaar ons die grens by Komatipoort wil oorsteek. Teen 11:00 is ons grootoog en met die hulp van 'n "runner" by die grenspos deur sonder enige voorval. Ek voel stilweg nogal trots op die vars stempels in my paspoort.

Die hoofweg na Maputu ry gemaklik en ons volg getrou die aanwysings om op die Xai Xai-pad na die noorde van Mosambiek te bly. Teen 15:00 is almal bly om by Casa Lisa, ons oornagstop, aan te kom; ons het die 600 kilometer speel-speel in agt ure afgelê.

Vroegoggend val ons weer in die pad en ons eerste stop vir brandstof is by Xai Xai. Ons meisies drink maar min water vanmore want die kanse om 'n "draai te loop" is skraal, en sou jy wel 'n skaflike geriefie kry, moet jy jou asem maar lank inhou en hogerig hurk. Anderkant Xai Xai word die pad drasties sleg vir die volgende 70 kilometer. Daar is min tyd vir rondkyk as die voertuig koes-koes tussen die slaggate en verbrokkelende padkante moet deurswoeg. Verder noord is die pad gelukkig weer mooi. Uiteindelik draai ons af op die rooi grondpad na Paindane en ek borrel van opwinding. Wie gaan die see eerste sien?

Teen 12:00 en 470 kilometer van Casa Lisa af val ons by die Paindane-restaurant in om 'n lafenissie te soek na die lang reis. Die restaurant is hoog bo-op 'n sandduin gebou en van die dek het jy 'n onverbeterlike 180°-uitsig oor die hele oord en die Indiese Oseaan.

Ons groep bestaan uit nege stappers wat hier is om die nuwe Paindane-staproete te evalueer. Voor ons lê vyf dae van stap (ongeveer 50 kilometer) en snorkel by verskeie riwwe en rotspoele. Daarom het ons benewens ons rugsakke ook snorkeltoerusting saamgebring.

Dag 1
Soos die res van die week is ons uit die vere voor dagbreek. Ons tyd is so gekies dat ons volmaan het. Laagwater is teen 11:43. Dit gee ons genoeg tyd om die sonopkoms met 'n koppie koffie op die stoep in te drink. Na 'n lekker groot ontbyt begin ons skarrel vir ons eerste snorkelervaring. So twee ure voor laagwater stap ons af strand toe, snorkels en duikbrille in die hand, om die 1,3 kilometer lange rif by Paindane te gaan verken. Vir van ons is dit 'n eerste snorkelervaring met die twyfelagtige troos dat daar vooraf in Suid-Afrika so 'n bietjie in 'n swembad geoefen is.

Die eerste angstigheid is egter gou vergete as ons by die wonder van tropiese visse en lewendige koraal begin saambondel. Die water is kristalhelder, badwaterwarm en rustig soos in 'n swembad. Behalwe vir een persoon is ons almal goed gepantser teen die son. Ons snorkel selfs met ons hoede op, tot groot vermaak van die plaaslike bevolking. Die uitsondering op die reël het later met 'n rooigebrande rug erken dat dit effens van 'n foutjie was. Teen 12:00 begin die gety draai en ons kies koers na die chalets vir middagete en om 'n welverdiende uiltjie te knip.

Ons het met die gids gereël om 'n 10 kilometer-sirkelroete na die dorpie Paindane en terug teen 15:00 aan te pak - dit sou dan koeler wees. Gelukkig is die kraanwater en plaaslike bier veilig om te drink en ons sluk liters daarvan weg. Die rustige omgewing met sy talle huisies van kokosneut-palmblare fassineer jou. Die mense leef direk van die land af en ons kan eerstehands kassawewortels proe, kokosneutmelk drink, mooi sien hoe kasjoeneute groei en aan die kasjoeneutvrug suig. Van die stappers het die plaaslike kokos- en kasjoeneutbier so geniet dat hulle ekstra gekoop het vir die res van die week.

Dag 2
Hierdie dag se 20 kilometer-stap begin die oggend met hoogwater op die sagte sand. Ons dra net dagpakke want ons bagasie word na Dongane aangery. Ek maak seker dat ek genoeg water saamdra. Teen 8:00 is ons reeds sopnat gesweet en ek besef dat 'n harde dag se stap voorlê. Sewe kilometer verder word Island Rock en sy rif sigbaar, maar die gety is nog te hoog en ons besluit om die volgende sewe kilometer na Legogo aan te pak. Teen 11:00 lê die Legogo-rif oop in die laagwater, maar dit is baie warm en ses van stappers besluit om verder saam met die voertuig te ry.

Drie van ons is vasberade om deur te druk. Ons eet gou middagete van soutbeskuitjies en kasies. 'n Mens kan nie lank stil sit nie; die son brand witwarm op ons neer en gou stoom ons voort op die laaste ses kilometer na Dongane. Dit is opvallend hoe rustig en vriendelik die Mosambiekers is. Hulle is gou om met 'n groot glimlag en twee hande in die lug te groet. Ons wil graag 'n geselsie aanknoop, maar moet tevrede wees met handgebare omdat ons nie Portugees magtig is nie.

Die hitte maak die stap moeilik, maar ons is verras met die pragtige rotspoele. Ons staan en kyk hoe 'n paling aas tussen rotsskeure. Die water is so helder dat ons die veelkleurige vissies kan dophou tussen rotse wat oortrek is met seeplante.

Groot is ons dankbaarheid as ons die dakke van Dongane sien. Ons strompel moeg en warm die lawende koelte van die chalets binne. My voete klop en ek sluk gulsig 'n glas water weg. Gesig- en harewas is hemels na die veeleisende stap en na 'n lekker stort, skoon droë klere en 'n middagslapie is ek reg om meer van die pragtige plek te sien.

Teen laatmiddag stap ons oor twee duine om die eerste blik te kry op die twee varswatermere aan die binnelandkant van Dongane. Dit is sterk skemer as ons terugkom by die chalets. Die maan kom op in 'n groot oranje bal en gooi gou 'n silwer baan oor die rustige see.

Dag 3
Dagbreek by Dongane is 'n heilige oomblik. Ek is dankbaar dat ons nie vandag verder stap nie, maar die tyd gaan gebruik om die mere en die rotspoele in die see te verken. Nadat ons "honderde" foto's van die sonsopkoms oor die see geneem het, stap ons na 'n klein meer, waar ons sommer met klere en al in die heerlike koel vars water gaan sit en kuier. Die meer is nege kilometer lank en word tot 35 meter diep. Na die lafenis durf ons die duin aan na die "wit huis", 'n landmerk op die kuslyn. Dis 'n verlate ou hotel met 'n pragtige 360°-uitsig oor die mere en die see. Ons neem "stitch"-foto's en ontdek dat hier 'n selfoonsein is. Nie lank nie en almal wat selfone het bel huis toe om die mense daar jaloers te maak op ons grootse stapervaring.

Snorkeltyd is later die oggend en die rotspoele van sowat 10 meter by ses meter en drie meter diep is deurtrek met seelewe. Dit voel of 'n mens deur 'n doolhof van tonnels swem. As jy nie verder kan kom nie, klim jy uit en gly in die volgende poel in om na vissies te soek wat jy nog nie voorheen gesien het nie.

Dag 4
Die 10 kilometer vanaf Dongane na die boskamp word langs die groter varswatermeer, wat 39 kilometer lank is, gestap. Die groot kasjoeneutbome langs die pad is oortrek van ryp vrugte en die rustige prentjie word afgerond met 'n paar vissermanne in bootjies op die meer.

Die roete gaan deurentyd deur dig begroeide dele wat heelwat koeler is. Wanneer ons weer 'n slag teen 'n beboste duin uitstap, sien ons die oopte links van ons, en weet dis Tietiesbaai, ons kamp.

Ons is die eerste mense wat daar kamp. Die geriewe onder 'n lowergroen blaredak bestaan uit die absolute minimum. Die puttoilet is in 'n palmtakafskorting en baie laag, maar skoon en reukloos. Die vrag bagasie word teen die middel van die oggend afgelaai en ons slaan haastig tent op sodat ons kan gaan snorkel. Die rif is klein in vergelyking met die wat ons reeds verken het. Noord teen die kus op is daar ook mooi rotspoele, maar te gou vou die inkomende gety die juwele weer toe onder rustige golwe.

Ons ontdek die geraamte van 'n vistreiler, afgeëts in die sand. Die fotograwe onder ons gryp na hul kameras en neem fluks foto's. Orkaan Flavia het sy spoor van uitskot op die hoogwatermerk gelos. Dit het die manne se verbeelding gou gaande en 'n kunstige kasteel verrys uit die sand - 'n spanpoging. 'n Klompie van ons stap daarna meer toe om die sout van ons lywe af te spoel.

'n Kamp sonder vuur is soos dans sonder musiek, en vroegmiddag kuier ons al om 'n vuur wat gesellig knetter. Die ligte reëntjie wat teen skemer af en toe neersif kan nie die heerlike atmosfeer demp nie.

Dag 5
Die laaste dag stap ons die sewe kilometer seelangs terug na Dongane. Dis hoogwater en ons stap weer in sagte sand. Dit is genadiglik effens bewolk en gevolglik koeler. Waar die sonstrale plek-plek deur die wolke skyn word dit deur die golwe opgebreek in 'n kaleidoskoop van kleur.

Terug by Dongane se chalets stroop ons die yskas van enige iets kouds. Stilte daal op ons neer as ons besef ons tydjie in die paradys is besig om uit te loop. Die voertuie is teen 11:00 gereed om ons en ons bagasie na Paindane te neem. Ons ry met 'n sandpad tussen die talle palmblaar huisies en landerytjies deur en drink die unieke omgewing vir oulaas in.

Die stap word afgesluit met 'n hartlike ontvangs by Paindane waar ons vir aandete bederf word met matapa, 'n inheemse gereg van kassaweblare, kokosneutmelk, grondboontjies en steurgarnale wat saam met rys bedien word.

Aan alle goeie dinge is daar 'n einde en ons moet onsself wegskeur vir die terugtog na Suid-Afrika. Die laaste aandete by Casa Lisa is gesellig en ons weet almal: ons gaan die roete weer stap. Ons het nie genoeg gehad nie en die see lyk mos elke keer anders.

Ons evaluasie van die huidige Paindane-staproete:

  • Die roete is 'n heerlike belewenis in 'n omgewing wat vir die meeste Suid-Afrikaners onbekend is. Dit is veilig, ongerep en toeganklik, selfs al het jy nie 'n 4x4 nie.
  • Die snorkelgeleenthede is uniek en 'n wonderlike belewenis.
  • Dag 1een se sirkelroete in die landelike omgewing was interessant en almal het dit baie geniet.
  • Die 20 kilometer van dag 2twee is te lank, maar gaan in twee verdeel word deur 'n oorslaapplek 14 kilometer van Paindane te skep: net agter die duine by 'n binnelandse meer by Legogo.
  • Die rusdag by Dongane gaan vervang word met die ses kilometer stap van Legogo na Dongane.
  • Almal het die stap al langs die meer op dag vier baie geniet, maar daar kan meer van hierdie dag gemaak word, soos om die afstand na die "oog" van die meer per roeiboot af te lê en dan na Tietiesbaai se boskamp te stap.
  • Dit sou beter wees om nie nodig te hê om net vir een aand kamptoerusting van Suid-Afrika af saam te ry nie. Die boskamp by Tietiesbaai en Legogo gaan dus met 'n skuiling en matrasse toegerus word.
  • Dapper stappers kan op aanvaraag die hele roete met volle rugsakke aandurf vir die ware voetslaanervaring, sonder ondersteuning van die voertuie wat bagasie aanry.
  • Vir besprekings bel Theresa by 082 569 3436, e-pos paindane.sa@mweb.co.za
Pronkboekie oor vlerkslepers
Doktor Morné du Plessis, wat sedert 1 September vanjaar uitvoerende hoof van die Wêreldnatuurlewefonds (WWF) is, het verlede maand die boekie Pronkvere bekend gestel.

Morné was sedert 1996 hoof van die Percy Fitzpatrick-instituut aan die Universiteit van Kaapstad en staan landwyd as voëlkenner bekend. Hy het met die bekendstelling van die boek gesê dat hy met dié publikasie twee liefdes kombineer: die vir voëls en vir Afrikaans.

Sy taal en beskrywings sing saam met die geveerdes, veral dié wat graag pronk, waarvan hy in 'n geselstrant vertel. Só skryf hy byvoorbeeld oor die "krombekke" of skoorsteenveërs: "op kospatrollies in pas besproeide lande-rye aan die diens doen", of langs water waar hulle "in die sagte modderslik rondwoeker". En dan is hulle weer aan die soek na "ondergrondse slaptjips" soos erdwurms.

Leigh-Anne Wolfaardt het die mooi sketse gedoen en die versameling stories het eers in rubriekvorm in Beeld, Die Burger en Die Volksblad verskyn. Die voorblad is spesiaal.

Die boek is uitgegee deur Human & Rousseau en is by boekwinkels landwyd beskikbaar.

Quthing, die plek van drome
Die suidelikste deel van Lesotho is die laaste vertoefpunt van die Senqurivier en ook die laaste hoogtepunt van dié besondere bergkoningkryk. Ek bedoel dit ook letterlik, Lesotho is die land met die hoogste laagtepunt van 1 350 meter bo seevlak en is geleë in die Senquriviervallei. Quthing in Lesotho is 'n toerismeskat wat wag om ontgin te word.

Die Senquriviervallei en -ravyn is sowat 90 kilometer lank, op plekke tot 600 meter diep en bekoor in die lentemaande met die vlamrooi en oranje bloeiwyses van die bitteraalwyn (Aloe ferox). Op reis tussen Moyeni en Mount Moorosi stop ons om 'n paar foto's te neem van spierwit linne wat aan 'n wasgoeddraad hang. Duisende bitteraalwyne blom in die omtrek. Die kombinasie is 'n oogfees.

Die eg tradisionele dorpies met grasdakke, klipmure en blou deure leen hulle by uitstek tot 'n oneindige hoeveelheid foto's. Die inwoners vra wel soms 'n paar loti, maar dit hou seker die pot aan die kook en moedig entrepreneurskap aan.

Naby Moyeni is die ou grothuis en museum van D. F. Ellenberger, 'n sendeling van die Paris Evangelical Missionary Society wat in die 1860's daar kerk gehou het.

Die holkrans waarin sy huis gebou is, was eers die grot van Masitise, 'n kraalhoof van Moorosi, die Phuti-stamhoof waarmee Ellenberger bevriend geraak het.

Benewens Ellenberger se sendingwerk het hy 'n groot belangstelling in die rotskuns en paleontologie van die gebied gehad.

Teen die dak van sy grothuis sit daar wraggies nog 'n paar dinosaurusspore. Dit is ook die rede vir ons besoek aan die pragtige deel van ons vasteland. Ons wil 'n twee meter lange rotstekening van 'n eland in die Sebapalariviervallei van nader bekyk. Dié amper reusagtige tekening is skynbaar die derde grootste eland-tekening in Suid-Afrika. Moenie dat die bordjie na Ha Liphaphang jou bedrieg nie. Sebapala beteken nie verniet "moenie speel nie".

Dit is 'n aardige avontuur om die 4x4-pas van 40 kilometer tot daar uit te klim. Die pad is plek-plek weggespoel en net 'n paar meter breed. Ek weet nie hoe die taxi's dit regkry nie, maar by die steil kronkeltjies kry hul eers vooraf 'n lekker aanloop en maak dan die bult uit met die reserwes. Dit is 'n akrobatiese spul in die Sebapala.Op 'n stadium klim ek maar liewer uit en stap die pad self, want daar is geen relings teen die afgrond nie en die gids vertel ons so ewe van sy seun se ongeluk op dié pas nie te lank terug nie.

Naby 'n rivierkruising lê 'n gebreekte rotsblok wat onlangs van die berg afgerol het, so groot soos 'n seilskip, en ons doop dit summier die Sebapala-frigat. By die pragtige Ha Liphaphang-dorpie kan mens perdry tot by die tekeninge of verder stap saam met 'n gids. Daar is ook kampgeriewe.

'n Lekker Sotho-manier van groet is:

Die besoeker sê: "Dichomo" (beeste).
Die plaaslike inwoner sê: "Li manimani a tsona" (en al die kalwers) - "li" word uitgespreek as "di".
Die besoeker sê: "Ha de a te" (mag hul vermeerder).

Groete
Wim Wybenga, Clarens

Postberg se blommeprag
Duisende toeriste gaan jaarliks Namakwaland toe, maar hoeveel mense weet van Postberg, die private natuurreservaat wat deur SANParke bestuur word as deel van die Weskus Nasionale Park? Ons kon nie glo watter blommesee skuilhou aan die kus nie, en dit op Kaapstad se voorstoep.

Onthou vir volgende jaar, die blomdeel van die reservaat is net in Augustus en September oop. Jy sal nie spyt wees nie; ons was só bly ons het gegaan.

Tom van Rensburg, Somerset-Wes.

September 2007
Augustus 2007

 

 

footer