Bosstories Briewe, reisverslae,
nuusflitse en saakmaakstories
Oktober 2007
Paindane-staptog in Mosambiek
Lenie
Heystek het saam met vriende 'n nuwe vyfdag-staproete
by Paindane, Mosambiek, "toetsbestuur".
Sy het in een stuk teruggekeer na Suid-Afrika
en lewer verslag daaroor.
Ken jy die gevoel as die wekker jou vroegmore
wakker lui en voor jy jou oë kan oopmaak,
dink jy: "Ek moet die padkos in die
yskas onthou!" Ek het min geslaap,
want die opwinding van die stapavontuur
wat voorlê, die benoudheid vir die
rompslomp by die grenspos en die onrus oor
wat op die lang pad kan gebeur het die hele
nag deur my gedagtes gespook.
Dis eers as ek my rugsak saam met die van
my medestappers in die sleepwa prop en my
sit in die voertuig kry dat ek ontspan.
As ek die gerusstellende hobbel van my paspoort
in my heupbelt vir die soveelste keer met
my vingers voel, besluit ek: kom wat wil,
nou vat ek alles net soos dit kom. Geniet
gaan ek dit geniet.
Ons ontmoet die ander voertuig se mense
net buite Pretoria en om 7:00 is ons fluks
op pad na Nelspruit vanwaar ons die grens
by Komatipoort wil oorsteek. Teen 11:00
is ons grootoog en met die hulp van 'n "runner"
by die grenspos deur sonder enige voorval.
Ek voel stilweg nogal trots op die vars
stempels in my paspoort.
Die hoofweg na Maputu ry gemaklik en ons
volg getrou die aanwysings om op die Xai
Xai-pad na die noorde van Mosambiek te bly.
Teen 15:00 is almal bly om by Casa Lisa,
ons oornagstop, aan te kom; ons het die
600 kilometer speel-speel in agt ure afgelê.
Vroegoggend val ons weer in die pad en ons
eerste stop vir brandstof is by Xai Xai.
Ons meisies drink maar min water vanmore
want die kanse om 'n "draai te loop"
is skraal, en sou jy wel 'n skaflike geriefie
kry, moet jy jou asem maar lank inhou en
hogerig hurk. Anderkant Xai Xai word die
pad drasties sleg vir die volgende 70 kilometer.
Daar is min tyd vir rondkyk as die voertuig
koes-koes tussen die slaggate en verbrokkelende
padkante moet deurswoeg. Verder noord is
die pad gelukkig weer mooi. Uiteindelik
draai ons af op die rooi grondpad na Paindane
en ek borrel van opwinding. Wie gaan die
see eerste sien?
Teen 12:00 en 470 kilometer van Casa Lisa
af val ons by die Paindane-restaurant in
om 'n lafenissie te soek na die lang reis.
Die restaurant is hoog bo-op 'n sandduin
gebou en van die dek het jy 'n onverbeterlike
180°-uitsig oor die hele oord en die
Indiese Oseaan.
Ons groep bestaan uit nege stappers wat hier
is om die nuwe Paindane-staproete te evalueer.
Voor ons lê vyf dae van stap (ongeveer
50 kilometer) en snorkel by verskeie riwwe
en rotspoele. Daarom het ons benewens ons
rugsakke ook snorkeltoerusting saamgebring.
Dag
1
Soos die res van die week is ons uit die
vere voor dagbreek. Ons tyd is so gekies
dat ons volmaan het. Laagwater is teen 11:43.
Dit gee ons genoeg tyd om die sonopkoms
met 'n koppie koffie op die stoep in te
drink. Na 'n lekker groot ontbyt begin ons
skarrel vir ons eerste snorkelervaring.
So twee ure voor laagwater stap ons af strand
toe, snorkels en duikbrille in die hand,
om die 1,3 kilometer lange rif by Paindane
te gaan verken. Vir van ons is dit 'n eerste
snorkelervaring met die twyfelagtige troos
dat daar vooraf in Suid-Afrika so 'n bietjie
in 'n swembad geoefen is.
Die eerste angstigheid is egter gou vergete
as ons by die wonder van tropiese visse
en lewendige koraal begin saambondel. Die
water is kristalhelder, badwaterwarm en
rustig soos in 'n swembad. Behalwe vir een
persoon is ons almal goed gepantser teen
die son. Ons snorkel selfs met ons hoede
op, tot groot vermaak van die plaaslike
bevolking. Die uitsondering op die reël
het later met 'n rooigebrande rug erken
dat dit effens van 'n foutjie was. Teen
12:00 begin die gety draai en ons kies koers
na die chalets vir middagete en om 'n welverdiende
uiltjie te knip.
Ons het met die gids gereël om 'n 10
kilometer-sirkelroete na die dorpie Paindane
en terug teen 15:00 aan te pak - dit sou
dan koeler wees. Gelukkig is die kraanwater
en plaaslike bier veilig om te drink en
ons sluk liters daarvan weg. Die rustige
omgewing met sy talle huisies van kokosneut-palmblare
fassineer jou. Die mense leef direk van
die land af en ons kan eerstehands kassawewortels
proe, kokosneutmelk drink, mooi sien hoe
kasjoeneute groei en aan die kasjoeneutvrug
suig. Van die stappers het die plaaslike
kokos- en kasjoeneutbier so geniet dat hulle
ekstra gekoop het vir die res van die week.
Dag
2
Hierdie dag se 20 kilometer-stap begin die
oggend met hoogwater op die sagte sand.
Ons dra net dagpakke want ons bagasie word
na Dongane aangery. Ek maak seker dat ek
genoeg water saamdra. Teen 8:00 is ons reeds
sopnat gesweet en ek besef dat 'n harde
dag se stap voorlê. Sewe kilometer
verder word Island Rock en sy rif sigbaar,
maar die gety is nog te hoog en ons besluit
om die volgende sewe kilometer na Legogo
aan te pak. Teen 11:00 lê die Legogo-rif
oop in die laagwater, maar dit is baie warm
en ses van stappers besluit om verder saam
met die voertuig te ry.
Drie van ons is vasberade om deur te druk.
Ons eet gou middagete van soutbeskuitjies
en kasies. 'n Mens kan nie lank stil sit
nie; die son brand witwarm op ons neer en
gou stoom ons voort op die laaste ses kilometer
na Dongane. Dit is opvallend hoe rustig
en vriendelik die Mosambiekers is. Hulle
is gou om met 'n groot glimlag en twee hande
in die lug te groet. Ons wil graag 'n geselsie
aanknoop, maar moet tevrede wees met handgebare
omdat ons nie Portugees magtig is nie.
Die hitte maak die stap moeilik, maar ons
is verras met die pragtige rotspoele. Ons
staan en kyk hoe 'n paling aas tussen rotsskeure.
Die water is so helder dat ons die veelkleurige
vissies kan dophou tussen rotse wat oortrek
is met seeplante.
Groot is ons dankbaarheid as ons die dakke
van Dongane sien. Ons strompel moeg en warm
die lawende koelte van die chalets binne.
My voete klop en ek sluk gulsig 'n glas
water weg. Gesig- en harewas is hemels na
die veeleisende stap en na 'n lekker stort,
skoon droë klere en 'n middagslapie
is ek reg om meer van die pragtige plek
te sien.
Teen laatmiddag stap ons oor twee duine
om die eerste blik te kry op die twee varswatermere
aan die binnelandkant van Dongane. Dit is
sterk skemer as ons terugkom by die chalets.
Die maan kom op in 'n groot oranje bal en
gooi gou 'n silwer baan oor die rustige
see.
Dag 3
Dagbreek
by Dongane is 'n heilige oomblik. Ek is
dankbaar dat ons nie vandag verder stap
nie, maar die tyd gaan gebruik om die mere
en die rotspoele in die see te verken. Nadat
ons "honderde" foto's van die
sonsopkoms oor die see geneem het, stap
ons na 'n klein meer, waar ons sommer met
klere en al in die heerlike koel vars water
gaan sit en kuier. Die meer is nege kilometer
lank en word tot 35 meter diep. Na die lafenis
durf ons die duin aan na die "wit huis",
'n landmerk op die kuslyn. Dis 'n verlate
ou hotel met 'n pragtige 360°-uitsig
oor die mere en die see. Ons neem "stitch"-foto's
en ontdek dat hier 'n selfoonsein is. Nie
lank nie en almal wat selfone het bel huis
toe om die mense daar jaloers te maak op
ons grootse stapervaring.
Snorkeltyd is later die oggend en die rotspoele
van sowat 10 meter by ses meter en drie
meter diep is deurtrek met seelewe. Dit
voel of 'n mens deur 'n doolhof van tonnels
swem. As jy nie verder kan kom nie, klim
jy uit en gly in die volgende poel in om
na vissies te soek wat jy nog nie voorheen
gesien het nie.
Dag
4
Die 10 kilometer vanaf Dongane na die boskamp
word langs die groter varswatermeer, wat
39 kilometer lank is, gestap. Die groot
kasjoeneutbome langs die pad is oortrek
van ryp vrugte en die rustige prentjie word
afgerond met 'n paar vissermanne in bootjies
op die meer.
Die roete gaan deurentyd deur dig begroeide
dele wat heelwat koeler is. Wanneer ons
weer 'n slag teen 'n beboste duin uitstap,
sien ons die oopte links van ons, en weet
dis Tietiesbaai, ons kamp.
Ons is die eerste mense wat daar kamp. Die
geriewe onder 'n lowergroen blaredak bestaan
uit die absolute minimum. Die puttoilet
is in 'n palmtakafskorting en baie laag,
maar skoon en reukloos. Die vrag bagasie
word teen die middel van die oggend afgelaai
en ons slaan haastig tent op sodat ons kan
gaan snorkel. Die rif is klein in vergelyking
met die wat ons reeds verken het. Noord
teen die kus op is daar ook mooi rotspoele,
maar te gou vou die inkomende gety die juwele
weer toe onder rustige golwe.
Ons ontdek die geraamte van 'n vistreiler,
afgeëts in die sand. Die fotograwe
onder ons gryp na hul kameras en neem fluks
foto's. Orkaan Flavia het sy spoor van uitskot
op die hoogwatermerk gelos. Dit het die
manne se verbeelding gou gaande en 'n kunstige
kasteel verrys uit die sand - 'n spanpoging.
'n Klompie van ons stap daarna meer toe
om die sout van ons lywe af te spoel.
'n Kamp sonder vuur is soos dans sonder
musiek, en vroegmiddag kuier ons al om 'n
vuur wat gesellig knetter. Die ligte reëntjie
wat teen skemer af en toe neersif kan nie
die heerlike atmosfeer demp nie.
Dag
5
Die laaste dag stap ons die sewe kilometer
seelangs terug na Dongane. Dis hoogwater
en ons stap weer in sagte sand. Dit is genadiglik
effens bewolk en gevolglik koeler. Waar
die sonstrale plek-plek deur die wolke skyn
word dit deur die golwe opgebreek in 'n
kaleidoskoop van kleur.
Terug by Dongane se chalets stroop ons die
yskas van enige iets kouds. Stilte daal
op ons neer as ons besef ons tydjie in die
paradys is besig om uit te loop. Die voertuie
is teen 11:00 gereed om ons en ons bagasie
na Paindane te neem. Ons ry met 'n sandpad
tussen die talle palmblaar huisies en landerytjies
deur en drink die unieke omgewing vir oulaas
in.
Die stap word afgesluit met 'n hartlike
ontvangs by Paindane waar ons vir aandete
bederf word met matapa, 'n inheemse gereg
van kassaweblare, kokosneutmelk, grondboontjies
en steurgarnale wat saam met rys bedien
word.
Aan alle goeie dinge is daar 'n einde en
ons moet onsself wegskeur vir die terugtog
na Suid-Afrika. Die laaste aandete by Casa
Lisa is gesellig en ons weet almal: ons
gaan die roete weer stap. Ons het nie genoeg
gehad nie en die see lyk mos elke keer anders.
Ons evaluasie van die huidige Paindane-staproete:
- Die roete is 'n heerlike belewenis in
'n omgewing wat vir die meeste Suid-Afrikaners
onbekend is. Dit is veilig, ongerep en
toeganklik, selfs al het jy nie 'n 4x4
nie.
- Die snorkelgeleenthede is uniek en 'n
wonderlike belewenis.
- Dag 1een se sirkelroete in die landelike
omgewing was interessant en almal het
dit baie geniet.
- Die 20 kilometer van dag 2twee is te
lank, maar gaan in twee verdeel word deur
'n oorslaapplek 14 kilometer van Paindane
te skep: net agter die duine by 'n binnelandse
meer by Legogo.
- Die rusdag by Dongane gaan vervang word
met die ses kilometer stap van Legogo
na Dongane.
- Almal het die stap al langs die meer
op dag vier baie geniet, maar daar kan
meer van hierdie dag gemaak word, soos
om die afstand na die "oog"
van die meer per roeiboot af te lê
en dan na Tietiesbaai se boskamp te stap.
- Dit sou beter wees om nie nodig te hê
om net vir een aand kamptoerusting van
Suid-Afrika af saam te ry nie. Die boskamp
by Tietiesbaai en Legogo gaan dus met
'n skuiling en matrasse toegerus word.
- Dapper stappers kan op aanvaraag die
hele roete met volle rugsakke aandurf
vir die ware voetslaanervaring, sonder
ondersteuning van die voertuie wat bagasie
aanry.
- Vir besprekings bel Theresa by 082
569 3436, e-pos paindane.sa@mweb.co.za
Pronkboekie
oor vlerkslepers
Doktor Morné du Plessis, wat sedert
1 September vanjaar uitvoerende hoof van
die Wêreldnatuurlewefonds (WWF) is,
het verlede maand die boekie Pronkvere bekend
gestel.
Morné was sedert 1996 hoof van die
Percy Fitzpatrick-instituut aan die Universiteit
van Kaapstad en staan landwyd as voëlkenner
bekend. Hy het met die bekendstelling van
die boek gesê dat hy met dié
publikasie twee liefdes kombineer: die vir
voëls en vir Afrikaans.
Sy taal en beskrywings sing saam met die
geveerdes, veral dié wat graag pronk,
waarvan hy in 'n geselstrant vertel. Só
skryf hy byvoorbeeld oor die "krombekke"
of skoorsteenveërs: "op kospatrollies
in pas besproeide lande-rye aan die diens
doen", of langs water waar hulle "in
die sagte modderslik rondwoeker". En
dan is hulle weer aan die soek na "ondergrondse
slaptjips" soos erdwurms.
Leigh-Anne Wolfaardt het die mooi sketse
gedoen en die versameling stories het eers
in rubriekvorm in Beeld, Die Burger
en Die Volksblad verskyn. Die voorblad
is spesiaal.
Die boek is uitgegee deur Human & Rousseau
en is by boekwinkels landwyd beskikbaar.
Quthing,
die plek van drome
Die suidelikste deel van Lesotho is die laaste
vertoefpunt van die Senqurivier en ook die
laaste hoogtepunt van dié besondere
bergkoningkryk. Ek bedoel dit ook letterlik,
Lesotho is die land met die hoogste laagtepunt
van 1 350 meter bo seevlak en is geleë
in die Senquriviervallei. Quthing in Lesotho
is 'n toerismeskat wat wag om ontgin te word.
Die Senquriviervallei en -ravyn is sowat
90 kilometer lank, op plekke tot 600 meter
diep en bekoor in die lentemaande met
die vlamrooi en oranje bloeiwyses van
die bitteraalwyn (Aloe ferox).
Op reis tussen Moyeni en Mount Moorosi
stop ons om 'n paar foto's te neem van
spierwit linne wat aan 'n wasgoeddraad
hang. Duisende bitteraalwyne blom in die
omtrek. Die kombinasie is 'n oogfees.
Die eg tradisionele dorpies met grasdakke,
klipmure en blou deure leen hulle by uitstek
tot 'n oneindige hoeveelheid foto's. Die
inwoners vra wel soms 'n paar loti, maar
dit hou seker die pot aan die kook en
moedig entrepreneurskap aan.
Naby Moyeni is die ou grothuis en museum
van D. F. Ellenberger, 'n sendeling van
die Paris Evangelical Missionary Society
wat in die 1860's daar kerk gehou het.
Die holkrans waarin sy huis gebou is,
was eers die grot van Masitise, 'n kraalhoof
van Moorosi, die Phuti-stamhoof waarmee
Ellenberger bevriend geraak het.
Benewens Ellenberger se sendingwerk het
hy 'n groot belangstelling in die rotskuns
en paleontologie van die gebied gehad.
Teen die dak van sy grothuis sit daar
wraggies nog 'n paar dinosaurusspore.
Dit is ook die rede vir ons besoek aan
die pragtige deel van ons vasteland. Ons
wil 'n twee meter lange rotstekening van
'n eland in die Sebapalariviervallei van
nader bekyk. Dié amper reusagtige
tekening is skynbaar die derde grootste
eland-tekening in Suid-Afrika. Moenie
dat die bordjie na Ha Liphaphang jou bedrieg
nie. Sebapala beteken nie verniet "moenie
speel nie".
Dit is 'n aardige avontuur om die 4x4-pas
van 40 kilometer tot daar uit te klim.
Die pad is plek-plek weggespoel en net
'n paar meter breed. Ek weet nie hoe die
taxi's dit regkry nie, maar by die steil
kronkeltjies kry hul eers vooraf 'n lekker
aanloop en maak dan die bult uit met die
reserwes. Dit is 'n akrobatiese spul in
die Sebapala.Op 'n stadium klim ek maar
liewer uit en stap die pad self, want
daar is geen relings teen die afgrond
nie en die gids vertel ons so ewe van
sy seun se ongeluk op dié pas nie
te lank terug nie.
Naby 'n rivierkruising lê 'n gebreekte
rotsblok wat onlangs van die berg afgerol
het, so groot soos 'n seilskip, en ons
doop dit summier die Sebapala-frigat.
By die pragtige Ha Liphaphang-dorpie kan
mens perdry tot by die tekeninge of verder
stap saam met 'n gids. Daar is ook kampgeriewe.
'n Lekker Sotho-manier van groet is:
Die besoeker sê: "Dichomo"
(beeste).
Die plaaslike inwoner sê:
"Li manimani a tsona" (en al
die kalwers) - "li" word uitgespreek
as "di".
Die besoeker sê: "Ha
de a te" (mag hul vermeerder).
Groete
Wim Wybenga, Clarens
Postberg
se blommeprag
Duisende toeriste gaan jaarliks Namakwaland
toe, maar hoeveel mense weet van Postberg,
die private natuurreservaat wat deur SANParke
bestuur word as deel van die Weskus Nasionale
Park? Ons kon nie glo watter blommesee skuilhou
aan die kus nie, en dit op Kaapstad se voorstoep.
Onthou vir volgende jaar, die blomdeel
van die reservaat is net in Augustus en
September oop. Jy sal nie spyt wees nie;
ons was só bly ons het gegaan.
Tom van Rensburg, Somerset-Wes.
September 2007
Augustus
2007 |