Ramsay, Son & Parker (Pty) Ltd

Foto: Nelis Engelbrecht

 

 
 TUISBLAD
 NUUTSTE UITGAWE
 VAN DIE REDAKTEUR
 BOSSTORIES
 GROEN WENKE
 RADIO LANGPAD
 CHRIS BARNARD
 DOENDINGE
 BLOGS
 KOMPETISIES
 JULLE FOTO'S
 KONTAK
 SKAKELS
 SKERMBEELDE
 
 


 
Kennisgewing

Koos Kombuis-konsert by die Bushman's Cave-bergteater uitgestel tot ’n latere datum.

Baie jammer vir enige ongerief.

Erik de Milander.
Vir navrae: bel 027 482 2918, edemilander@telkomsa.net

 

Bosstories
Briewe, reisverslae, nuusflitse en saakmaakstories
Mei 2008


Kampeerwaens se lof is onbesonge

Ek lees graag tydskrifte en artikels oor die buitelewe en kampering, maar artikels en rubrieke oor kampeerwaens of woonbussies of motorwoonwaens is skaars. Daar is min kampeerwaens op dié land se paaie en die belangstelling daarvoor is skynbaar beperk. Die verhouding van kampeerwaens tot woonwaens in Suider-Afrika is waarskynlik na aan 1:100.

Ons het 'n paar jaar gelede 'n kampeerwa gekoop en reeds 'n hele paar roetes in Suider-Afrika onderneem - van Tietiesbaai tot by St. Lucia, die Krugerwildtuin, Drakensberg, deur Botswana tot by die Okavango-delta, in die Caprivistrook af verby Sossusvlei en die Weskus.
Ons spring gereeld sonder veel beplanning in Skillie vir 'n sonsondergang met 'n bottel wyn by die see of vir 'n kort naweek weg.

Ons het 'n tydjie gelede deur Europa met 'n kampeerwa getoer en dadelik opgemerk dat daar veel minder woonwaens is. Besienswaardighede in Europa is nader aan mekaar en mense is grootliks deurryers wat dikwels net oornag op 'n plek, pleks van lang statiese kampvakansies hou.

Die belangstelling in Suider-Afrika neem vinnig toe namate kampeerders meer geriewe wil hê en nie meer lus is vir tent opslaan en woonwa sleep nie. Die koste van 'n kampeerwa word vir al hoe meer kampeerders 'n kleiner oorweging, veral omdat 'n groot persentasie woonwa-eienaars 'n groter trekvoertuig vir dié doel moet hê.

Ons maak 'n punt daarvan om met oorsese toeriste wat kampeerwaens huur gesprekke aan te knoop en vir hulle te wys hoe 'n mens in Suid-Afrika braai. Uit meer as 20 sulke ontmoetings was feitlik almal Europeërs, veral van Nederland en Duitsland, wat ons land ry-ry verken. Een groep wat ons op Stellenbosch ontmoet het, was De Wielrijders Bond van Nederland wat kampeerwaens gehuur het en gaande was oor ons land en wat graag weer sal wil kom toer. Omdat Europeërs gewoond is aan kampeerwaens, is ek oortuig daarvan dat ons kampeerwa-verhuringsbedryf in 2010 nie in die helfte van die vraag sal kan voorsien nie. Dit sal vuurmaak onder die bedryf.

Jul tydskrif kan die nodige inligting aan jul lesers deurgee, en ek vermoed meer mense sal tydskrifte wil koop wat oor dié kampstyl skryf. Die belangstelling is te groot as om net nou en dan iets daaroor te skryf. Omdat dit 'n nuwe belangstellingsveld is, is daar juis baie vrae, baie ontdekkings en baie geleenthede soos die kampeerwa-ruilskemas met oorsese eienaars.
Hoe lyk dit, gaan julle vir ons inligting oor die kampeerstyl gee?

Rocco Hough, Bellville

- Dankie vir die interessante brief, Rocco. Soos jy sê, kampeerwaens is gewilder in ander lande en daarom het ons penne nog nie dié pad geloop nie. Ons hoor graag van ander lesers of hulle meer oor dié kampstyl te wete wil kom. Skryf aan bosstories@rsp.co.za. - Gerrit

Hallo uit die koue

Ek skryf vir julle vanaf die Sanae IV-basis, Antarktika. Ja, hier vanaf die Suidpool-vasteland. Ek het die Maart 2008-uitgawe van Wegbreek (seker nou Mooiloop) ontvang met die laaste inkomende vlug van Suid-Afrika. My vriendin kon vir my die eksemplaar stuur.

Ek geniet jul artikels baie. Die artikel oor "witgoud" het my dadelik herinner aan my toepassing van toiletpapier. Ek was verras om dan te sien dat julle 'n kompetisie uitgeskryf het rakende die menige gebruike van witgoud.

Terloops, net vinnige feite rakende Sanae IV - die basis is geleë op die koördinate 71º40'S 2º51'W op 'n klein berg, die Vesles-karvet. Ek is deel van die oorwinteringspan (ons is 10 lede) en ons is van einde Desember 2007 af hier. Ons verwag om weer teen einde Februarie 2009 met die SA Agulhas in die Kaap aan te land.

Besoek gerus ons webwerf www.sanap.org.za/sanae_team.html of gaan na Google Earth (soek vir die Vesles-karvet).

Dankie vir jul puik tydskrif, doe so voort! Warm groete uit 'n koue plek!

Gerhard Laubscher, Sanae IV-basis, Antarktika

Witgoud-wengebruik

Wat is lekkerder as die reuk en smaak van vars drup-koffie, veral met sonsopkoms, op reis na wie-weet-waar? Ek en my vriendin het een lente-naweek voor sonop in die Weskuspad geval om die dag tussen die blomme en in die natuur deur te bring. Ons lus vir drup-koffie het ons tonge van vroegoggend geterg.

Met sonsopkoms het ons 'n pragtige afdraaiplek raakgery en met groot verwagting ons kosmandjie uitgepak. O, wee! Watter teleurstelling, ek het die filtreerpapier van die 12?V-perkoleerdertjie vergeet!

Dis wanneer 'n mens die waarde van witgoud kan bepaal. Ons pak altyd 'n rol (wit) toiletpapier in. Met 'n vinnige paar voue het ek 'n filter gevorm en minute daarna het ons met stomende koffie uitgekyk hoe die son die wêreld om ons inkleur. Dankie, witgoud!

Gerhard Laubscher, Antarktika

Laat wiel en laat wyn

Vanjaar hou die Robertson-wynvallei groot makietie met sy vyfde Wacky Wine-naweek van 6 tot 8 Junie 2008. En dit gaan 'n feestelikheid wees soos nog nooit nie - meer as 40 wynkelders gaan deelneem.

Behalwe die jaarlikse doendinge op die naweekprogram soos 'n halfmarathon, bergfietsuitdaging, bootvaarte, trekkerritte en musiek, sal daar ook geleentheid wees om die wynmakers te ontmoet. Nuwe items op die program is die Ferrari-klub wat 'n vinnige draai sal gooi om sy speelgoed te vertoon, akrobatiese vertonings deur die Zip-Zap-sirkus en syspan-motorfietsritte vir 'n ieder en 'n elk. En saans 'n vuurwerk-vertoning.

Dit gaan ook 'n ware koskarnaval wees met tradisionele Boere- en potjiekos, pieknieks langs die rivier, Italiaanse kos en soesji. Kinder-doendinge sluit visvang, gesigverf, ponieritte, kettieskiet en die voer van plaasdiere in.

Die gewilde Buddy Bus sal weer op sy pos wees. Dit kos R40 per paspoort wat by enige eerste proeplek gekoop kan word en sluit proeglase, 'n geskenkpak en 'n program wat spesiale aanbiedinge bevat in.

Vir meer inligting, 023 626 3167, manager@robertsonwinevalley.com, www.wackywineweekend.com.

Ou volstruis hy wink so

"Uiteindelik! 'n Praktiese handleiding waarin daar stap vir stap verduidelik word hoe om volstruisies suksesvol groot te maak."

Só skryf Landbouweekblad oor Petro Strydom se The Ostrich Farm - how to get started.

En ja, selfs volstruise pik op mekaar - maar dis gewoonlik net die siekes wat deurloop. Petro vervat 15 jaar se ondervinding in dié handleiding oor alle aspekte van volstruis-grootmaak. Die handleiding is ook ryklik geïllustreer.

Toe, dalk droom jy nog altyd van volstruise grootmaak. The Ostrich Farm - how to get started (uitgewer: Procure) is ook nuttig vir skooltake en studente-werkstukke. Die sagteband-boek kos R250 en kan regstreeks van Petro bestel word.

Vir meer inligting en bestellings: Petro Strydom, Posbus 1235, Jeffreysbaai 6330. Bel 082 659 2529 of skryf aan houtboschbay@absamail.co.za.

Wen
Drie gelukkige lesers kan elk een van Petro Strydom se handleiding The Ostrich Farm - how to get started wen. [kliek hier]

Skubaduik stap vir stap

Skubaduik in aksie is 'n handleiding met 'n DVD van 30 minute en kleurfoto's vir beginners of gesoute duikers wat hul duikvaardigheid wil verfyn en opknap.

Hierdie ten volle geïntegreerde boek en DVD sal jou inspireer om dadelik te begin duik. Dit vertel jou alles wat jy moet weet om veilig en met selfvertroue te kan begin duik.

Kruisverwysings na die DVD is ingesluit op bladsye wat gerugsteun word deur beeldmateriaal.

Kleurfoto's lig elke stap in die fynste besonderhede uit. Duikveiligheid en fiksheid asook die werking, hantering en gebruik van alle toerusting kry aandag.

Beginners, ervare duikers asook duikoperateurs sal die boek as 'n nuttige hulpmiddel kan gebruik. Agterin die boek is 'n volledige inligtingsblad oor duikorganisasies, bewaringsinstansies en kontakbesonderhede.

Die boek is die derde titel in die In aksie-reeks: Gholf in aksie en Tennis in aksie is ook saam met DVD's beskikbaar.

Die verkoopprys is R169.

Vir meer inligting en bestellings: David Koekemoer, 012 329 3896, david@briza.co.za, www.briza.co.za.

Wen
Een gelukkige lesers kan elk 'n Skubaduik in aksie-handleiding wen. [kliek hier]

Ontdek die Magaliesberg

Dis nie aldag dat iets verniet is nie, en as dit boonop 'n gids na een van die land se lekkerste kuierplekke is, is dit des te beter.

Discover the Magaliesberg, 'n volledige gids van 64 bladsye oor blyplekke, doendinge en waar om wat in die omgewing te sien, is gratis beskikbaar by die meeste toerismekiosks in Gauteng. Die omgewing is bekend vir sy ongerepte natuur, ryk voël- en soogdierlewe en diverse kultuur en geskiedenis. Die boek is uitgegee deur die Magalies Meander.

Vir 'n gratis eksemplaar, skryf aan info@magaliesmeander.co.za.

Johan Bakkes-boekbekendstelling

Ná Johan Bakkes se suksesvolle kortverhaalbundels, Moer toe die vreemde in en Nou's ons in ons donner in, is sy stories - gevul met dieselfde opwinding en skoonheid as die gewilde oorspronklike titels - in die Engelse vertaling To Hell and Gone beskikbaar.

To Hell and Gone vertel van Johan se talle reise en buitengewone ervarings. Of dit nou gaan oor die uitklim van Ras Deshen, die hoogste kruin in Ethiopië, of 'n reis na die Danakil-woestyn, een van die onherbergsaamste gebiede op aarde, of wedervaringe veel nader aan die huis. Dié boek maak die avonturier in elke leser wakker en is die ideale geskenk aan 'n Ingelsman wat moet weet van, maar nie die Boer se taal magtig is nie.

Lesers kan Johan en sy skrywer-kleinboet Christiaan (Skuilplek, Stoffel by die afdraaipad, Stoffel se veldnotas) in Kaapstad en Centurion tydens die boekbekendstellings ontmoet wanneer hy 'n storie of wat sal vertel en boeke sal teken.

Die funksies vind plaas te Cavendish Square Exclusive Books, Kaapstad, 20 Mei, en Centurion Exclusive Books, Pretoria, 26 Mei.

Vir meer inligting en om die geleenthede by te woon: Alicia Hendriks, NB Uitgewers, 021 406 3477, alicia.hendriks@nb.co.za.

Wen
Vier gelukkige lesers kan elk een van Johan Bakkes se verhaalbundel To Hell and Gone wen. [kliek hier]

-------------------------------------

April 2008

Maart 2008
Februarie 2008
Januarie 2008
Oktober 2007
September 2007
Augustus 2007

 

 

footer