|
Bosstories
Briewe, reisverslae, nuusflitse en saakmaakstories
Junie 2008
Breek
weg met houtskool
Ek wil julle terugneem na die 1940's
se swaarkry tydens die Tweede Wêreldoorlog.
Alles was skaars; jy mag nie eens jou meel
gesif het nie - dit was tronksake; jy moes
dit met semels en al gebruik, het oom Jannie
Smuts beveel.
Brandstof is deur 'n petrolkoeponstelsel
beheer. Jou motor se registrasienommer het
op die koepon gekom asook die hoeveelheid
gellings waarop jy geregtig was. Daar is
baie onder mekaar gesmous om brandstof te
bekom. Brandstof was skaars, maar ry moes
'n mens ry.
In die oorlogsjare het my pa op Merweville
aan motors begin werk. Hy bekom toe planne
van 'n gaskragopwekkerstelsel wat met houtskool
werk en wat jy op 'n motor kan gebruik.
Daar word toe dadelik begin om so 'n kragopwekker
te bou. Dit gaan maar stadig, want alles
moet self gemaak word. Selfs die pype word
gemaak van plate van ou motorbakwerke wat
opgebreek is.
Ná baie weke se geswoeg, is die
kragopwekker toe klaar en kan dit gemonteer
word. Die uitgekose motor is 'n '34 Chev
wat agterop die buffer 'n bagasierooster
het.
Die ontbrandingsdrom met kole word op die
rooster gemonteer. Van daar word die gastoevoerpyp
onder die motor na die masjien se inlaatspuitstuk
geneem.
Langs die petrolpedaal kom ook 'n gaspedaal
om die gastoevoer te beheer. Die Chev gedra
hom goed op gas en dit is nie lank nie of
die Chevvie is oral te sien. Of soos die
mense toe begin sê: "Die motor
met 'n eier op sy gat."
Daarna het my pa begin taxi ry, want petrol
was mos nie meer nodig nie.
Op 'n dag vra 'n Corneels Erasmus om die
motor te huur om na 'n familie-begrafnis
op Prins Albert te gaan. Die transaksie
word beklink en daar word begin met die
onderrig sodat Corneels darem met dié
vuurpot kan werk.
Alles word breedvoerig verduidelik: hoe
om dit aan die gang te kry en wat om te
doen as die motor begin swak trek. Die kole
sak soms nie in die drom af nie, dan is
die ontbranding en die gasvloei swak. Al
oplossing is dan om stil te hou, die drom
agterop oop te maak en die kole met 'n stok
te steek sodat dit kan afsak.
Corneels word gewaarsku om nie te gou in
die drom te kyk nie, want dit slaan soms
met so 'n groot blou vlam aan die brand
sodra dit suurstof kry.
Corneels was 'n korterige man met rooi
krulhare. Haastig van geaardheid. En om
met so 'n vuurpot te werk, verg vanselfsprekend
die grootste noukeurigheid en versigtigheid.
Die onderrig is gedoen en Corneels is daar
weg in die Chev. Die trip het goed afgeloop
en die begrafnisgangers was meer geïnteresseerd
in die motor as die begrafnis self. Maar
met die terugkom gaan dit toe nie so goed
nie.
Die motor begin swak trek. Corneels het
met sy onderrig in gasselogie mos geleer
wat om te doen. Hy bring die motor tot stilstand,
klim uit, gaan draai die koledrom oop en
steek die kole sodat dit kan afsak. Laat
die aand draf die Chevvie ligvoets Merweville
binne, en Corneels bring dieselfde aand,
terwyl die vuurpot nog warm is, die motor
terug.
By die oopstoot van die deur, toe Corneels
na vore tree met die lig op sy gesig, begroet
so 'n aapgesig my pa dat hy net daar uitbars
van die lag. Die krulhare is net kroese.
En hy het nie 'n enkele gesighaar oor nie.
Corneels het te gou ingekyk.
Ek en my vrou het jare later nog met die
Chev gery. Maar ons twee was altyd mooi
versigtig en bowenal baie geduldig met die
vuurpot se oopmaak.
Gerrit Victor, Beaufort-Wes
Bly oor Belfast
Ek
sien op die voorblad van die April 2008-uitgawe
van jul tydskrif dat daar oor my dorp, Belfast,
geskryf is. Dit was die eerste keer wat
ek jul buitelewe-tydskrif gelees het, en
was dit vir my lekker om allerhande dinge
oor my dorp uit te vind waarvan ek nie geweet
het nie. Lekkerste egter was om weer 'n
familie-van raak te lees wat ek in my kinderjare
laas gesien of gehoor het, die Ackhursts.
Ek gaan vir seker kuier om my herinneringe
op datum te bring.
Mooiloop is nie net leesstof vir
denkende reisigers nie, maar ook (vir ons
wat al silwer in die hare het) 'n ryke bron
van inligting oor die storie agter die storie
van wat ons land se bestemmings so besonders
maak.
Mooi loop!
Pieter Wessels, Belfast
Afrika is uniek
Daar
is baie meer in Afrika om te sien en te
beleef as net mooi natuurtonele, wilde diere
en asemrowende sonsondergange. Dit is onoortreflik,
ja, maar indien jy jou oë en ore oophou,
hoef daar nie 'n vervelige kilometer op
ons vasteland te wees nie.
Op 'n onlangse tog deur vyf Suider-Afrika-state
het ons op talle interessante dinge afgekom
wat alle fasette van die lewe, soos vervoer,
kos, werk en doodgaan, dek.
Dit is oral langs die pad ontstellend sigbaar
dat die oorle-wingsverwagting van bome vinnig
daal. Omdat dit steeds die belangrikste
bron van energie vir kosmaak en verhitting
vir die meeste Afrika-huishoudings is, is
dit bykans onmoontlik om dié tendens
te keer.
Deesdae het dit 'n ook bron van inkomste
geword om houtskool te maak wat dan langs
paaie of in stede verkoop word. Sulke sakke
houtskool kan tot 50 kilogram weeg. As die
prys vir 'n sak houtskool, ongeveer R25
per sak, omge-reken word na bome, byt 'n
stewige inheemse boom teen sowat R200 in
die stof. Met elke makoro op die water is
nog 'n ou grote weg.
Om te kan oorleef, word kos op die eerste
vlak van Maslow se rangorde van behoeftes
geplaas. En aan inisiatief om proteïene
in te kry, ontbreek dit ook glad nie, ten
koste van enige onverskillige muis of voël.
Muis-sosaties is gesog - dit is blykbaar
net 'n bietjie moeilik om ná die
maal die hare tussen jou tande uit te kry.
Sekerlik een van die beste ingenieursinnovasies
wat nog in Afrika die lig gesien het, is
'n houtskoolstofie wat ons in Malawi raakgeloop
het. Die manne wat die stofies in Blantyre
op die sypaadjie maak, is baie trots op
hul werk. Nog nooit het ek enige ander stofie
gebruik, selfs die deftigste ingevoerde
modelle, wat so energiedoeltreffend soos
dié een is nie. Met min meer as 'n
hand vol houtskool word 'n groot hoenderpot
en 'n kan koffie gemaak. Daarna gee hy vir
minstens nog 'n uur genoeg hitte af om die
koue van die voete en die bene af weg te
hou.
Ry volgende keer met sintuie ingeskerp
op die minder opvallende tonele en jou reis
sal vol verrassings wees.
Piet du Plessis, Stellenbosch
Het
hy 'n difflock?
Ons hou toe mos in Mosambiek vakansie.
Die eerste week is ons by Praia de Barra
naby Inhambane waarna ons 'n paar dae by
Vilanculos wou deurbring. Die oord in Vilanculos
waar ons bespreek het, was 'n teleurstelling
en ons besluit toe om vroeg-vroeg die volgende
oggend die lang pad huis toe aan te durf.
Ek sê "aan te durf", want
die eerste stuk grondpad tot by die teerpad
is 'n nagmerrie. Dit is baie sanderig en
kronkel tussen gehuggies deur. Van aanwysings
is daar geen sprake nie.
Net ná vier die volgende oggend word
ons wakker met die klank van reën op
die dak. Ons besluit niks gaan ons keer
nie en begin pak. Halfvyf is ons reg om
te vertrek. Ons swaargelaaide Nissan Hardlywige
bakkie se ligte wys met moeite die pad in
die reën aan, tog sukkel ons voort.
Ek moet noem dat ons maar meesal teerpaaie
ry en as ons dit op grondpaaie waag is,
sorg ons dat hulle oor die algemeen goed
is. Van sandpad ry, het ek geen ondervinding
nie, en hier is ons op 'n sandpad, in die
reën, in die donker, sonder aanwysings!
Ek weet darem dat 'n mens moet probeer momentum
behou; as jy eers stilstaan, is die kanse
goed dat jy gaan vasval.
Toe ek by 'n vurk in die pad kom, is ek
nie seker of ek moet links of regs nie en
hou stil. Daar sit ons. In die reën.
Hulp kan ons nie kry nie. Die paar gehuggies
wat ons met moeite in die donker kan uitmaak,
is pikdonker, want die mense slaap seker
nog.
Ek besef dat ek die banddruk moet verminder
en terwyl ek dit doen, besluit my vrou,
Doreen, om van die sand voor die agterwiele
uit te grawe. Die graaf is onder al die
vakansiegoed toegepak, en lus vir uitpak
is ons nie.
Die een band is gou papper, so met die
oog geskat, en ek begin met die ander een.
Doreen mompel iets oor haar naels wat daarmee
heen is en ek bly maar stil om die vrede
te bewaar. Met 'n vrou met beskadigde naels
sukkel jy nie.
Iets blink in die sand en Doreen tel 'n
platgetrapte plastiekbottel op. Sommer dadelik
voel sy beter; nou kan sy mos grawe. Die
ander band is ook nou heelwat papper en
ons besluit om te probeer. Stadig maar seker
sukkel die bakkie vorentoe en skielik kry
die bande vasskopplek en daar gaan ons -
in stilte, dis beter so, die verrinneweerde
naels pla nog en ná 30 jaar van getroude
lewe weet ek wanneer om stil te bly.
'n Halfuur later is ons by die teerpad
en ons slaak 'n sug van verligting.
"Het die bakkie dan nie difflock
nie?" vra Doreen ná baie kilometers
van stilte.
Die platgetrapte plastiese bottel pryk op
'n ereplek in ons tuin!
Peter Thomas
Die Wildtuin is vanjaar 110
Suider-Afrika se bielie van 'n wildtuin,
die Kruger- Nasionale Park, vier sy 110ste
verjaardag op 14 Junie 2008.
Maak seker jy is by Skukuza saam met vername
mense soos die minister van omgewingsake
en toerisme, Marthinus van Schalkwyk, en
SANParke se uitvoerende hoof, doktor David
Mabunda.
Die Wildtuin se verjaardagslagspreuk is
"KNP 110 Conservation Celebration"
en bewaring vanaf 1898 sal die sentrale
tema van die feesvieringe wees. Voormalige
wildbewaarders, wetenskaplikes en wildtuinhoofde
sal interessante staaltjies vertel. Maak
'n plan en woon dié besonderse gebeurtenis
by.
Vir meer inligting: Raymond Travers, 013
735 4116, raymondt@sanparks.org,
www.sanparks.org. |