|
Bosstories
Briewe, reisverslae, nuusflitse en saakmaakstories
Julie 2008
Plaasverlange
|
|
Die Boschrand-kinders.
Chris Barnard staan links en
Rassie van Graan regs. |
Chris Barnard se plaasverlange (Mooiloop,
Mei 2008) was soos die geur van 'n geelryp
veselperske. Boschrand met sy klipkoppie
was ook my kleintyd-paradys. Wat 'n voorreg
was dit nie om saam met Chris daar kinders
te kon wees nie!
Die watervoor waarvan hy vertel was 'n wonderwêreld
op sigself. Male sonder tal het ons saam
grootoog oor sy wal die waterspinnekop,
wie se snorkel net-net die weerkaatsing
in die water versteur, beloer. Of die ma-krap
se knypers ontwyk en versigtig die pensklappie
oopgetrek om haar krosie te bewonder. Dan
was daar die stokkies wat stroomaf resies
moes dryf, en as niemand kyk nie, is die
stokkie met die vinger aangehelp.
Die baie afdraandes was natuurlik ideaal
vir stootkarre. Ysterkruiwawiele agter en
prêmwiele met wit buiteband voor.
Patricia, die enigste meisie wat saam met
ons seuns die afdraandes wou aandurf, het
haar versigtig-braaf agter my sitgemaak.
Toe ons met groot gejuig onder eindig, was
dit duidelik dat die stootkar se verkoeler
aan my agterkant 'n lekkasie opgedoen het.
Die stootkargier het eendag skielik geëindig
toe een van ons maters se groottoon in die
kruiwawiel opgewen het.
En dan, Chris, ek hou daarby dat ek die
laaste swaardgeveg gewen het! Swaarde van
waterbessielote was soos Bennie Osler-toks
- met hulle kon jy nie misskop nie. En ek
hét 'n waterbessieswaard gehad.
Rassie van Graan, Astonbaai
Verkeersknoop
Jy's 'n oermens wat op 'n dag in jou uitgeholde
boomstomp klim om te gaan visvang. 'n Sterk
seestroom sleur jou mee en ná drie
dae en twee nagte spoel jy uit op 'n verlate
strand.
Dis vroegoggend en jy is rasend honger en
koorsagtig dors. En hier ís jy nou
- jy sit op jou hurke op die strand en bekyk
die reemde plat voorwerp wat voor jou op
die sand lê. Dis 'n buitelewetydskrif,
maar jy weet dit nie. Jy dink by jouself
dat dit nie juis eetbaar lyk nie. Dit lyk
ook nie lewendig of regtig gevaarlik nie.
Dan steek die wind op en skielik begin die
ding voor jou lewe! Dit waai soos palmtakke
en voor jou oë verskyn daar 'n miniwêreld
waarvan jy sommige dinge soos ape en akkedisse
herken, maar daar is ook klein poele water
en nog kleiner mensies tussen die "blare"
van die vreemde verskynsel voor jou. Dis
'n toording, besluit jy. 'n Wonderbaarlike,
ongelooflike skat wat met wind werk.
Jy tel die wonderding versigtig op en loop
daarmee land in. Die klank van die see vervaag
soos jy verder loop en 'n ander geluid klink
al hoe duideliker op. Jy loop teen 'n steil
heuwel uit en dink opgewonde dat dit 'n
bergstroom moet wees met vreemde, skril
voëlgeluide wat kort-kort eentonig
die lug klief.
Dan staan jy eindelik bo en jy kyk uit oor
'n roesmoes van paaie en 'n stad in die
laagte. Dis spitstyd op 'n Maandagmôre.
Maar jy weet dit nie.
Voor jou oë krioel duisende keweragtige
gediertes op ronde swart pote met vreemde
bromgeluide en snaakse piepfluite. Hulle
vorm bont ritse wat kruis en dwars oor die
aarde lê en op plekke staan die spul
botstil en beweeg net met kort stuiptrekkings,
soos 'n bont wurm, vorentoe.
Waarheen sou hulle op pad wees? Waar is
hul nes? Wat eet hulle en waarom het hulle
so 'n slegte reuk wat die lug vol hang?
Jy gaan nader en sien dan 'n ontstellende
ding - die gediertes het mense in hul oë!
Jy kyk na die boek in jou hand en die verkeersknoop
voor jou. 'n Skril geluid, digby jou ore,
trek jou aandag.
Dis jou wekker.
Dis Maandagmôre. En jy wens jy was
'n oermens.
Matilda Clifford, Bapsfontein
Pick
n Pay Knysna Oesterfees
Die Pick n Pay Oesterfees, wat vanjaar
25 jaar van aksie en pret vier, sluit sowat
80 sport- en leefstylaktiwiteite vir die
hele gesin in. Doendinge sluit hardloop,
fietsry en avontuursport tot wynproe,'n
whiskeyfees en elegante aande van dans in.
En meer as 200 000 oesters moet opgeslurp
word. Die datum is 4 tot 13 Julie 2008.
Vir meer inligting: 044 382 5510, www.oysterfestival.co.za.
Franshhoek
Bastillefees
Franschhoek herdenk jaarliks die Bastille-geskiedenis.
Topsjefs en wynmakers staan reg in die kos-en-wyntent
op Saterdag 12 Julie en Sondag 13 Julie
vanaf 12:00 tot 18:00. Maar dis nie net
proe nie - daar sal ook boules, flotte,
'n sjef- en kelnerresies, boeremark, kindersokker,
'n balierol-kompetisie, bergfiets, musiek
en vele meer wees.
Vir meer inligting: 021 876 3603, www.franschhoek.org.za.
Learskool Menlopark se Gemsbokfees
Op Saterdag 2 Augustus 2008 gaan die potte
behoorlik kook by Laerskool Menlopark, want
dis die dag van die groot Atterbury Gemsbokfees
saam met Steve Hofmeyr.
Die hekke open om 12:00 wanneer die kinderspeletjies
begin terwyl Pa en Ma in die biertuin kuier.
Kom maak jou eie potjie en kuier gesellig
saam met jou pelle. Stalletjies, verversings
en die musiekkonsert beloof om die dag lekker
af te rond.
Kaartjies is beskikbaar by die skool. Kom
vier saam fees tot die gemsbokhorings stomp
raak!
Vir meer inligting: 021 460 7201, www.menlolaer.co.za.
Roei op die Rio Elefantes
Jy kan vir drie dae en drie nagte as deel
van die Rio Elefantes Canoeing Trail in
die Limpopo- Nasionale Park roei. Van net
onder die Massingir-damwal, die suidelike
grens van die Limpopo- Nasionale Park, waar
die Rio Elefantes sy watermassa ooswaarts
na die Mosambiekse kus stoot. Drie dae se
roei op 'n roete van 70 kilometer en drie
nagte se kamp op die oewers van dié
magtige rivier tot waar dit by die Limpopo
aansluit.
Die Rio Elefantes Canoeing Trail word elke
Vrydag aangebied; roeiers ontmoet om 8:30
by Campismo Albufeira, die kamp by die Massingir-ingang
tot die wildtuin, en laat hul 4x4's daar.
Blyplek vir die aand vóór
die ontmoeting is beskikbaar.
Gaste sal die volgende Maandagoggend tussen
10:00 en 11:00 by hul voertuie afgelaai
word.
Minimum van vier persone, maksimum 10 per
toer. Ekstra aande kan by die Rio Elefantes-roeiprogram
gevoeg word mits die groep uit meer as vier
roeiers bestaan.
Vir meer inligting, koste en besprekings:
021 701 7860, www.tfpd.co.za.
Olifant-kaskenades
Ons is bevoorreg om deel te wees van Jejane-
private natuurreservaat buite Hoedspruit.
Hierdie olifant, Aftand, kom kuier gereeld
by die huis... en is altyd dors. Nodeloos
om te sê, ons "boma" se
wasbak hou die plaaslike loodgieter op sy
tone.
Groete
Mariana de Klerk
Die
kruis in die sand
Die Richtersveld is 'n gewilde bestemming
vir oud en jonk. Vir my ook, en vir 'n groep
wat ons by De Hoop gekry het. Die groep
het besluit dat hulle naby die water en
die ablusieblok by De Hoop wil staan, al
was hulle te veel vir die kampplek en al
was dit in die middel van die pad naby die
sandhope. As hulle daar wil staan, wil hulle
daar staan!
Laer word getrek. Almal het 'n uitsig op
die Garieprivier, behalwe die toerleier,
Herman*, sy vrou, Susan*, en ons.
Dit pla ons min, solank ons in die Richtersveld
is, is ons gelukkig, uitsig ofte not. Maar
Susan is baie omgekrap. Sý ry nie
so ver om nie die water te kan sien nie.
Die een ding lei tot die ander en die twee
se stryery oor hoe hulle waentjie moet staan,
ontaard in 'n baie lelike ding.
Sy wil die wa na die kant toe laat kyk en
hy daai kant toe. Stil is die stryery ook
nie, die ander klomp slaan hul tente katvoeterig
op, en loer net so onderlangs na die lawaai,
te bang om in te meng, te bang om 'n woord
te sê.
Herman gooi sy arms in die lug: "Nou
waar op aarde wil jy dan die ding hê?!"
bulder hy. Sy trek met haar voet 'n kruisie
in die sand. "Hier, nét hier,"
sê sy tussen die trane deur.
Daar probeer die arme man die sleepwa in
die sand omdraai, maar niks werk nie, die
wiele steek vas en hy kry dit nie geroer
nie.
Ons help toe versigtig om die wa te draai
en oor die kruisie te stoot, want ons wil
nie in die geveg betrokke raak nie. Toe
die sleepwa mooi regoor die kruisie staan,
sê Susan dat sy dit andersom wil hê;
die waentjie se neus moet omdraai!
Net daar is nuwe petrol op die vuur gegooi
en die twee is weer aan mekaar. Ons verdwyn
toe maar vinnig terug na ons woonwa en begin
tent opslaan.
Skielik staan Susan hier by ons tent, en
met trane wat oor haar wange rol vra sy:
"Waar dink julle moet ons ons waentjie
staanmaak?"
Nog nooit was iemand so in 'n hoek gedruk
nie. Van 'n tentopslaan-bakleiery tussen
man en vrou moet 'n mens ver wegbly. Baie
diplomaties vra ons hoe presies sy die sleepwa
wil laat staan. Sy verduidelik, ons stap
na Herman en vra hom dieselfde vraag en
hy verduidelik.
Nou ja, so blyk dit dat hulle mekaar liederlik
misverstaan het. Herman gee so 'n skaam
laggie en trek sy bakkie in 'n stofwolk
weg sodat die sleepwa weer gehaak en gedraai
kan word.
* Die name is om vredesonthalwe verander.
Stef Cilliers
Mooi so, Mooiloop
Die HAT noem dit 'n metamorfose;
dit is die reeks veranderinge wat 'n larwe
deurmaak om tot volwassenheid te kom. Mooiloop
het uit sy larwe gekruip.
Wat agtergelaat is, W-e-g-b-r-ee-k, is 'n
versameling klanke wat rasper, skuur en
plof in die mondholte. Wat voortgekom het,
M-ooi-l-oo-p, is die deinende klank van
'n diftong en 'n lang klinker wat sagweg
weerskante van die letter "l"
hande vat, om voorspoed uit te spreek.
Mooiloop is 'n goeie naamkeuse vir
jul tydskrif. Die woord is veranker in die
geheue en onderbewussyn van Afrika, waar
mense mekaar lank reeds net die beste toewens
met "go well", "hamba kahle",
"tsamaia hantle", en mooi loop.
Mooiloop hou ook die belofte in dat
die leser saamgenooi word om op besondere
plekke te gaan loop. Dankie dat julle Mooiloop
die gelukkige bymekaarkomplek maak van soveel
mense wat meesters is van die Afrikaanse
taal, om dinge nuut te kan sê en voortdurend
aan die taal te beitel. Mooiloop,
soos wat dit tans aandoen, het die cliché
uit die woord "mooi" gehaal; inteendeel,
dit het 'n nuwe dimensie daaraan toegevoeg.
Daarom mag ek sê: baie dankie vir
die vreugde om dié mooi tydskrif
in die hand te kan neem.
Groete
Sunita Keyser
Mý
Goggie kruip slim weg
Ek lees graag jul tydskrif, vind altyd baie
stories en interessante plekke. Ek reis
heelwat en is lief daarvoor om vreemde plekke
te verken. Ek het spesifiek die "Goggas
kruip slim weg"-uitgawe (Mooiloop,
Mei 2008) geniet.
Ek het so 'n ruk gelede vir Goggie in my
tuintjie gekry. Hy was eers op my madeliefiebos,
maar nou bly hy op my roosboom en ek skuif
hom van vars roos na vars roos wanneer die
blomme verlep. Ek hou 'n vars roos aan die
steel en buig dit nader vir hom - dan klim
hy oor. Ek sien hy eet insekte en vlieë
wat op die roos gaan sit. (Ek vang elke
tweede dag vir Goggie 'n vlieg.)
Ek het in boekwinkels gekyk en gelees 'n
"Eyed Flower Mantid" vermom homself
en kan van kleur verander - Goggie is steeds
pienkpers en kruip vir seker slim weg.
Elsie Baird, Oos-Londen
Dis
nou mooi
Net gisteraand (Vrydag 16 Mei) word die
klomp tydskrifte, of sal ek liewer erken,
my naslaanboeke, weer agtermekaar gesit
en terug in die kas. Ek sê vir Susan,
dit is seker nou weer tyd dat die Mei-uitgawes
moet kom.
Ons beplan 'n toer van Kimberley deur Botswana,
Zambië, Malawi, Tanzanië, Rwanda,
Uganda tot by die Albertmeer en die Murchison
Falls- Nasionale Park. Van daar keer ons
terug deur die Masai Mara, Serengeti, Ngorongoro,
Natronmeer, Kilimandjaro, Dar es Salaam,
langs die kus van Tanzanië af en wil
ons gaan draai in die Selous voordat ons
die Mosambiekse kus aandruf.
Dan wil ons na Cahora Bassa, verby oom Bob
se verwoeste land - moontlik het vriend
Morgan al by daardie tyd die leisels oorgeneem,
maar ons vat maar liewer nie kanse nie.
By Pafuri wil ons terugdraai. Moontlik gaan
ons ook Swaziland toe waar ons in die vroeë
1990's vir vyf jaar gewoon het.
Ek het vir my in Excel 'n indeks gemaak
van waaroor watter tydskrif wanneer geskryf
het. Maar vra jy vir ons hedendaagse tegnologie
wat hy van Rwanda weet, dan slaan hy 'n
blank. Vra jy wat hy van Tanzanië weet,
is daar so 'n enkele beriggie.
Vanoggend gaan haal ek pos uit, maar stoei
eers verder met die beplanning. Augustus
is om die draai en alles is nog nie mooi
agtermekaar nie, al is die roete daar, die
inkleurkryt is al stomp.
So val my oog weer op hopie pos en lees
op die rugkant van een van die tydskrifte:
"Mooiloop. Die Zambezi se geheim.
www.mooiloop.co.za.
Junie 2008 Vol 2 No 12."
Vra vir Susan watter tydskrif dit is, ek
ken dit nie. Ek gryp die verpakking, maar
sy sê: "Stadig, is dit ons pos?
Maak dit net versigtig oop sodat ons dit
kan terugstuur as ons dit nie wil hê
nie."
Voor ek nog kan lees dit is Wegbreek wat
nou mooi loop sê sy, dit moet die
Lozi-koning wees wat na sy wintertuiste
verhuis, ons móét daarna gaan
kyk. Ons was al twee keer in die Liuwavlakte-
Nasionale Park en het al gelees en gehoor
van die watertrek. So begin ek ewe die brief
aan Boeta lees en besef dat hier iewers
fout is, ons moes die Mei-uitgawe van Wegbreek
en jul naamsverandering misgeloop het. Sien,
ons was in Namibië, die Khaudom en
Kaokoveld. En nou beplan ons alweer die
volgende wegbreek.
Omdat oom Marthinus so gaaf was om met die
vriendelike mense van Namibië 'n ooreenkoms
aan te gaan, kuier ons verder ook in die
Kgalagadi. Daar is dan nou nie meer 'n grensdraad
nie, en hulle maak dit moontlik om minstens
nog twee dae later by die huis te kom. Die
vereiste is dat jy daar moet oorbly as jy
dié grenspos gebruik. Dit pas ons
soos 'n handskoen!
Ek moet julle Mooilopers darem eers dié
stukkie vertel: 'n bankbestuurder-vriend
van my het altyd die uitdrukking "mooi
loop" gebruik wanneer hy iemand groet.
Eendag op Virginia kom maak oom Shortie
'n draai. Oom Shortie het sy bene verloor
en is in 'n rystoel. Toe die oom vertrek,
sê die bestuurder, soos gewoonlik:
"Mooi loop." Toe hy besef wat
hy sê, was hy baie verleë. Maar
oom Shortie was te ordentlik en het geantwoord:
"Jy ook."
Mooi loop!
Pieter Marais
Fraai
foto's
Ek is lekker verras deur van die Bains-bergpasse
in Mooiloop (Mei 2008) te lees. Carié
Maas met haar lusmaak-skryfstyl is my nou
al bekend, maar ek het iets nuuts gesien
waarvan ek hou. Die foto's van Cara Bakkes.
Ek is geen fotograaf nie en vra liefs ie-mand
anders om van my en die groepie 'n foto
te neem as dit so moet. Dus beleef ek 'n
foto aan die lekkerkrywaarde wat dit vir
my inhou. Ek ry lekker as ek sekere goeters
sien wat vir my iets in die "ou boekblaaie"
vasgooi. Cara se prentjies van die drie
passe is so gekies dat ek voel of dit vir
my alleen bedoel was. Ek neem aan julle
kies uit baie foto's en plaas die prentjies
dan in die boek? Miskien kan julle nog 'n
paar van hierdie prentjies maak.
Baie dankie en loop mooi verder sodat Mooiloop
op sy nooiensvaart getooi sal loop met dinge
waar ander al mooi geloop het of waardeur
mense geïnspireer sal word om vorentoe
te gaan mooi loop.
Vrede
Mario Bonthuys, Knysna |