Ramsay, Son & Parker (Pty) Ltd

Foto: Nelis Engelbrecht

 

 
 TUISBLAD
 NUUTSTE UITGAWE
 VAN DIE REDAKTEUR
 BOSSTORIES
 GROEN WENKE
 RADIO LANGPAD
 CHRIS BARNARD
 DOENDINGE
 BLOGS
 KOMPETISIES
 JULLE FOTO'S
 KONTAK
 SKAKELS
 SKERMBEELDE
 
 


 
Kennisgewing

Koos Kombuis-konsert by die Bushman's Cave-bergteater uitgestel tot ’n latere datum.

Baie jammer vir enige ongerief.

Erik de Milander.
Vir navrae: bel 027 482 2918, edemilander@telkomsa.net

 

Bosstories
Briewe, reisverslae, nuusflitse en saakmaakstories
Julie 2008


Plaasverlange

Die Boschrand-kinders. Chris Barnard staan links en
Rassie van Graan regs
.

Chris Barnard se plaasverlange (Mooiloop, Mei 2008) was soos die geur van 'n geelryp veselperske. Boschrand met sy klipkoppie was ook my kleintyd-paradys. Wat 'n voorreg was dit nie om saam met Chris daar kinders te kon wees nie!

Die watervoor waarvan hy vertel was 'n wonderwêreld op sigself. Male sonder tal het ons saam grootoog oor sy wal die waterspinnekop, wie se snorkel net-net die weerkaatsing in die water versteur, beloer. Of die ma-krap se knypers ontwyk en versigtig die pensklappie oopgetrek om haar krosie te bewonder. Dan was daar die stokkies wat stroomaf resies moes dryf, en as niemand kyk nie, is die stokkie met die vinger aangehelp.

Die baie afdraandes was natuurlik ideaal vir stootkarre. Ysterkruiwawiele agter en prêmwiele met wit buiteband voor. Patricia, die enigste meisie wat saam met ons seuns die afdraandes wou aandurf, het haar versigtig-braaf agter my sitgemaak. Toe ons met groot gejuig onder eindig, was dit duidelik dat die stootkar se verkoeler aan my agterkant 'n lekkasie opgedoen het. Die stootkargier het eendag skielik geëindig toe een van ons maters se groottoon in die kruiwawiel opgewen het.

En dan, Chris, ek hou daarby dat ek die laaste swaardgeveg gewen het! Swaarde van waterbessielote was soos Bennie Osler-toks - met hulle kon jy nie misskop nie. En ek hét 'n waterbessieswaard gehad.

Rassie van Graan, Astonbaai

Verkeersknoop

Jy's 'n oermens wat op 'n dag in jou uitgeholde boomstomp klim om te gaan visvang. 'n Sterk seestroom sleur jou mee en ná drie dae en twee nagte spoel jy uit op 'n verlate strand.

Dis vroegoggend en jy is rasend honger en koorsagtig dors. En hier ís jy nou - jy sit op jou hurke op die strand en bekyk die reemde plat voorwerp wat voor jou op die sand lê. Dis 'n buitelewetydskrif, maar jy weet dit nie. Jy dink by jouself dat dit nie juis eetbaar lyk nie. Dit lyk ook nie lewendig of regtig gevaarlik nie.

Dan steek die wind op en skielik begin die ding voor jou lewe! Dit waai soos palmtakke en voor jou oë verskyn daar 'n miniwêreld waarvan jy sommige dinge soos ape en akkedisse herken, maar daar is ook klein poele water en nog kleiner mensies tussen die "blare" van die vreemde verskynsel voor jou. Dis 'n toording, besluit jy. 'n Wonderbaarlike, ongelooflike skat wat met wind werk.

Jy tel die wonderding versigtig op en loop daarmee land in. Die klank van die see vervaag soos jy verder loop en 'n ander geluid klink al hoe duideliker op. Jy loop teen 'n steil heuwel uit en dink opgewonde dat dit 'n bergstroom moet wees met vreemde, skril voëlgeluide wat kort-kort eentonig die lug klief.

Dan staan jy eindelik bo en jy kyk uit oor 'n roesmoes van paaie en 'n stad in die laagte. Dis spitstyd op 'n Maandagmôre. Maar jy weet dit nie.

Voor jou oë krioel duisende keweragtige gediertes op ronde swart pote met vreemde bromgeluide en snaakse piepfluite. Hulle vorm bont ritse wat kruis en dwars oor die aarde lê en op plekke staan die spul botstil en beweeg net met kort stuiptrekkings, soos 'n bont wurm, vorentoe.

Waarheen sou hulle op pad wees? Waar is hul nes? Wat eet hulle en waarom het hulle so 'n slegte reuk wat die lug vol hang?

Jy gaan nader en sien dan 'n ontstellende ding - die gediertes het mense in hul oë!
Jy kyk na die boek in jou hand en die verkeersknoop voor jou. 'n Skril geluid, digby jou ore, trek jou aandag.

Dis jou wekker.
Dis Maandagmôre. En jy wens jy was 'n oermens.
Matilda Clifford, Bapsfontein

Pick n Pay Knysna Oesterfees

Die Pick n Pay Oesterfees, wat vanjaar 25 jaar van aksie en pret vier, sluit sowat 80 sport- en leefstylaktiwiteite vir die hele gesin in. Doendinge sluit hardloop, fietsry en avontuursport tot wynproe,'n whiskeyfees en elegante aande van dans in. En meer as 200 000 oesters moet opgeslurp word. Die datum is 4 tot 13 Julie 2008.

Vir meer inligting: 044 382 5510, www.oysterfestival.co.za.

Franshhoek Bastillefees

Franschhoek herdenk jaarliks die Bastille-geskiedenis. Topsjefs en wynmakers staan reg in die kos-en-wyntent op Saterdag 12 Julie en Sondag 13 Julie vanaf 12:00 tot 18:00. Maar dis nie net proe nie - daar sal ook boules, flotte, 'n sjef- en kelnerresies, boeremark, kindersokker, 'n balierol-kompetisie, bergfiets, musiek en vele meer wees.

Vir meer inligting: 021 876 3603, www.franschhoek.org.za.

Learskool Menlopark se Gemsbokfees

Op Saterdag 2 Augustus 2008 gaan die potte behoorlik kook by Laerskool Menlopark, want dis die dag van die groot Atterbury Gemsbokfees saam met Steve Hofmeyr.

Die hekke open om 12:00 wanneer die kinderspeletjies begin terwyl Pa en Ma in die biertuin kuier. Kom maak jou eie potjie en kuier gesellig saam met jou pelle. Stalletjies, verversings en die musiekkonsert beloof om die dag lekker af te rond.

Kaartjies is beskikbaar by die skool. Kom vier saam fees tot die gemsbokhorings stomp raak!

Vir meer inligting: 021 460 7201, www.menlolaer.co.za.

Roei op die Rio Elefantes

Jy kan vir drie dae en drie nagte as deel van die Rio Elefantes Canoeing Trail in die Limpopo- Nasionale Park roei. Van net onder die Massingir-damwal, die suidelike grens van die Limpopo- Nasionale Park, waar die Rio Elefantes sy watermassa ooswaarts na die Mosambiekse kus stoot. Drie dae se roei op 'n roete van 70 kilometer en drie nagte se kamp op die oewers van dié magtige rivier tot waar dit by die Limpopo aansluit.

Die Rio Elefantes Canoeing Trail word elke Vrydag aangebied; roeiers ontmoet om 8:30 by Campismo Albufeira, die kamp by die Massingir-ingang tot die wildtuin, en laat hul 4x4's daar. Blyplek vir die aand vóór die ontmoeting is beskikbaar.

Gaste sal die volgende Maandagoggend tussen 10:00 en 11:00 by hul voertuie afgelaai word.
Minimum van vier persone, maksimum 10 per toer. Ekstra aande kan by die Rio Elefantes-roeiprogram gevoeg word mits die groep uit meer as vier roeiers bestaan.

Vir meer inligting, koste en besprekings: 021 701 7860, www.tfpd.co.za.

Olifant-kaskenades

Ons is bevoorreg om deel te wees van Jejane- private natuurreservaat buite Hoedspruit. Hierdie olifant, Aftand, kom kuier gereeld by die huis... en is altyd dors. Nodeloos om te sê, ons "boma" se wasbak hou die plaaslike loodgieter op sy tone.

Groete
Mariana de Klerk

Die kruis in die sand

Die Richtersveld is 'n gewilde bestemming vir oud en jonk. Vir my ook, en vir 'n groep wat ons by De Hoop gekry het. Die groep het besluit dat hulle naby die water en die ablusieblok by De Hoop wil staan, al was hulle te veel vir die kampplek en al was dit in die middel van die pad naby die sandhope. As hulle daar wil staan, wil hulle daar staan!

Laer word getrek. Almal het 'n uitsig op die Garieprivier, behalwe die toerleier, Herman*, sy vrou, Susan*, en ons.

Dit pla ons min, solank ons in die Richtersveld is, is ons gelukkig, uitsig ofte not. Maar Susan is baie omgekrap. Sý ry nie so ver om nie die water te kan sien nie. Die een ding lei tot die ander en die twee se stryery oor hoe hulle waentjie moet staan, ontaard in 'n baie lelike ding.

Sy wil die wa na die kant toe laat kyk en hy daai kant toe. Stil is die stryery ook nie, die ander klomp slaan hul tente katvoeterig op, en loer net so onderlangs na die lawaai, te bang om in te meng, te bang om 'n woord te sê.

Herman gooi sy arms in die lug: "Nou waar op aarde wil jy dan die ding hê?!" bulder hy. Sy trek met haar voet 'n kruisie in die sand. "Hier, nét hier," sê sy tussen die trane deur.

Daar probeer die arme man die sleepwa in die sand omdraai, maar niks werk nie, die wiele steek vas en hy kry dit nie geroer nie.

Ons help toe versigtig om die wa te draai en oor die kruisie te stoot, want ons wil nie in die geveg betrokke raak nie. Toe die sleepwa mooi regoor die kruisie staan, sê Susan dat sy dit andersom wil hê; die waentjie se neus moet omdraai!

Net daar is nuwe petrol op die vuur gegooi en die twee is weer aan mekaar. Ons verdwyn toe maar vinnig terug na ons woonwa en begin tent opslaan.

Skielik staan Susan hier by ons tent, en met trane wat oor haar wange rol vra sy: "Waar dink julle moet ons ons waentjie staanmaak?"

Nog nooit was iemand so in 'n hoek gedruk nie. Van 'n tentopslaan-bakleiery tussen man en vrou moet 'n mens ver wegbly. Baie diplomaties vra ons hoe presies sy die sleepwa wil laat staan. Sy verduidelik, ons stap na Herman en vra hom dieselfde vraag en hy verduidelik.

Nou ja, so blyk dit dat hulle mekaar liederlik misverstaan het. Herman gee so 'n skaam laggie en trek sy bakkie in 'n stofwolk weg sodat die sleepwa weer gehaak en gedraai kan word.

* Die name is om vredesonthalwe verander.

Stef Cilliers

Mooi so, Mooiloop

Die HAT noem dit 'n metamorfose; dit is die reeks veranderinge wat 'n larwe deurmaak om tot volwassenheid te kom. Mooiloop het uit sy larwe gekruip.

Wat agtergelaat is, W-e-g-b-r-ee-k, is 'n versameling klanke wat rasper, skuur en plof in die mondholte. Wat voortgekom het, M-ooi-l-oo-p, is die deinende klank van 'n diftong en 'n lang klinker wat sagweg weerskante van die letter "l" hande vat, om voorspoed uit te spreek.

Mooiloop is 'n goeie naamkeuse vir jul tydskrif. Die woord is veranker in die geheue en onderbewussyn van Afrika, waar mense mekaar lank reeds net die beste toewens met "go well", "hamba kahle", "tsamaia hantle", en mooi loop.

Mooiloop hou ook die belofte in dat die leser saamgenooi word om op besondere plekke te gaan loop. Dankie dat julle Mooiloop die gelukkige bymekaarkomplek maak van soveel mense wat meesters is van die Afrikaanse taal, om dinge nuut te kan sê en voortdurend aan die taal te beitel. Mooiloop, soos wat dit tans aandoen, het die cliché uit die woord "mooi" gehaal; inteendeel, dit het 'n nuwe dimensie daaraan toegevoeg.

Daarom mag ek sê: baie dankie vir die vreugde om dié mooi tydskrif in die hand te kan neem.

Groete
Sunita Keyser

Mý Goggie kruip slim weg

Ek lees graag jul tydskrif, vind altyd baie stories en interessante plekke. Ek reis heelwat en is lief daarvoor om vreemde plekke te verken. Ek het spesifiek die "Goggas kruip slim weg"-uitgawe (Mooiloop, Mei 2008) geniet.

Ek het so 'n ruk gelede vir Goggie in my tuintjie gekry. Hy was eers op my madeliefiebos, maar nou bly hy op my roosboom en ek skuif hom van vars roos na vars roos wanneer die blomme verlep. Ek hou 'n vars roos aan die steel en buig dit nader vir hom - dan klim hy oor. Ek sien hy eet insekte en vlieë wat op die roos gaan sit. (Ek vang elke tweede dag vir Goggie 'n vlieg.)

Ek het in boekwinkels gekyk en gelees 'n "Eyed Flower Mantid" vermom homself en kan van kleur verander - Goggie is steeds pienkpers en kruip vir seker slim weg.

Elsie Baird, Oos-Londen

Dis nou mooi

Net gisteraand (Vrydag 16 Mei) word die klomp tydskrifte, of sal ek liewer erken, my naslaanboeke, weer agtermekaar gesit en terug in die kas. Ek sê vir Susan, dit is seker nou weer tyd dat die Mei-uitgawes moet kom.

Ons beplan 'n toer van Kimberley deur Botswana, Zambië, Malawi, Tanzanië, Rwanda, Uganda tot by die Albertmeer en die Murchison Falls- Nasionale Park. Van daar keer ons terug deur die Masai Mara, Serengeti, Ngorongoro, Natronmeer, Kilimandjaro, Dar es Salaam, langs die kus van Tanzanië af en wil ons gaan draai in die Selous voordat ons die Mosambiekse kus aandruf.

Dan wil ons na Cahora Bassa, verby oom Bob se verwoeste land - moontlik het vriend Morgan al by daardie tyd die leisels oorgeneem, maar ons vat maar liewer nie kanse nie. By Pafuri wil ons terugdraai. Moontlik gaan ons ook Swaziland toe waar ons in die vroeë 1990's vir vyf jaar gewoon het.

Ek het vir my in Excel 'n indeks gemaak van waaroor watter tydskrif wanneer geskryf het. Maar vra jy vir ons hedendaagse tegnologie wat hy van Rwanda weet, dan slaan hy 'n blank. Vra jy wat hy van Tanzanië weet, is daar so 'n enkele beriggie.

Vanoggend gaan haal ek pos uit, maar stoei eers verder met die beplanning. Augustus is om die draai en alles is nog nie mooi agtermekaar nie, al is die roete daar, die inkleurkryt is al stomp.

So val my oog weer op hopie pos en lees op die rugkant van een van die tydskrifte: "Mooiloop. Die Zambezi se geheim. www.mooiloop.co.za. Junie 2008 Vol 2 No 12."
Vra vir Susan watter tydskrif dit is, ek ken dit nie. Ek gryp die verpakking, maar sy sê: "Stadig, is dit ons pos? Maak dit net versigtig oop sodat ons dit kan terugstuur as ons dit nie wil hê nie."

Voor ek nog kan lees dit is Wegbreek wat nou mooi loop sê sy, dit moet die Lozi-koning wees wat na sy wintertuiste verhuis, ons móét daarna gaan kyk. Ons was al twee keer in die Liuwavlakte- Nasionale Park en het al gelees en gehoor van die watertrek. So begin ek ewe die brief aan Boeta lees en besef dat hier iewers fout is, ons moes die Mei-uitgawe van Wegbreek en jul naamsverandering misgeloop het. Sien, ons was in Namibië, die Khaudom en Kaokoveld. En nou beplan ons alweer die volgende wegbreek.

Omdat oom Marthinus so gaaf was om met die vriendelike mense van Namibië 'n ooreenkoms aan te gaan, kuier ons verder ook in die Kgalagadi. Daar is dan nou nie meer 'n grensdraad nie, en hulle maak dit moontlik om minstens nog twee dae later by die huis te kom. Die vereiste is dat jy daar moet oorbly as jy dié grenspos gebruik. Dit pas ons soos 'n handskoen!

Ek moet julle Mooilopers darem eers dié stukkie vertel: 'n bankbestuurder-vriend van my het altyd die uitdrukking "mooi loop" gebruik wanneer hy iemand groet. Eendag op Virginia kom maak oom Shortie 'n draai. Oom Shortie het sy bene verloor en is in 'n rystoel. Toe die oom vertrek, sê die bestuurder, soos gewoonlik: "Mooi loop." Toe hy besef wat hy sê, was hy baie verleë. Maar oom Shortie was te ordentlik en het geantwoord: "Jy ook."

Mooi loop!
Pieter Marais

Fraai foto's
Ek is lekker verras deur van die Bains-bergpasse in Mooiloop (Mei 2008) te lees. Carié Maas met haar lusmaak-skryfstyl is my nou al bekend, maar ek het iets nuuts gesien waarvan ek hou. Die foto's van Cara Bakkes.

Ek is geen fotograaf nie en vra liefs ie-mand anders om van my en die groepie 'n foto te neem as dit so moet. Dus beleef ek 'n foto aan die lekkerkrywaarde wat dit vir my inhou. Ek ry lekker as ek sekere goeters sien wat vir my iets in die "ou boekblaaie" vasgooi. Cara se prentjies van die drie passe is so gekies dat ek voel of dit vir my alleen bedoel was. Ek neem aan julle kies uit baie foto's en plaas die prentjies dan in die boek? Miskien kan julle nog 'n paar van hierdie prentjies maak.

Baie dankie en loop mooi verder sodat Mooiloop op sy nooiensvaart getooi sal loop met dinge waar ander al mooi geloop het of waardeur mense geïnspireer sal word om vorentoe te gaan mooi loop.

Vrede
Mario Bonthuys, Knysna


-------------------------------------

Junie 2008
Mei 2008

April 2008
Maart 2008
Februarie 2008
Januarie 2008
Oktober 2007
September 2007
Augustus 2007

 

 

footer