Ramsay, Son & Parker (Pty) Ltd

Foto: Mariska Kriek

 

 
 TUISBLAD
 NUUTSTE UITGAWE
 VAN DIE REDAKTEUR
 BOSSTORIES
 GROEN WENKE
 RADIO LANGPAD
 CHRIS BARNARD
 DOENDINGE
 BLOGS
 KOMPETISIES
 JULLE FOTO'S
 KONTAK
 SKAKELS
 SKERMBEELDE
 
 


 
Bosstories
Bosstories Briewe, reisverslae, nuusflitse en saakmaakstories

Januarie 2008

Eben woel onthou los
Eben Venter se storie van sy besoek aan Gdansk (September 2007) het my laat terugdink aan my kinderdae. Ek praat nou van 1934, 1935, 1936. Ek is gebore in Königberg en het ook daar skoolgegaan. Dit was die hoofstad van die destydse Oos-Pruise.

Ons huisgesin het in April 1937 van daar af gevlug na wat toe as Suidwes-Afrika (nou as Namibië) bekendgestaan het. Terloops, ek is van Joodse afkoms.

In die somer het ons in Pole vakansie gehou. Sopot was destyds 'n baie vooraanstaande vakansiebestemming. Ek, my suster en broer het baie in die Baltiese See geswem. Ek was so 10, 11 jaar oud en kan nie meer veel onthou nie. Maar die pragtige ou geboue onthou ek nog goed.

Ek het 31 Augustus 2007 84 jaar oud geword en het my man ná 45 jaar van 'n baie goeie huwelik aan die dood moes afstaan.

Ek wonder hoeveel mense in Suid-Afrika bewus is van daardie deel van die wêreld. Ek het gedink om julle te laat weet dat daar in ons mooi land iemand is wat bekend is met daardie deel van die wêreld.

Baie groete en voorspoed
Inge-Lore Venter, South Hills.

Wees mekaar se oë in die wildtuine
Met behulp van tegnologie is dit moontlik om dadelik te weet as jou medereisigers in byvoorbeeld die Krugerwildtuin net om die draai van jou 'n trop olifante raakgeloop het. Of jy kan hulle laat weet waar jy 'n trop leeus teenaan die pad sien lê het.

African Safari Journals het 'n elektroniese besigtigingsbord ontwikkel waarop die jongste wildbesigtigings aangedui word. As jy die Kruger-, Pilanesberg-, Hluhluwe-Imfolozi- en Etoshawildtuine in Suid-Afrika en Namibië besoek, kan jy toegang tot die inligting deur middel van jou selfoon verkry en hopelik sal jy meer diere sien terwyl jy daar is.

Die stelsel vir wildtuinvakansies is die eerste in sy soort ter wêreld. Dit stel besoekers in staat om deur middel van hul selfone op die internet in te skakel en wildbesigtigingsboodskappe wat deur ander lede geskep is, te lees en ook hul eie boodskappe te stuur - soos watter diere hulle waar gesien het.

Die konsep werk veral goed met leeubesigtigings, want dié katte is geneig om lank op een plek te bly. Lede kan dus die katte te sien kry al is hulle 'n entjie weg.

Lidmaatskap is gratis. Die enigste koste verbonde aan die gebruik van die stelsel is om boodskappe deur middel van die GPRS-netwerk (nie SMS nie) op te soek en te plaas, vanaf net een sent per boodskap.

Al wat Jan Alleman nodig het vir toegang tot die stelsel is 'n selfoon met 'n WAP-gerief, lidmaatskap aan die betrokke wildbesigtigingsgroep (wat gratis is) en 'n goeie oog vir wildkyk sodat hulle dit met ander kan deel.

Die stelsel is in Oktober 2007 bekendgestel en sowat 300 mense het binne die eerste maand aangesluit. Die Trust vir Bedreigde Natuurlewe maak ook van die stelsel gebruik om besigtigings van wildehonde in die Krugerwildtuin te fasiliteer.

Vir meer inligting en om lidmaatskap van die Kruger-, Pilanesberg-, Hluhlu-we-Imfolozi- of Etoshagroep te bekom, bel 013 712 7564, kruger@african-safari-journals.com,
www.african-safari-journals.com/african-wildlife.html.

Die Kruger in al sy glorie
Die langverwagte drievolume-boek oor die geskiedenis van die Krugerwildtuin (tot 1994) is onlangs tydens 'n glans-geleentheid in Pretoria bekendgestel.

Doktor Salomon Joubert, wat vanaf 1986 tot 1994 die hoof van die wildtuin was, het geen steen onaangeroer gelaat om die 110 jaar van die Kruger se bestaan se papierwerk, statistiese data, navorsingsverslae, foto's en ander dokumente te versamel en te ontleed nie. Trouens, sy navorsing strek oor 22 jaar en sluit die jare wat hy die hoof van die Kruger was, in.

Die resultaat is 'n ontsagwekkende dokumentering van die geskiedenis van die Kruger, onder meer aan die hand van "agter-geslote-deure-besluitneming" en bestuursprosesse deur die jare wat die formaat van die wildtuin help skep het.

"Dit is 'n handleiding van die vorming van die wildtuin en bied insig oor die rariteite wat gesorg het dat die Kruger Nasionale Park as een van die wêreld se top-natuurreservate beskou word," sê doktor Joubert.

Daar is drie verskillende uitgawes: Standaard-, Intekenaar- en Versamelaarstelle.

Laasgenoemde twee uitgawes is voor publikasie reeds uitverkoop.

Die drie volumes is geïllustreer deur die wildkunstenaar Penny Noall met reënval-, veldbrand-, topografiese en administratiewe disktrikskaarte deur die jare; asook honderde foto's deur professionele fotograwe, navorsers en Jan Alleman.

Die boek se indeling is volgens eras en sluit die prehistoriese en argeologiese geskiedenis en foto's van rotstekeninge uit die San-era in.

Die uitleg is skoon, klassiek en uiters leesbaar. Die massas inligting kon oorweldigend gewees het, maar die kombinasie van grasie en struktuur maak dit maklik verteerbaar. Met 'n eerste kykie na die boek weet jy dié is een wat permanent op die koffietafel, langs jou bed of op jou lessenaar sal bly.

Die boek word ten volle deur SANParke onderskryf. - Ronel Nel

  • Doktor Salomon Joubert: The Kruger National Park, a History. High Branching-uitgewers. R1 280 vir die stel van drie volumes, BTW en posgeld in Suid-Afrika ingesluit. Vir meer inligting, bel 011 483 1294, val@highbranching.co.za of besoek www.krugerhistory.co.za.

Die Suiderkruis staan nog hoog
Die verhaal van 'n motorfietstoer wat kom

Ek sukkel om snags te slaap. Die rede is 'n geel lyn op 'n landkaart. 'n Lyn wat ek vanaf my huis in Limpopo deur Afrika tot in Duitsland getrek het. En daardie lyn het my roete geword.

Die lyn het soos 'n reisiger wie se oë op 'n ver horison gerig is, verder gekruip.

Noordwaarts. Na 'n volgende kaart. Die kaart het vorm gegee aan 'n land. En nog een. Die een land het in die volgende gevloei en vorm aan 'n vasteland gegee. Die lyn het Afrika verlaat en slingerend sy pad in Italië tussen miljoene mense en huise en motors deur, verby berge en mere tot by die Tiroolse Alpe gevind.

Oor die Alpe. By Innsbruck draai die pad wes. Verby die St. Christopher-kerk waar die beskermengel vir reisigers die Christuskind op sy skouers deur die water dra. Dan kronkel die lyn oor die Fernpass tot in Duitsland. Verby die voet van die Zugspitze se hoogste bergpiek op 2 962 meter. Pfronten. Voor my woonstel verby waar ek vir baie jare gewoon het. Oor die Mainrivier tot naby Frankfurt waar die lyn 'n laaste draai maak en by Rote Hohl 5 indraai en stop. Die einde van 'n reis van 16 000 kilometer.

Ek het genoeg tyd gehad om my toer deeglik te beplan. Ek het genoeg langafstandritte gedoen waar ek my toerusting, my motorfiets en myself kon voorberei.

Maar wanneer ek op 15 Maart 2008 vertrek, is my doel nie dadelik Duitsland nie. Ek probeer om die omvang van tyd en afstand in my kop te systap deur my toer op te deel in 90 dagtoere.

My toer vir die eerste dag is tot by Francistown in Botswana. Die volgende dag se toer neem my tot by Kasane. Een lang toer word nou 90 kort vakansies en 90 geleenthede om mens, natuur en kultuur te ontdek en geniet.

My vertrek op die motorfietstoer is om die draai. Die Suiderkruis het nog nie vir die laaste keer verdwyn agter my rug oor die horison nie. Die pad vorentoe gaan 'n wonderlike ontdekkingstog word.

Kom deel in my toer deur die gebeure op www.naboom2germany.co.za te volg, of skryf aan my by lodie@naboom2germany.co.za.

Lodie de Jager, Mookgopong

 

 

footer