Bosstories Briewe, reisverslae,
nuusflitse en saakmaakstories
Januarie 2008
Eben
woel onthou los
Eben Venter se storie van sy besoek aan
Gdansk (September 2007) het my laat terugdink
aan my kinderdae. Ek praat nou van 1934,
1935, 1936. Ek is gebore in Königberg en
het ook daar skoolgegaan. Dit was die hoofstad
van die destydse Oos-Pruise.
Ons huisgesin het in April 1937 van daar
af gevlug na wat toe as Suidwes-Afrika (nou
as Namibië) bekendgestaan het. Terloops,
ek is van Joodse afkoms.
In die somer het ons in Pole vakansie gehou.
Sopot was destyds 'n baie vooraanstaande
vakansiebestemming. Ek, my suster en broer
het baie in die Baltiese See geswem. Ek
was so 10, 11 jaar oud en kan nie meer veel
onthou nie. Maar die pragtige ou geboue
onthou ek nog goed.
Ek het 31 Augustus 2007 84 jaar oud geword
en het my man ná 45 jaar van 'n baie goeie
huwelik aan die dood moes afstaan.
Ek wonder hoeveel mense in Suid-Afrika bewus
is van daardie deel van die wêreld. Ek het
gedink om julle te laat weet dat daar in
ons mooi land iemand is wat bekend is met
daardie deel van die wêreld.
Baie groete en voorspoed
Inge-Lore Venter, South Hills.
Wees mekaar se oë in die wildtuine
Met behulp van tegnologie is dit moontlik
om dadelik te weet as jou medereisigers
in byvoorbeeld die Krugerwildtuin net om
die draai van jou 'n trop olifante raakgeloop
het. Of jy kan hulle laat weet waar jy 'n
trop leeus teenaan die pad sien lê het.
African Safari Journals het 'n elektroniese
besigtigingsbord ontwikkel waarop die jongste
wildbesigtigings aangedui word. As jy die
Kruger-, Pilanesberg-, Hluhluwe-Imfolozi-
en Etoshawildtuine in Suid-Afrika en Namibië
besoek, kan jy toegang tot die inligting
deur middel van jou selfoon verkry en hopelik
sal jy meer diere sien terwyl jy daar is.
Die stelsel vir wildtuinvakansies is die
eerste in sy soort ter wêreld. Dit stel
besoekers in staat om deur middel van hul
selfone op die internet in te skakel en
wildbesigtigingsboodskappe wat deur ander
lede geskep is, te lees en ook hul eie boodskappe
te stuur - soos watter diere hulle waar
gesien het.
Die konsep werk veral goed met leeubesigtigings,
want dié katte is geneig om lank op een
plek te bly. Lede kan dus die katte te sien
kry al is hulle 'n entjie weg.
Lidmaatskap is gratis. Die enigste koste
verbonde aan die gebruik van die stelsel
is om boodskappe deur middel van die GPRS-netwerk
(nie SMS nie) op te soek en te plaas, vanaf
net een sent per boodskap.
Al wat Jan Alleman nodig het vir toegang
tot die stelsel is 'n selfoon met 'n WAP-gerief,
lidmaatskap aan die betrokke wildbesigtigingsgroep
(wat gratis is) en 'n goeie oog vir wildkyk
sodat hulle dit met ander kan deel.
Die stelsel is in Oktober 2007 bekendgestel
en sowat 300 mense het binne die eerste
maand aangesluit. Die Trust vir Bedreigde
Natuurlewe maak ook van die stelsel gebruik
om besigtigings van wildehonde in die Krugerwildtuin
te fasiliteer.
Vir meer inligting en om lidmaatskap van
die Kruger-, Pilanesberg-, Hluhlu-we-Imfolozi-
of Etoshagroep te bekom, bel 013 712 7564,
kruger@african-safari-journals.com,
www.african-safari-journals.com/african-wildlife.html.
Die Kruger in al sy glorie
Die langverwagte drievolume-boek oor die
geskiedenis van die Krugerwildtuin (tot
1994) is onlangs tydens 'n glans-geleentheid
in Pretoria bekendgestel.
Doktor Salomon Joubert, wat vanaf 1986 tot
1994 die hoof van die wildtuin was, het
geen steen onaangeroer gelaat om die 110
jaar van die Kruger se bestaan se papierwerk,
statistiese data, navorsingsverslae, foto's
en ander dokumente te versamel en te ontleed
nie. Trouens, sy navorsing strek oor 22
jaar en sluit die jare wat hy die hoof van
die Kruger was, in.
Die resultaat is 'n ontsagwekkende dokumentering
van die geskiedenis van die Kruger, onder
meer aan die hand van "agter-geslote-deure-besluitneming"
en bestuursprosesse deur die jare wat die
formaat van die wildtuin help skep het.
"Dit is 'n handleiding van die vorming van
die wildtuin en bied insig oor die rariteite
wat gesorg het dat die Kruger Nasionale
Park as een van die wêreld se top-natuurreservate
beskou word," sê doktor Joubert.
Daar is drie verskillende uitgawes: Standaard-,
Intekenaar- en Versamelaarstelle.
Laasgenoemde twee uitgawes is voor publikasie
reeds uitverkoop.
Die drie volumes is geïllustreer deur die
wildkunstenaar Penny Noall met reënval-,
veldbrand-, topografiese en administratiewe
disktrikskaarte deur die jare; asook honderde
foto's deur professionele fotograwe, navorsers
en Jan Alleman.
Die boek se indeling is volgens eras en
sluit die prehistoriese en argeologiese
geskiedenis en foto's van rotstekeninge
uit die San-era in.
Die uitleg is skoon, klassiek en uiters
leesbaar. Die massas inligting kon oorweldigend
gewees het, maar die kombinasie van grasie
en struktuur maak dit maklik verteerbaar.
Met 'n eerste kykie na die boek weet jy
dié is een wat permanent op die koffietafel,
langs jou bed of op jou lessenaar sal bly.
Die boek word ten volle deur SANParke onderskryf.
- Ronel Nel
- Doktor Salomon Joubert: The Kruger National
Park, a History. High Branching-uitgewers.
R1 280 vir die stel van drie volumes,
BTW en posgeld in Suid-Afrika ingesluit.
Vir meer inligting, bel 011 483 1294,
val@highbranching.co.za of besoek www.krugerhistory.co.za.
Die
Suiderkruis staan nog hoog
Die verhaal van 'n motorfietstoer wat kom
Ek sukkel om snags te slaap. Die rede is
'n geel lyn op 'n landkaart. 'n Lyn wat
ek vanaf my huis in Limpopo deur Afrika
tot in Duitsland getrek het. En daardie
lyn het my roete geword.
Die lyn het soos 'n reisiger wie se oë op
'n ver horison gerig is, verder gekruip.
Noordwaarts. Na 'n volgende kaart. Die kaart
het vorm gegee aan 'n land. En nog een.
Die een land het in die volgende gevloei
en vorm aan 'n vasteland gegee. Die lyn
het Afrika verlaat en slingerend sy pad
in Italië tussen miljoene mense en huise
en motors deur, verby berge en mere tot
by die Tiroolse Alpe gevind.
Oor die Alpe. By Innsbruck draai die pad
wes. Verby die St. Christopher-kerk waar
die beskermengel vir reisigers die Christuskind
op sy skouers deur die water dra. Dan kronkel
die lyn oor die Fernpass tot in Duitsland.
Verby die voet van die Zugspitze se hoogste
bergpiek op 2 962 meter. Pfronten. Voor
my woonstel verby waar ek vir baie jare
gewoon het. Oor die Mainrivier tot naby
Frankfurt waar die lyn 'n laaste draai maak
en by Rote Hohl 5 indraai en stop. Die einde
van 'n reis van 16 000 kilometer.
Ek het genoeg tyd gehad om my toer deeglik
te beplan. Ek het genoeg langafstandritte
gedoen waar ek my toerusting, my motorfiets
en myself kon voorberei.
Maar wanneer ek op 15 Maart 2008 vertrek,
is my doel nie dadelik Duitsland nie. Ek
probeer om die omvang van tyd en afstand
in my kop te systap deur my toer op te deel
in 90 dagtoere.
My toer vir die eerste dag is tot by Francistown
in Botswana. Die volgende dag se toer neem
my tot by Kasane. Een lang toer word nou
90 kort vakansies en 90 geleenthede om mens,
natuur en kultuur te ontdek en geniet.
My vertrek op die motorfietstoer is om die
draai. Die Suiderkruis het nog nie vir die
laaste keer verdwyn agter my rug oor die
horison nie. Die pad vorentoe gaan 'n wonderlike
ontdekkingstog word.
Kom deel in my toer deur die gebeure op
www.naboom2germany.co.za
te volg, of skryf aan my by lodie@naboom2germany.co.za.
Lodie de Jager, Mookgopong
|