Ramsay, Son & Parker (Pty) Ltd

 

 
 TUISBLAD
 NUUTSTE UITGAWE
 VAN DIE REDAKTEUR
 BOSSTORIES
 GROEN WENKE
 RADIO LANGPAD
 CHRIS BARNARD
 DOENDINGE
 BLOGS
 KOMPETISIES
 JULLE FOTO'S
 KONTAK
 SKAKELS
 SKERMBEELDE
 
 


 
Bosstories
Bosstories Briewe, reisverslae, nuusflitse en saakmaakstories

Februarie 2008

Wegbreek is mos ons mense
Partykeer is dit goed om te erken dat hardkoppigheid 'n ou partykeer dinge laat miskyk.

Ná die naamsdebakel tussen Getaway en Weg het ek daar en dan besluit - daar's nie 'n manier dat ek ooit die Afrikaanse Getaway naamlik Wegbreek sal ondersteun nie. Met die "vyand" sal ek nie heul nie.

Maar 'n dokter se spreekkamer laat jou snaakse dinge doen - soos om deur die November 2007-uitgawe van Wegbreek te blaai. Wat 'n aangename verrassing - iets heel anders as wat ek gedink het dit sal wees en vir seker nie 'n vertaling van Getaway nie. Wegbreek het 'n totale ander aanslag met heerlike artikels wat nié uit Engels kom nie. Die rubrieke is 'n plesier. Boekeloer en Radio langpad. Chris Barnard se stories was nog altyd my gunsteling, al van Chriskras se dae af.

Hierdie is nie die "vyand" nie; dis "ons mense" dié, besef ek.

'n Gewone reistydskrif is dit nie. Ook is ek bly dat julle nie geheel en al in die slagyster van meer geelbladsye (die advertensies aan die agterkant) as sinvolle artikels en inligting verval het nie. Ek besef 'n tydskrif se brandstof is advertensies, maar ek sal daardeur blaai as ek regtig na iets op soek is. Ek koop 'n tydskrif om te reis deur dit wat die skrywer en fotograaf aan my opdis.

So doe so voort. Ek sien uit na die volgende uitgawe.

Wat van 'n ander naam? Ha-ha!
Ockert van Tonder, Durbanville

Die bul is terug
Die Bull of Africa, Suid-Afrika se brahmaan-ekspedisie-avontuurresies is terug op die ekstreme-atletiekkalender en vind plaas van 9 tot 16 Augustus 2008.

Die eerste Bull is in 2004 aangebied toe 'n Kanadese span onder leiding van Lawrence Foster gewen het.

Vanjaar se sewedag-vasbyt oor ruwe terrein in die Oos-Kaap en aan die Wildekus sal meer as 30 plaaslike en internasionale avontuur-atlete lok wat hul vernuf sal toets in onder meer see- en rivierroei, bergfietsry, swem, navigasie en takelwerk op uiterste plekke. Duiselingwekkende kuskranse, wortelboom-moerasse, inheemse woude en Groot Vyf-reservate is deel van die roete. Die Bull of Africa begin op Vrouedag (9 Augustus) en sal op dié dag aandag skenk aan vroue wat in avontuur-wedrenne vooruitgang maak. 'n Afsonderlike vroue-kategorie sal aan spanne van Suid-Afrika, Brasilië, Amerika en Nieu-Seeland die geleentheid bied om die bul by die horings te pak. Prysgeld beloop R300 000 en die Bull is 'n kwalifiserende resies vir die Wêreld-avontuurresies-uitdaging wat in Oktober in Brasilië plaasvind. Dit sal die eindpunt wees van 'n jaar se swoeg en sweet waarin 10 lande soortgelyke professionele wedrenne aangebied het.

2008 Suid-Afrikaanse Kaasfees
Laat die aardse geure van kaas jou lok na die Suid-Afrikaanse Kaasfees vanaf 25 tot 28 April 2008 op die boomryke historiese Bien Donné-plaas op die Bolandse platteland tussen Franschhoek en die Paarl.

Van Suid-Afrika se legendariese kampioenkase en nuwe variëteite sal kaasliefhebbers verlei. Voorste wyne, olywe en varsgebakte brood word ook gebied. Besoekers sal ook die unieke geleentheid kry om plaaslike kase met hul Franse eweknieë, wat spesiaal vir dié geleentheid ingevoer is, te vergelyk.

Die hekke sal oop wees van Vrydag tot Sondag tussen 10:00 en 18:00, en Maandag 28 April van 10:00 tot 17:00. Toegang is R75 per persoon, senior burgers betaal R45 en onder 12's kom gratis. Getalle word beperk en kaartjies sal vanaf 1 Februarie by Computicket beskikbaar wees. o Vir meer inligting bel Agri-Expo by 021 975 4440, cheese@agriexpo.co.za, www.cheesefestival.co.za.

Luister hierna
As jy van plan is om vanjaar Namibië te besoek, sal Tourism Radio Namibië (TRN), wat spesifiek vir die selfrytoeris ontwikkel is, jou reis aansienlik verge-maklik. Dié radiostasie is 'n ligging-gebaseerde inligtingsdiens wat daartoe bydra dat selfrytoeriste hul reis deur en deur geniet.

TRN is beskikbaar via 'n klein toestel wat in 'n voertuig geïnstalleer word. Gerugsteun deur satellietbeheerde GPS-inligtingspunt-tegnologie word inligting insluitend tradisionele restaurante, blyplekke of historiese landmerke in die area waardeur jy ry, via die motorradio uitgesaai.

Die padveiligheidsaspek kry aandag deur die bestuurder vroegtydig te waarsku teen skerp draaie, bulte en bedrieglike rivierkruisings. Volledige inligting oor hoe om op 'n grondpad te bestuur en al die moets en moenies van grondpadry word breedvoerig uitgesaai.

Benewens streeksinligting saai die stasie ook meer as 400 eg Namibiese programme uit wanneer jy op sieldodende paaie soos byvoorbeeld dié tussen Mariental en Keetmanshoop of Nata en Maun ry. Alle roetes in Namibië en noordelike Botswana word gedek - vanaf Alexanderbaai en die Kgalagadi-oorgrenspark in die suide, noordelike Botswana op tot by Victoria Falls en Livingstone in Zambië tot Ruacana en Terrace Bay aan die Namibiese weskus.

Die huur van die toestel kos R75 per dag, installering is maklik en jy kan dit binne sekondes gebruik.

Wegbreek ry saam
Ons het vanaf Pretoria deur Botswana na Walvisbaai in Namibië gery. Ons het om 10:00 op 'n Sondagoggend in die pad geval en 'n goeie 12 ure later in Gobabis, Namibië, oorgeslaap.

Die volgende dag was ons batterye herlaai en het ons die pad na Walvisbaai aangedurf. Die roete van sowat 1 900 kilometer is 'n moet vir enigiemand wat van die lang pad hou en die droë landskap geniet.

Die paaie tot in Walvisbaai is baie goed, maar ek sal nie aanbeveel dat mense die Botswana-deel in die nag ry nie. Ons het heelwat karkasse van donkies of beeste wat getref is langs die pad gekry. Die veld is nie toegespan nie, so 'n mens moet jou oë heeltyd oophou vir diere.

Namibië het weer koedoes wat sommer oor 'n draad in die pad spring.

Dié foto is 50 kilometer anderkant Swakopmund geneem.

Groete
Batie en Shirley Hogewind

Die Subaru en Mabuasehube

Ek het 'n paar jaar gelede in 'n Engelse reistydskrif die volgende oor 4x4's gelees wat vir Kalahari-togte aanbeveel word: "Cross the Botswana border, or choose one of the special Kgalagadi trails and you'll definitely require oomph of a genuine high clearance 4x4 (the likes of Subaru Foresters and VW Synchros won't make it)."

Dit het my nogal laat dink en wonder toe ek in Januarie 2006 die Subaru Forester 2,5 XS gekoop het.

In Augustus 2006 het die Subaru die paaie in Moremi taamlik goed gevat en ook die stuk dik sand verby Mankwe Bush Lodge, verder noord.

In Augustus 2007 het ek die stuk grondpad van Morokweng oor Heuningvlei tot by McCarthys Rest met die Subaru aangedurf. Ons is daar oor die grens tot by Tsabong.

Die Subaru was swaar gelaai met kamptoerusting vir twee weke, 'n spaarwiel en twee jerry-kanne op die dak. In Tsabong het ons pad gevra na Mabuasehube; ons aanwyser het halfskepties gevra: "Is this a 4x4?"

Ek het dadelik aan daardie artikel gedink en omdat ons alleen gery het, het ek begin twyfel. Die eerste 30 kilometer is 'n taamlik goeie gruispad en daarna word dit 'n tweespoor-sandpad. Die middelmannetjie is hoog en later word dit 'n breë sandpad, waar elkeen ry waar hy dink dit die beste is.

Ons is verby 'n uitgebrande Landy en het tot by Mabuasehube gery. 'n Entjie in Mabuasehube in, op die tweespoor-sandpad, moes ons agter nog 'n Landy stilhou. Dié se brandstofpomp het gelol. Vanaf Mabuasehube het ons met 'n breë stuk sandpad na Hukuntsi gery. Die sand was baie los en hier en daar het die Forester se pens gesleep, maar dit het nooit gevoel of hy wil vasval nie. Die hittenaald het ook nooit opwaarts beweeg nie.

My banddruk het ek op 1,6 gehou. Die laaste ongeveer 16 kilometer voor Hukuntsi is baie sleg en daar is diep sand wat nog meer losgetrap word deur groot vragmotors. Ons het deurgekom!

Die totale afstand sand wat ons gery het, was ongeveer 300 kilometer en dit het ons amper sewe uur geneem om af te lê.

Ons het verder gery tot by Maun, later Sepopa, Mohembo, Seronga, daar teruggedraai na die Epupa-val toe en toe huiswaarts gekeer.

Soos die vorige jaar het ons byna 5 000 kilometer afgelê sonder enige probleem; die Forester het net bly loop.

Ons was ook al 'n keer Kgalagadi toe, weer grondpad van Morokweng af oor Severn, Van Zyls, Askam tot by Mata-Mata - 600 kilometer grondpad sonder moeilikheid.

Ek ooreis vir seker nie my voertuig nie. Toe ek ná die Botswana-reis by die huis kom, was daar nie eers sand op die enjin nie en die lugfilter was eweneens skoon. Al ekstras wat ek aangebring het, was staalplate om die enjin en ewenaar te beskerm. In Augustus is dit baie droog en die sand was baie los en die middelmannetjies hoog.

Wat ek geleer het, is dat jy nie dié stasiewa moet onderskat nie. Tree verantwoordelik op en jy sal verbaas wees waartoe hy in staat is as dit moet. Die Scooby skrik nie maklik nie.

Sal ek dit weer doen? Ja, beslis! Ek sal net nie die voertuig so swaar laai nie en ek dink dit is dom om alleen met een voertuig te ry.

Japie Steyn, Heilbron

Generasiegapings en speellys-versoek
So sit ek in Machadodorp en sukkel met 'n laptop wat nie 'n klankkaart in het nie en nie die GPS se geheuekaart lees nie, toe Ismael van die Cash Store inkom.

Hy het warm springmielies in ruil vir tydskrifte gebring. Nou, ek vermy popcorn verder as vroue wat nie hard nies nie, maar Ismael ken van rekenaars so ek seg: "Sit, seun, en help die oom."

Ek het die knaap laasweek vir 'n spin gevat nadat hy 'n sportmotor help poleer het en hy was baie brawer as Willem of Gerhard. Hy het byvoorbeeld sy onderbroek nie een keer vuilgemaak nie. Ná die tyd wou hy ook my voete soen. (Of dit vir die sywaartse draaie of die lewendig tuiskoms was, weet ek nie, maar ek hoop bostaande twee lafhartige spoedvrate leer 'n les).

Ewewel, Ismael het 'n CD vol doef-doef-gemors in die motor vergeet en dis nou die eiendom van 'n karwasser in Johannesburg.

Wyl hy toe gou kyk of hy my met die rekenaar kan help, speel ek vir hom musiek om sy toetrede tot die volwasse wêreld aan te help.

Was dít vir jou 'n openbaring.

U2? Ken dit glad nie. Pink Floyd? Hy vra of dit iets met daai chick Pink te doen het. Janis Joplin is "nogal naais, is dit 90's?" AC/DC, Toto en Beatles - "wassit nie advertensie-.jingles nie?" Supertramp, Toto, Led Zeppelin, Lennie Cravitz en ZZ Top ken hy niks van nie.

Maar hy't aaklige Afrikaanse doef-doef-pop op sy selfoon. Ek gee toe, die een se doef is die ander se poef, maar as mens ná die tyd nie die deuntjies kan neurie nie, kan jy tou opgooi.

Die Indiër-knapie het egter hogere aspirasies as poedels. Hy wil Afrikaanse chicks date.

In Belfast. Waar die boere nog kort blou broekies, kakiehemde en rygbykouse dra.

Ons algar weet, al praat Ismael vlot Afrikaans en al ken hy De la Rey agteruit, gaan hy met sulke leemtes in sy musiekagtergrond nie lank onder Afrikaanse poppe oorleef nie.

En so is Ismael weg met die ongekoude popcorn en sy geheuestok vol huiswerk, onder meer in die vorm van Karin Zoid se Plane Jane, Jan Blohm se Groen Trui en 'n paar Kerkorrels.

Wonder ek toe nou, raak ek nie dalk in my dorpie agter wat nuwe plaaslike musiek betref nie? Dus die versoek aan julle wat 'n goeie tjoen waardeer: waarna luister julle wat 'n regte tromspeler het en met musikante wat unplugged deuntjies speel wat in jou kop bly draai?

(Wenk: Freshly Ground se DuhBie-DuhBieDuh kwalifiseer, maar tel nie.)

Groetnis vanwaar die heuwels nou groen bult.
A, Machadodorp, Mpumalanga

Bespreek aanlyn vir SANParke-verblyf
SANParke het 'n intydse aanlyn-besprekingstelsel op sy webwerf by www.sanparks.org/tourism/bookings bekendgestel wat aan Jan Alleman die geleentheid bied om alle verblyf-besprekings aanlyn te doen.

Ná 'n eenmalige registrasie-proses kan toeriste deur die verblyf-opsies by SANParke se wildtuine en hul kampe blaai,'n toerprogram saamstel en bewarings- en verblyfkoste per kredietkaart betaal. Besprekings word per e-pos bevestig.

Marthinus van Schalkwyk, minister van omgewingsake en toerisme, het tydens die World Travel Market in Londen gesê die aanlyn-besprekingstelsel was die volgende logiese stap vir SANParke om Suid-Afrika internasionaal mededingend te hou.

Meer as 580 miljoen mense wêreldwyd het in 2006 die internet ingespan en sowat R15 miljard aanlyn bestee, waarvan aanlyn-aankope en toerismeprodukte boaan die inkopielys was. o Met ons ter perse gaan, kon die stelsel besprekings tot 31 Mei 2008 fasiliteer.

 

 

footer