|
Bosstories
Briewe, reisverslae, nuusflitse en saakmaakstories
Augustus 2008
'n Hoender se geloop
Die
nuwe naam Mooiloop is spog-gerig
en ek wil tog 'n storie vertel van 'n lopery
wat ek eenkeer self beleef het. Die les
van die storie is, as iemand jou "mooi
loop!" met 'n vriendelike gesig toewens,
moet jy net seker maak dat hy weet waarheen
hy jou stuur.
'n Baie slim man het die towerformule teen
hartaanvalle evind: oefen dat jy bars en
vreet baie mieliepap, want die mense wat
baie pap eet, werk hard en kry nie hartaanvalle
nie. Die pers het die nuwe deurbraak met
groot fanfare aangekondig en so het die
hoofbestuurder van 'n hoenderslagplaas besluit
om mee te doen. Ten einde nie agter te bly
nie, het van die grootste versekeringsmaatskappye
ter wille van die advertensiewaarde daarvan
aan die bekende hoofbestuurder 'n baie groot
polis geskenk.
Dit was nie drie maande nie, of die hoofbestuurder
kry sy hartaanval en hy is vort na die Groot
Klomp, want daar moes toe al baie gewees
het wat die tydige met die ewige verwissel
het.
By die hoenderslagtery eet 'n ou werker
genadebrood, want hy kan nie meer die volle
werklas dra nie. Gevolglik word hy beveel
om elke hoender wat onderstebo op die vervoerband
aankom, met sy skerp messie onder die keel
tot bo te steek. So kom die vere makliker
los vir die plukmasjien.
Hy doen sy plig sonder die minste emosie
en elke hoender wat by hom verby is, het
ongeveer 10 meter op die vervoerband om
klaar te skop, min of meer soos 'n afkophoender
se pote wat bly loop. Jy sien net rooi en
vere waai, dan woerts! deur die vereplukmasjien.
Nadat ek die ou so 'n rukkie dopgehou het,
vra ek hom of hy nie bang is dat hy sal
hel toe gaan as hy so baie hoenders doodmaak
nie.
Die man se antwoord het getuig van absolute
sekerheid: "Die oorle hoofbestuurder
is al daar, hy moet maar daar ook vir my
praat."
Sien, as jy eerste loop, soos die hoofbestuurder,
en 'n versekerings-maatskappy jou boonop
op jou weg help, moet jy die mooiste loop.
As jy daarby 'n man is wat derduisende geveerdes
hoenderhemel toe laat loop, en dan agterna
moet loop, moet jy in jou spoor trap in
die hoop dat dié wat jou vooruit
loop, sal sorg dat jy ook mooi loop.
Groetnis
D.F. du Toit, Noordbrug
Reisgenoot
Ek het altyd van hom geweet. Kleintyd al
kon ek hom langs my oom se Hammerstein-radio
voel, waar ek sit en droom het oor al die
kortgolf-stasies voor my. Jy kon die knop
draai van Helsinki na Warskou, verby Moskou
en Stockholm na New York toe. Groter as
die res was ewige Londen, middelpunt van
die paneel en die wêreld. Die vreemde
name en fantasieë oor hul vreemde inwoners
het toe reeds hul nette van verwondering
vir my begin uitgooi.
Baie
jare later het ek hom vir die eerste keer
in lewende lywe gesien. Dit was op die vliegtuig
terug van Ierland, 'n jaar of wat die nuwe
millennium in. Hy het skuins agter my gesit;
losgat-Levi's aan, klein glimlag om sy mondhoeke,
slim oë wat vir my kyk sonder wegkyk.
My vel het begin tintel en ek het haastig
nog 'n slukkie wyn geneem. Die ander passasiers
het verleë in hul sitplekke versit;
'n paar tantes het hulself afkeurend met
die In Flight-tydskrif begin koel
waai.
Hy het saam met my huis toe gekom en my
nie weer gelos nie. Hy was hier om te bly,
ek moes vir hom plek maak, sy houvas probeer
verstaan. Maar hy laat hom nie maklik ken
nie. Dít is wat my, en mense sóós
ek, vasgevang hou.
Elke nag klim hy styf agter my rug in.
Hy fluister warm beloftes van ver plekke
en onbekende mense teen my wang. Hy vertel
my van 'n plek met smaraggroen velde; met
klam, bruin blare wat 'n tapyt onder my
voete vorm; met nagswart kraaie wat voor
my uitkras en 'n droefgrys lug wat om my
vou. Hy gaan my met 'n veerboot na 'n eiland
neem vir 'n winterpiekniek, sê hy.
Ons sal teen laatmiddag, wanneer dit al
donker word, terugkom huis toe. Die pad
waarmee ons ry sal deur klein dorpies kronkel,
Kersliggies oral om ons, slierte mis wat
tussen lochs en berge sweef.
Wanneer ek voel die verlange na hierdie
plekke gaan my verswelg, staan ek op en
sit musiek kliphard aan. Miskien die "plesierige
Afrikaners", waarop ek in die donker
kan rock totdat my kop skoon is. Ek dans
met oë toe, met arms wat los beweeg
soos seewier in vlak branders.
Dan is hy by my.
Hy leun teen die muur en hou my dop terwyl
ek vir hom dans. 'n Stadige glimlag vorm
oor die seunsgesig. Want hy weet Afrikaners
is plesierig, maar dat twee weke in die
vreemde veel meer belofte vir my inhou.
Belofte van myself wees en doen wat ek wil,
want niemand ken my nie. Van die masker
afhaal, die hare losskud en weer asemhaal.
Van alleen in 'n warm pub sit terwyl Hooglandwinde
buite tier en weet daar is iemand wat nou-nou
gaan naderskuif vir 'n vriendelike geselsie,
miskien selfs 'n flirtasie met mooi woorde
wat later weer opgeroep gaan word, vir onthou.
Belofte van 'n vreemde taal in 'n Gotiese
stad waarin ek kan verdwaal en moontlik
vir altyd kan wegraak - om dan, jare later,
opgemerk te word saam met 'n donker Slawiër
waar ons op die ou stadsplein sit en pilsener
drink. Of 'n vlietende droombeeld van Eurochic-ek,
op 'n drafstap deur die Metro, spykerhakies
aan, aktetas in die hand.
In die donker sitkamer, met polsende musiek
om ons, sit sy hand laag op my rug en begin
my stadig draai. In my hare vertel hy van
ou mans in klein dorpies wat snags met blink
oë Yeats se gedigte sing. Hy begin
die gedigte vir my fluister en ons draai
vinniger en ek voel sy voorarmspiere styf
trek onder my vingerpunte.
Kom weg saam met my
ek sal jou wys
waar genade maklik te kry is. Ek sal jou
lei na ruwe rotse onder 'n vuurtoring sodat
jy die wilde see se sproei teen jou gesig
kan voel en ons sal bly staan totdat ons
deurnat en koud is. En dan sal ek jou huis
toe neem en met 'n groot, wit handdoek droog
en warm vryf.
Kom saam met my, mooi vrou. Jy weet dis
net ek wat jou in die na-nag laat dans,
wat jou hunker vir 'n klein rukkie stilmaak.
Ek is die een wat jou oë oopmaak, wat
jou laat onthou wie jy regtig is.
Ek weet dit is waar en trek my vinger oor
die sagte plekkie in sy nek. Vir die eerste
keer kyk ek sonder skroom in sy stil oë.
Om en om draai ons, vinniger en vinniger.
Kom ons gaan, sing hy dringend. Jy weet
ek sal, sê ek uiteindelik en ons swaai
in die rondte totdat ons moeg in mekaar
se arms val om te slaap totdat die Afrikason
helder en hoog sit.
Nadia de Kock, Pretoria
Toe
loop Lewe en Dood hand aan hand
In ons kindweesdae was daar 'n speletjie
waar twee kinders hande vat en dan moet
die ander probeer onderdeur kruip. En nou
het Lewe en Dood hande gevat en gelag toe
ons toergroep op 9 Mei 2008 in Beijing,
China, aanland.
Die gees van die Olimpiese Spele het toe
al oor die stad gedryf en soos elke ander
toeris drink jy met die oë: die Tiananmen-plein,
Tempel van die Hemel, Verbode Stad, die
Groot Muur ...
Maar op Maandag 12 Mei om 14:28 ruk die
ergste aardbewing in 30 jaar vanuit die
episentrum by Wenchuan naby Chengdu in die
suidweste van China die ganse groot land
eers tot stilstand en dan tot beweging.
Ons was in Xian om na die argeologiese
wonder van die terracotta-krygers te kyk:
6 000 lewensgroot soldate van klei. Maar
nou tree duisende soldate bloedwarm aan
om verdwaasdes, beseerdes onder steen en
stof uit te haal. 'n Soldaat abba (soos
uit ons kleuterdae) hulpeloses: 'n vrou
van 80, 'n meisie, 'n kind.
Dinsdag 13 Mei reis ons juis na Xian, so
600 kilometer van die verwoeste Sichuan-provinsie.
In Beijing, voor ons nog van die omvang
van die ramp geweet het, lag ons oor bekommerde
familielede se navrae. Ons SMS terug: Nee,
ons is ver weg, ons lag die hele tyd. Maar
nou het die lag verstil en ons lees verstom
in die China Daily die verhale wat
instroom.
Tekenboeke uit die puin wys klein kinders
was die Maandag besig om prentjies van die
son te teken toe die klaskamers op hulle
ingeval het. Op 8 Mei, toe alles nog heel
en prentjiemooi was, het hulle blomme, katte
en 'n groot skoenlapper geteken.
En
daar is die verhaal van Chen Jia (25) van
die China Daily en sewe ander joernaliste
op pad terug van stories oor die Wolong-natuurreservaat.
Toe 'n rotsstorting hul bussie tref, omkeer
en tot op 'n afgrond skuif, toe praat hulle
mekaar moed in en besluit saam om nie te
huil nie. Ver na onder gewaar Chen Jia,
vasgeklem tussen die agterkussing en haar
skootrekenaar, 'n rivier. Een neem hul gesprekke
op 'n selfoon op. Ná drie ure daag
'n Tibettaan - 'n Samaritaan - en twee ander
groenteventers op om hulle met 'n yster
en stokke te bevry. Nadat die vyf mans en
drie vroue deur 'n nou opening na buite
getrek is, staan Chen Jia net in haar onderklere,
maar 'n kollega trek sy klere uit om haar
teen die reën en koue te beskerm. En
dit is maar nog net die eerste deel van
hul verhaal.
Gaandeweg groei die dodetal tot tienduisende
aan en die beseerdes tot honderdduisende,
maar uit Mianzhu word berig 500 is tog lewend
uit 'n ingevalle gebou gered. 'n Reuters-foto
toon duisende leerlinge neem in Hefei aan
'n aardbewing-oefening deel. Vanuit die
lug lyk dit soos 'n reuse-piekniek.
Dan swaai ons met verligting suidooswaarts
weg na Guilin vir 'n bootvaart op die verruklike
Lirivier - Guilin tot Yangshuo. Daar is
die sprokiesbeligting van die Rietfluit-grotte
(baie, baie groter as ons Kango). Ons beleef
die Impression Sanjie Liu: 600 deelnemers
op 'n natuurlike waterverhoog met bergpieke
daaragter en 'n volmaan. Fan Yue, een van
die regisseurs, is ook gemoeid met die opening
van die 2008-Spele.
Elders is daar ook pikante detail. Duikers
(kormorante) word gebruik om visse te vang
vanaf bamboesvlotte. 'n Halsband verhoed
dat die voël die vis insluk. Hy moet
die vis vir die visserman vang en bring.
In Shanghai, en die hele China, is daar
op Maandag 18 Mei, 'n week ná die
aardbewing, om 14:28 drie minute stilte
- 'n stilte wat beteken jy praat nie en
jy beweeg nie. Net duisende sirenes, ook
van motors, treine en skepe.
Terug in Suid-Afrika groet ons en sê
"mooi loop". Later, knus in jou
Bolandse bed, slaap jy die vlugvoosheid
af, en droom van die Spele van Beijing en
van die stiltes van Wenchuan en Chengdu.
Die volgende môre kom die koerant.
En dan kom die gedagte op: as China se aardbewing
óns getref het, sou daar nie plek
of tyd gewees het vir vreemdelingehaat nie.
Christine du Toit, Stellenbosch
Sies, skaam julle!
Ons
gesin het oor die Paasnaweek in Onder-Sabie
in die Krugerwildtuin gekamp en het byna
alles behalwe 'n luiperd gesien. Die Sondagmiddag
het ons 'n boodskap gekry dat 'n luiperd
in 'n boom by Sunset-dam net buite Onder-Sabie
is en ons het ons daarheen gehaas.
By Sunset-dam gekom, was daar tientalle
motors en almal was baie opgewonde oor die
luiperd wat in die groot boom naby die pad
aan 'n rooibok vreet. Toe ons beurt uiteindelik
aanbreek om naby genoeg te kom en ook die
skouspel te sien, spring die luiperd uit
die boom en verdwyn in die ruie bosse.
Die rede vir sy haastige vertrek was 'n
paar uiters selfsugtige en onopgevoede besoekers
wat eenvoudig geen respek het vir enigiemand
anders of vir die reëls van die Wildtuin
nie. Behalwe vir 'n hele klomp mense wat
halflyf uit hul motors gehang het, was daar
minstens vier mans wat uit hul voertuie
geklim en nader gestap het om die luiperd
te kan sien!
Wilde diere sien motors nie as 'n natuurlike
bedreiging nie, maar herken mense wat buite
hul voertuie is wel as 'n moontlike gevaar.
Hierdie ouens se optrede is eenvoudig onverskoonbaar.
Groete
Manie Bosman
Hasie-hop in die Tankwa
Ek
was laas in die Tankwa-Karoo toe ek tydens
my matriekkamp angsbevange saam met Hoërskool
Calvinia se 1985-graad 12's agterop oom
Job Steenkamp van Soekop se skaaplorrie
die Gannagapas afgekruie het.
Ná 23 jaar het ek en my man onlangs
die Tankwa-Karoo- Nasionale Park besoek
en gebly in die lieflike huisie op Paulshoek
met die sloddergat mossienes en netjiese
swaeltjienes langs mekaar op die stoep.
Wat 'n ongelooflike ervaring! Vir my wat
in die Agter-Hantam grootgeword het, was
die naweek in die Tankwa onbeskryflik groot.
Alles was so bekend
geen elektrisiteit
net die sagte gloed van paraffienlampe en
kerse met skaduwees teen die mure en die
bekende dreuning van die paraffienyskas
in die stilte van die nag.
Die groen Jewel-houtstoof in die kombuis
het my laat dink aan ons eie ou Aga en hoe
my ma op witgerypte Maandagoggende ons skoolklere
voor die stoof gehang het om warm te word
voor ons die 80 kilometer grondpad aandurf
koshuis toe. Die weggooi-moflammertjies
wat op 'n goiingsak in die oop lou-oond
lê sodat hulle weer lewe kan kry.
Die geknetter van doringhout as ons braai
en die reuk van vet lamstjops op die kole.
Die nostalgie toe ek met fyn houtjies 'n
vuur onder die donkie aanpak sodat ons warm
water vir die aand se stort kan hê.
Dieselfde vrees as kleintyd toe 'n grillerige
growwe geitjie teen die muur bo my bed sit
en motte vang.
Maar die hoogtepunt van die naweek was
toe ek en my man Saterdag laatmiddag op
die stoep sit en braai, en ek kyk so na
die paar bloekombome voor die huisie en
skielik kom die mooiste kleintydherinnering
by my op
hoe ons as laerskool-koshuiskinders
destyds op Calvinia onder die bloekombome
Hasie-hop gespeel het.
Jy trek met jou kaalvoet 'n groot haas
in die sand, dan soek jy vir jou 'n lekker
plat klip wat nie maklik rol as jy hom gooi
nie. (Hierdie klip vat jy vanaand saam kamer
toe anders tel 'n ander kind hom môre
op om mee te Hasie-hop).
My man sê hy ken nie Hasie-hop nie
en net daar trek ek my skoene uit, trek
'n groot haas in die sand met my 41-jarige
paar menopouse-voete en soek vir my 'n lekker
plat Karoo-klip. En toe spring ek Hasie-hop
dat die Tankwa-stof staan. My soms-te-sedige
man kon nie anders as om my voorbeeld te
volg nie en toe ek weer sien, spring my
ou stadshaas dat sy twee "grand"
leersandale sommer so skeef in die stof
trap.
Nodeloos om te sê dat ons agterna
baie dankbaar was dat daar nie 'n lewende
siel in sig was wat hierdie gehoppery en
gegiggel kon gadeslaan nie. Die springery
was ook nie baie goed vir my man se aangebore
rugdefek nie
en toe almal Maandag
by die werk wil weet hoekom hy so hink-en-pink
het ek met 'n skelm laggie geantwoord: "Dis
van Hasie-hop in die Tankwa-Karoo."
Marieta Groenewald, Citrusdal
Het
julle al so iets gesien?
Ons het dié sebra in die Etosha-
Nasionale Park, Namibië, raakgeloop.
Ons weet nie waarom die sebra so sonder
strepe en swart is nie. As iemand dalk van
hulp kan wees, sal dit hoog op prys gestel
word. Ná al ons besoeke aan wildtuine
is dit die eerste keer dat ons so iets raakloop.
Peter en Maryna Olivier, Joubertina
'n Pluimpie vir iets van als
Ek
moet vir Mooiloop 'n pluimpie gee:
ons gesin geniet die tydskrif terdeë;
daar is iets van als en my kinders kan van
die artikels gebruik vir hul skooltake.
Ons het een uitgawe gekoop en dadelik besluit
om in te teken op die puik tydskrif. Baie
dankie daarvoor.
Herbertsdale-groete
Danielle Truter
Mooiloop... man, dis darem lekker as
dinge regloop... dan wil ek voorloop na
die naaste winkel om die nuutste uitgawe
te kry... sodat ek kan wegloop na die stilte
om heeltemal saam te loop waar julle was...
sonder om self te veel rond te loop... want
ek lees lekker ... Baie dankie en hou aan
voorloop met Mooiloop. Ek gaan nou
weer wegloop na die ander artikels wat in
die Julie 2008-uitgawe nog nie onder my
oë deurgeloop het nie.
Sterkte
Hennie Viljoen, Okahandja, Namibië
Baie dankie vir die Koos Kombuis-CD wat
ek gewen het (Mei 2008-uitgawe). Ek het
Bloedrivier gister in die pos gekry;
ek is mal oor Koos Kombuis en wou hom koop,
maar in Potchefstroom is hy lankal uitverkoop.
Baie dankie vir 'n wonderlike tydskrif
en al die lekker kompetisies. Ons leer en
beleef saam met Mooiloop al die lekker
plekke en dit maak ons wegkomkanse sommer
baie interessanter.
Vriendelike groete uit 'n koue Noordwes.
Leanne van Rensburg |