| |
| Bosstories |
Bosstories Briewe, reisverslae,
nuusflitse en saakmaakstories
Augustus 2007
Die verkeersman en die kontaklense
Om deur 'n verkeersman gestop te word, laat 'n mens nou maar eenmaal 'n beangste klemming om die hart kry, wetend skuldig of onskuldig.
'n
Mens wonder benoud of die duiwel skelmpies
jou bestuurslisensie uit jou beursie gesteel
het, 'n nommerplaat laat afval of 'n swetterjoel
dinge laat gebeur het om die verkeersman te
vertoorn. Word jy in die buiteland gestop,
kry dié vrees vlerke. Op 'n reis in Botswana
verminder ek spoed en probeer so nederig moontlik
langs die verkeersman stop wat half in die
pad met sy uitgestrekte arm staan. Ek trek
die Overland-trok mooi netjies tot by hom.
My hele houding straal respek uit. Agter in
die passasiersdeel sit die groep Duitsers,
Skotte en Engelse op my toer baie stil en
praat nie veel nie. Ook hulle besef die erns
van die saak.
Die verkeersman kom stadig nadergestap. My hart doef benouderig, maar ek het mooi gekyk dat ek by die spoedgrens hou, ek dink nie daar is fout nie, dalk is dit net roetine.
Die verkeersman lyk besonder deftig in sy uniform en kom staan by my venster. Hy groet vriendelik en ek groet veel vriendeliker terug. "May I see your license, please?"
Dis maklik genoeg en ek gee vir hom die lisensiekaartjie aan. Hy bekyk dit en wys na my gesig op 'n beskuldigende manier. Hoe nou? Dis tog ek op die foto? Maar dis nie wat hy bedoel nie.
"You have a restriction," sê hy. "You must wear glasses."
"Yes, but I am wearing contact lenses," verduidelik ek.
"No. You must wear your glasses."
Ek en die verkeersman praat draaie om mekaar
sonder kans om in die middel te ontmoet. Hy
soek 'n bril en ek probeer verduidelik my
kontaklense werk net so goed. Maar die verkeersman
is onwrikbaar. Hy kan nie die lense sien nie.
Ek besef hierdie kan 'n lang storie word en
ons moet nog kamp opslaan en die sonsondergang
by die soutpanne by Nata haal. Die speedy
lyk vir my reg vir redeneer tot tjaila-tyd.
Ek bied oplaas aan om "uit te haal en te wys". Ek hou my linkerhand bakhand onder my regteroog en met die regterwysvinger trek ek my oog aan die buitenste hoek plat. Dis gewoonlik al wat nodig is om 'n harde kontaklens in jou palm te laat val. Die man hou my belangstellend dop.
Maar Botswana is warm, die lug is droog en
my venster was heeltyd oop - so die kontaklens
sit op my oog asof dit daar ge-superglue
is. Ek trek die oog in al die windrigtings,
maar geen lens kom te voorskyn nie. "Ek het
jou mos gesê" staan oor die verkeersman se
gesig geskryf. Agter in die trok word 'n giggeltjie
onderdruk.
Intussen staan twee kollegas nader om te hoor wat fout is. Hy verduidelik my restriction aan die ander twee. "Yes, you are supposed to wear glasses," koor hulle.
Ek wink al drie nader. "Look very carefully in my eye. You wil see something like a little piece of glass on my eye. That is a contact lense and it has the same purpose as glasses," beduie ek terwyl ek my oog so groot as moontlik oopsper.
Die drie manne staar in my oopgerekte oog. En dan, die lig: "Oh! It's there. On the iris. Thank you, you can go."
En ek trek weg - vrek vinnig - maar nie so vinnig dat ek dalk teruggeroep kan word vir 'n spoedoortreding nie.
Groetnis
Marietjie Nel, Edenburg
Kom proe Wegbreek-wyn by die DStv
Getaway-skou
Wegbreek gaan weer vanjaar van 24 tot
26 Augustus by die DStv Getaway-skou wees.
Buiten al die wonder-like dinge wat die skou
bied - soos toerusting vir stap, duik, kamp
en 4x4's en werkwinkels oor avonture - kan
jy by Wegbreek se stalletjie (E51 -
54) 'n eerste kom ervaar.
Wegbreek-wyn. Dis reg ja. Kom proe
ons eie wyn. Nog beter, as jy inteken, gee
ons vir jou 'n bottel.
Daar is ook al die ander dinge wat pit sit in enige reisiger se lewe. Soos die beste reisboeke en reismusiek. In Afrikaans en regoor Afrika.
En . . . en . . . en . . . nee wat, kom kyk self na die
ander verrassings.
Toer
deur Afrika saam met the Journey
Wegbreek het 'n artikel in sy Augustus
2007-uitgawe op bladsy 22 oor een van the
Journey se toere na Angola. Hy bied ook toere
na Uganda, Namibië, Tanzanië, Mosambiek, Zambië
en Lesotho aan. Angola is weer in 2008 op
die spyskaart en plaaslike reise word ook
aangebied:
Angola: vanaf die Kunene- tot by die
Kongorivier; slagvelde van 'n Burger- en Bosoorlog;
hoogtepunte van Suid-Angola; visvang-ekspedisie.
Namibië: Lüderitz tot Walvisbaai (12
beskikbare datums vir 2008); Kaokoland; gesigte
van die Namib ('n nuwe roete); Damaraland.
Uganda: gorillas en oorsprong van die
Nyl toer.
Tanzanië en Zambia: die Serengeti en
Ngorongorokrater; Zanzibar; Luiwa-vlaktes
van Zambië.
Lesotho: Maseru tot Sanipas.
Mosambiek: deur die oorgenspark tot
by die kus.
Local is lekker: Baviaanskloof,
vallei van die Bobbejane; Gamkaskloof, 'n
Helse ervaring; Laingsburg-vloedroete; blomme
van die Noord-Kaap.
Vir meer inligting, bel 021 912 4090, e-pos
info@thejourney.co.za,
of besoek www.thejourney.co.za.
Trek jou tekkies aan en (hard)loop saam
Die
Crazy Store Table Mountain Challenge op 15
September 2007 is roete van 35 kilometer om
Tafelberg en staan bekend as een van die land
se voorste veldwedrenne. Die roete kronkel
langs voet- en grondpaadjies met net 'n bietjie
teer. As jou bene nie sterk genoeg is nie,
bly eerder by die huis, want die roete is
die ene heuwels - maar die koel inheemse woude
en bergstrome, fynbos en vergesigte maak op
vir die swaarkry. Of so sê die organiseerders.
Die skoot knal by Kloofnek om 7:30.
Vir meer inligting en inskryfvorms bel 021
790 6245, e-pos info@trailrunning.co.za, of
besoek www.trailrunning.co.za.
|
|
|
|
 |
|