Ramsay, Son & Parker (Pty) Ltd

 

 
 TUISBLAD
 NUUTSTE UITGAWE
 VAN DIE REDAKTEUR
 BOSSTORIES
 GROEN WENKE
 RADIO LANGPAD
 CHRIS BARNARD
 DOENDINGE
 BLOGS
 KOMPETISIES
 JULLE FOTO'S
 KONTAK
 SKAKELS
 SKERMBEELDE
 
 


 
Blogs

 
Lewer kommentaar op hierdie storie

17 Oktober 2008
Dag 5 vervolg - Marietjie Nel
Sop met eier? Enige iemand?

Chris is hier! Hy het dit sowaar gemaak! Ons self is die vorige dag vier uur oor die Uganda- Rwanda grenspos. Die grensposbeamptes is meer flirterig as enige ander tot nog toe. “Julle moet maar terugflirt,” leer ek die meisies “en as iemand jou vra om te trou, sê net ja.” Die gorillas is nou eerste prioriteit, ons moet in Rwanda kom.

Aan die Rwandese kant is als skielik soos ‘n vreemde spieëlbeeld. Ons begin dadelik aan die regterkant van die pad ry. In hierdie vroeëre Belgiese kolonie kan feitlik niemand Engels praat nie. Almal praat Frans. Die winkels het Franse name, die padtekens is Frans. So 40 minute se ry ná die grenspos het ons in die dorpie Ruhengeri aangekom. Ons bly hier by ‘n massiewe katolieke klooster, Fatima’s. Die groep in dorms en ek word ‘n gratis kamer aangebied. Elke werk het sy voordele! Dis ons basis van waar almal gaan stap om na die gorillas te kyk.

Daar was nog genoeg tyd om die middag in Ruhengeri rond te loop. Die mense is vrolik en helderkleurig aangetrek. Veral die vroue lyk flambojant met lang bont rokke en sjaals oor die skouers gedrapeer. Klein swart seuntjies groet mens in Frans met bon joir. Daar is honderde taxi fietse en motorfietse wat passasiers op en af in die straat vervoer, en baie min motor voertuie. Ek gaan drink koeldrank in ‘n restaurant. Hier betaal mens in frank. As jy ooit Ruhengeri toe gaan, onthou dat die Indiese apteker dollars teen ‘n baie beter koers ruil as enige bank of grensposburo.

Op die restaurant se spyskaart kan mens onder andere die volgende bestel:

Soup with mushroom and egg.

Soup with tomato and egg.

Soup with chicken, mushroom and egg.

Soup with pork, mushroom and egg.

Soup with fish, mushroom and egg.

Soup with noodles, vegetable and egg.

Later probeer ek ‘n stel van die mooi helderkleurige rompe en sjaals koop. Die winkelassistent kan net Frans praat en skryf vir my die syfers neer. Dit werk oor die $50 uit! Liewer nie.

Oral is mense aan die werk om die strate mooi te maak. Sypaadjies kry plaveisel en rye bome word met spoelklippe onder rondom die stam versier. Ek kan nie help om te wonder nie. Wie van die mense, veral die oueres by wie ek verbyloop, was aan die uitdeelkant of ontvangkant van die ontsettende geweld, verminking en menseslagting van die jare negentig? Het die man wat my nou vriendelik in ‘n winkel help, iemand se hand afgekap of vermoor? Is die vrou wat voor my in die straat loop, wreed verkrag?

Chris het net na ses die aand op Ruhengeri aangekom. Hy het gedink hy gaan sterf, prewel hy, soos die taxibestuurder gejaag het. Nogal ewe vir Chris gevra of hy omgee om te speed”. Toeterende om blinde draaie…Maar hulle het die grens gehaal met minute te spaar, Mike het ons minibusbestuurder gebel om vir Chris op die grens te kom haal en nou is ons voltallig. Ek wonder net of Chris sterk genoeg gaan wees vir die stap môre. Verstommend is dat ook hy, net soos Jason, malaria gekry het minder as twee weke na blootstelling in ‘n malaria-gebied en ook op malaria-voorkomingsmedisyne.

Foto: Die klein dorpie Ruhengeri in Rwanda, vanwaar gorilla-ekspedisies plaasvind, is besig om homself mooi te maak met nuwe sypaadjies, bome wat geplant word, ensovoorts.

Lewer kommentaar op hierdie storie
 
 
 

 

footer