Ek lig my kop op en kyk oor die groen gras na die gladde water van Lake Bunyoni. Dis nou eers sewe uur, ek kan nog lê, ontbyt is eers agt uur.
Ons gaan vandag Rwanda toe, dis al plek waar daar gorilla-permitte beskikbaar was vir hierdie toer. Dis gelukkig net vier ure se ry, so ons gaan eers so elfuur ry. Ek sak moeg terug op my matras op die gras. Dit was ‘n rowwe nag. Nadat ek die nuus gekry het dat Chris in bedenklike omstandighede in ‘n “hospitaal” lê is ek dadelik met die taxi terug Kabale toe. Die “hospitaal” is basies vier vertrekke. ‘n Wagkamer met lae houtbankies, ‘n konsultasiekamer, toilet en ‘n kamer met twee beddens. Op een van hierdie beddens het Chris gelê, ‘n drup hang aan een van ‘n ry spykers teen die muur. Die pypie kronkel af tot teen sy regterhand waar die vloeistof in sy lyf indrup. Buite gaan Kabale se naglewe raserig voort. Als ruik na piepie. Die beddens het dekens op wat nie by mekaar pas nie. Chris lê op ‘n blommetjiebont deken onder ‘n groenerige laken. Hier kan hy nie alleen bly vir die nag nie. Ek vind uit wat hy nodig het, in die haas het ek nie behoorlik gedink nie, en kry ook nou self koud. Ek sal sy slaapsak en toiletsakkie gaan haal en gou weer terug wees belowe ek. Terug Bunyoni toe. Die res van die groep is al in die restaurant. Die siekes met die maagprobleme is uitgespoel en aan die gesond word. Ek probeer my kos wat al bestel is, kanseleer. Dit kan nie. Hulle sal gou maak. Ek sluk my biefstuk vinnig af en vra vir James om in Chris se goed te gaan grawe vir sy slaapsak en toiletsak. Ek kry ‘n baadjie en boek. Harry Potter and the Philospher’s Stone – ontdek in ‘n Indaba-kamp se boekuitruil. Weer terug Kabale toe. Chris lê swak op die bed. Die gorillas is vir hom nou net ‘n droom. Sy drup is nog baie vol. Ek dink: ok, hier moet hy nie bly nie – ‘n televisie blêr oorverdowend in die wagkamer en daar is die hele tyd beweging en geraas. Die taxibestuurder en Mike belowe om op bystand te wees en dadelik te kom as ek bel al is dit hoe laat die nag. Ek gaan sit op die ander bed. Als ruik na piepie. Daar is nie ‘n stoel in die vertrek nie. Ek snuffel op die bed rond om te probeer ruik of daar ‘n kol is wat spesifiek sterk ruik. Maar dis die hele vertrek, die hele “hospitaal” wat na piepie ruik. Chris lê met toe oë en ek lees Harry Potter. Teen elfuur raak ek vaak en lê plat op die bed. My handsak is onder my kop, sodat iemand hom nie dalk wegdra as ek aan die slaap raak nie en dan hoef my kop ook nie aan die bed te raak nie. ‘n Suster kom later in en kyk na die vordering op Chris se drup. Dis darem nou al oor halfpad gesak. Sy gooi ‘n rooi deken uit die lamlendige kas in die hoek oor my. Ek is baie dankbaar want ek kry koud. Twaalfuur is die drup leeg en die suster ontslaan vir Chris. Hy moet net môre terugkom vir nog medisyne, dan tel ons hom op op pad gorillas toe – sy glo inderdaad dat hy sterk genoeg sal wees om die gorilla-trek te doen. Ek bel vir Mike om die taxi te bring en halfeen die nag kom ons by Lake Bunyoni aan. Chris het gelukkig lankal gevra dat ek vir hom ‘n kamer bespreek, dus hoef hy nie in ‘n tent te slaap nie. Baie swak, hand aan hand met ‘n sekuriteitwag om hom regop te hou, het ons tot by sy kamer geskuifel waar hy dadelik op die bed neergeval het. Kwart voor agt beur ek op en begin ontbyt maak. Franse braaibrood. Lee en Jason het dit nog nooit geeët nie, die ander is bly oor die “eggy bread”. Dit lyk vir Lee lekker om te maak en hy neem oor. Chris daag op, hy lyk baie beter as die vorige nag. Hy is weer op pad Kabale toe om nog medisyne te kry en vir ‘n laaste dokter ondersoek, ons sal hom daar optel. Halftwaalf gekom in Kabale gaan soek ek vir Chris in die hospitaal. Ek kry hom – weer op dieselfde bed met nóg ‘n vol drup aan ‘n spyker teen die muur! Dit gaan minstens vier ure neem om klaar te maak. Wat nou? Ek kan nie die groep laat wag nie. As ons Rwanda se grenspos wat sesuur toemaak te laat vang, mis almal die gorillas. Chris het nou die keuse om óf in Kabale agter te bly waar ons hom weer sal optel na die gorillas, of hy kan self betaal vir ‘n taxi om hom later Rwanda toe te neem. Die paaie is berge uit en sleg, dis waarom ons met ‘n minibus en nie Zambezi ry nie. Patrick bly agter in Bunyoni, Chris kan by hom bly. Chris vra die dokter of hy met sy drup in die minibus kan saamkom. Gelukkig sê die dokter dis onmoontlik. Maar met ‘n taxi sal Chris vinnig kan beweeg en dalk nog die grens oop vang. Maar die keuse is syne. Ek onderhandel met Mike vir ‘n prys. Hy sal sorg dat Chris in Rwanda kom belowe hy. Ons sit ingeprop in die minibus, dis verseker nie ‘n gemaklike rit nie, dis darem net vir vier ure. Die omgewing is asemrowend. Lake Bunyoni strek lank en blink tussen die groen heuwels. Laslappie landerye drapeer oor die hoë heuwels. Dis verbysterend waar mense kans gesien het om grond te bewerk. Langs die pad is Uganda se beeste met die wye, lang skerp horings, bokke en kinders. Die minibus bestuurder ry nie stadiger vir enige nie. ‘n Bruin bok begin stadig oor die pad te stap. Daar is nie plek vir uitswaai nie. Aan die linkerkant is die berg en regs ‘n afgrond. Ons tref die bok met ‘n harde slag aan die linkerkant van die bussie. Die bok tol ‘n paar maal soos ek terugkyk. “Daar sukkel die bok weer op!”, roep iemand uit. Die arme bok. Ek het eintlik gehoop die bok is met een slag morsdood. Foto: Beeste. Uganda se beeste met die ontsaglike wye horings is 'n gevaarlike ding om in vas te ry. |