En 'n tweede persoon by die stof.
Op die ewenaar word die Kariolis-effek op water gedemonstreer deur water wat in drie bakke gegooi word. Die rigting waarin die water draai terwyl dit onder by 'n pypie uitloop, dui aan in watter halfrond mens is. Reg op die ewenaar sak die water reguit af sonder om te tol.Dit was blykbaar ‘n rowwe nag vir ‘n hele klompie in die groep. Ann, Adri, Cindy en Chris het heelnag op die toilet gesit. Hulle tentmaats is ewe gedaan. Ons probeer uitwerk waar die kiem vandaan kom. Dit kan nie die kos wees nie, almal het samoesas en hoenderkerrie geeët. My vermoede lê by die grenstoilet... Hulle moet dadelik die buzzer druk as iemand moet veld toe sê ek, ons moet ry, daar is nie ander genade nie. Drink baie water en moenie dehidreer nie. Ek ry voor by Patrick want ek proes en nies nog, en ek wil nie iemand aansteek nie. As mens ‘n aansteeklike siekte het mag jy nie na die gorillas gaan nie. Omdat hul DNS so naby die mens is, steek hulle maklik ons siektes aan, maar hulle het geen weerstand daarteen nie en kan maklik doodgaan. Vroegoggend kom ons by die ewenaar aan. Ons is alreeds oor die ewenaar die noordelike halfrond in, net noord van Nairobi, maar daar is net ‘n klein bordjie om dit aan te dui. In Uganda is die kruising van die ewenaar ‘n hele gebeurtenis. Nou kruis ons weer die ewenaar in die suidelike halfrond in, suidweswaarts na Lake Bunyoni. ‘n Groot ronde baken dui die ligging van die ewenaar aan. Daar is restuarante en geskenkwinkles langs die pad en vir ‘n paar doller kan mens die volgende eksperiment sien. Bakke met ‘n uitlaatpypie onder is met ‘n spiraal binne gemerk. Daar is drie bakke. Een in die noordelike halfrond, tien treë verder een op die ewenaar en nog tien treë verder een in die suidelike halfrond. ‘n Man gooi water uit ‘n beker in die noordelike halfrond se bak terwyl hy die pypie met sy hand toedruk. Hy laat ‘n wit blommetjie op die water dryf en neem sy hand weg onder die pyp. Die blommetjie draai kloksgewys soos die water in die pypie afloop. Op die ewenaar sak die blommetjie reguit af. In die suidelike halfrond se bak draai die blommetjie anti-kloksgewys. Towery voor ons oë, met die deftige naam Kariolis-effek! Net na Mbarara, ‘n groot dorp stop ons langs die pad vir middagete. Tussen hier en Lake Bunyoni is die enigste dorp, Kabale wat maar ‘n kleinerige Afrika-dorpie is. Gunter kom sê vir my hy soek ‘n dokter. “Wat is fout?” vra ek verbaas. Sover ek weet het hy geen maagprobleme nie. Sy bors pyn as hy sluk, verduidelik Gunter. Dit het ek al voorheen op ‘n toer gehad. Iemand, gewoonlik ‘n blekerige, pieperige man wat bitter graag ‘n ernstige siekte wil hê en vrek oor ‘n dokter maar dit net nooit tot binne ‘n hospitaal se waakeenheid maak nie. “Jy het sooibrand. Slegte spysvertering,” wil ek vir hom sê. Dit was my vorige pieperige se diagnose. Anke sy meisie hoor wat hy vra, en vra op haar beurt sag vir hom of hy die goed drink wat die apteek hom gegee het – aan haar stemtoon hoor ek dat sy ook al hierdie storie ken. “Dis jammer hy het nie vroeeër gepraat nie,” antwoord ek. ‘n Ent terug is Mbarara waar dokters is, nou is daar net toordokters oor in hierdie geweste. Ons gaan nie omdraai nie want hy is nie besig om dood te gaan nie. Ons sal nietemin probeer in Kabale om ‘n dokter te kry. Ons het skaars ‘n uur verder gery, toe word die buzzer benoud gedruk. Dis Chris wat naar is. ‘n Blerts het op die trok se vloer beland, darem net waterig en ek mop dit op. Chris hang slap vooroor en Ann gebruik die geleentheid om met ‘n rol toiletpapier bosse toe te gaan. Die res se mage is onder beheer maar hulle is moeg. Ek laat Chris voor in die kajuit sit met ‘n plastieksak, dis darem gemakliker daar. In Kabale gekom, wag ons kontak Mike reeds met ‘n taxi om vir Gunter dokter toe te neem. Ann wil ook saamgaan. Ek maak die trok voor oop. Chris hang steeds slap vooroor, sy kop op die paneelkissie, sy arms langs sy sye. “Wil jy dokter te gaan?” vra ek. “Ja, hy dink tog so,” antwoord hy en tuimel uit. Ek vra Mike om die siekes na Lake Bunyoni, ‘n verdere halfuur se ry, te vergesel as hulle by die dokter was, ek gaan saam met die res van die groep om kampering en aandete uit te sorteer, dis al klaar weer half sewe. By Bunyoni gekom, kyk ek die restaurant se spyskaart deur en sê vir almal wat ons kan spandeer, enige iets duurder moet hulle self betaal. Terwyl almal nog besig is om nes te skrop, stop Mike in die taxi met die siekes. Gunter is met sooibrand gediagnoseer, Ann het antibiotika vir ‘n maagaandoening – en Chris is agter gehou, hy het malaria. Hy is op ‘n drup, dit sal tot so elf uur besig wees dan kan hy kamp toe kom. “Hoekom slaap hy nie in die hospitaal nie?” vra ek. “Miskien wil hy nie,” antwoord Ann. “Dit lyk nie so goed daar nie…”
|