Ramsay, Son & Parker (Pty) Ltd

 

 
 TUISBLAD
 NUUTSTE UITGAWE
 VAN DIE REDAKTEUR
 BOSSTORIES
 GROEN WENKE
 RADIO LANGPAD
 CHRIS BARNARD
 DOENDINGE
 BLOGS
 KOMPETISIES
 JULLE FOTO'S
 KONTAK
 SKAKELS
 SKERMBEELDE
 
 


 
Blogs

 
Lewer kommentaar op hierdie storie

13 Oktober 2008
Dag 3, 'n hoenderwinkel sonder hoender - Marietjie Nel
Uganda is die maklikste en vriendelikste grenspos op my roete. Ek handig almal se visumgeld en paspoorte in, terwyl die res in die trok wag of toilet toe gaan.

(Hoewel ek altyd teen grenstoilette waarsku. Dis grusaam, dis skrikwekkend, stop eerder langs die pad!) Die paspoorte word vinnig en sonder stories afgehandel en eindelik word ek met “Enjoy the country” in hierdie mooi land verwelkom. Mens se eerste indruk is een van opvoeding en afgerondheid.

Wanneer die trok stop iewers word ons altyd oorweldig deur verkopers wat in enigiets van armbande tot piesangs handel dryf. By die Kenia-Uganda-grenspos is dit samoosas. 'n Jongeling van so 18 bied aan om vir my te gaan koop. Die samoosas is altyd 'n lekker peuselding tot middagete toe en ek sê hy moet hol; ons is haastig. Teruggekom betaal ek die $10 vir die samoosas, maar nou wil die bode nog 200 sjielings running money hê. Ek is so vrolik oor die maklike grensoorgang dat ek hom sy sjielings gee.

Ons is byna gereed om te ry toe kom die twee ou tannies na my toe. Hulle het al visas vir Uganda gehad, besef hulle nou (daarvoor aansoek gedoen en betaal by die huis). Dus het hulle nou dubbeld betaal, die beampte het nie opgelet dat daar reeds visums in hul paspoorte was nie. Kan ek die geld terugvra? Dis warm, maar die temperatuur in die trok daal merkbaar. Ek sien ongeduld op die ander se gesigte. Hulle is moeg en warm en siek en nou moet hulle langer wag sodat ek die tannies se geld kan probeer terugkry. Teen $50 per visum is dit egter baie geld en ek besluit om te gaan probeer. Teen almal se verwagting in word die geld teruggegee. Viva Uganda!

Maar die paaie, o die paaie van Uganda. Dit lyk meeste van die tyd soos Smithfieldlaan in Edenburg van die slaggate. Soms kan Patrick wydsbeen oor van die slaggate ry, ander kere moet hy byna tot stilstand kom en Zambezi versigtig deur 'n groot slaggat laat ry, een wiel op 'n slag. Ander male is dit beter om heeltemal aan die linkerkant (en soms die regterkant!) van die pad af op die grond te ry. En dis ‘n hele dag se ry hierdie. Ons is oppad Kampala toe. My groep het permitte gekry om op die 12de Augustus in Rwanda na gorillas te gaan kyk, ons moet betyds daar uitkom. Daarna kan ons dit rustig vat en meer ontspan.

Die hele toerprogram draai om die gorilla-permitte se datum. In die brosjure word vier dae vir gorillas uitgehou. Is mens ongelukkig kry jou groep op vier verskillende datums permitte en word die hele vier dae in die dorpie rondgehang vanwaar die gorilla-trek plaasvind. Ons is baie gelukkig, al 12 trek op dieselfde dag, dan kan ons meer tyd by die lekker plekke op die roete spandeer.

Maar dis eers later – vanaand moet ons in Kampala, Uganda se hoofstad, slaap en môre-aand by Bunyoni-meer, anders is ons nie betyds vir die gorillas nie. Ons ry verby Jinja, die dorpie aan die Wit-Nyl, en die reën val uit omgedopte emmers. Ons ry weswaarts, aan die bokant van Victoria-meer in die rigting van Kampala. Die eerste reissiekte het begin onder my groepie. Chris is moeg en olik, en Ann kla van diareë. Jason met die malaria sê darem dat hy al beter voel elke dag. Zambezi beur voort deur die reën en die slaggate. Die 80 km tussen Jinja en Kampala vat amper drie ure om te ry.

Ons kom so 7-uur die aand in Kampala aan. Ek moet inkopies doen vir vars goed, ons eet nog van Nairobi se brood, môre gaan dit verseker groen wees. Ons stop by 'n groot inkopiesentrum wat nog oop en bedrywig is. Langs die Shoprite-supermark is 'n Lion-hoender-wegneemete plek. Dit lyk soos Kentucky-hoender. Ek vra vir Jason en Adri om bestellings te neem en vir almal hoender te koop, die begroting sal betaal. Ons gaan nie nou nog kamp opslaan en dan kosmaak nie.

Ek koop solank wat nodig is in die supermark terwyl ons vir die hoender wag. Terwyl ek met ‘n trollie deur die rakke storm, kom raporteer Triston grootoog. “Die hoenderplek se hoender is op”. Ons kan 10 minute wag dan koop hulle hoender in Shoprite en maak dit gaar. Die ander opsies op die spyskaart is hamburgers, maar daarvan het hulle net ses … "Abort mission,” sê ek vir Triston. Red Chillie, die backpacker waar ons bly het ‘n klein restaurantjie, dalk is hulle nog oop, anders kook ons maar spaghetti of iets. Ek het al lankal vir Red Chillie probeer bel, maar daar is nie antwoord nie.

Kwart oor 8 kom ons by Red Chillie aan. Tente word tussen rooibruin modderpoele opgeslaan. Ek laat spaander na binne om te sien of die restaurant oop is. Ja! Hul special for tonight is hoenderkerrie. Dis klaar, dis gereed, daar is genoeg. Almal van ons eet hoenderkerrie.

Foto: Al het hoenderwinkels soms nie hoenders nie, kan mens maklik langs die straat regkom met kos, soos hierdie pynappelverkoper wat met 'n yslike panga die pynappel daar en dan skoonmaak. Liggeel, maar soet soos stroop.

Lewer kommentaar op hierdie storie
 
 
 

 

footer