Ramsay, Son & Parker (Pty) Ltd

 

 
 TUISBLAD
 NUUTSTE UITGAWE
 VAN DIE REDAKTEUR
 BOSSTORIES
 GROEN WENKE
 RADIO LANGPAD
 CHRIS BARNARD
 DOENDINGE
 BLOGS
 KOMPETISIES
 JULLE FOTO'S
 KONTAK
 SKAKELS
 SKERMBEELDE
 
 


 
Blogs

 
Lewer kommentaar op hierdie storie

13 Oktober 2008
Dag 2, Nakuru-meer- Nasionale Park - Marietjie Nel
Foto: By Nakuru-meer kan mens die pragtige Rothchild kameelperd te siene kry, 'n byna onwerklik mooi prentjie tussen die duisende koorsbome.

Nakuru is ‘n sprokiesmooi park. Duisende koorsbome groei tussen groen gras, ewig gevoed deur die nabyheid van die meer en die ondergrondse water. Die lig is altyd sag en amper onaards soos dit deur die bome se snaakse geelgroen baskleur weerkaats word. Soms lyk dit selfs asof die bome van binne met 'n eie lig gloei.

Die koorsboom het sy ongelukkige naam van die Voortrekkers gekry. Hulle het dikwels koors gekry wanneer hulle naby hierdie bome uitgekamp het. Dis die bome wat die koors gee, het hulle geglo. Dis koorsbome. Eers later is die vreemde toevalligheid uitgevind. Die bome groei waar baie water is. Muskiete broei waar baie water is. Die koors is deur malaria veroorsaak en nie die bome nie.

Parmantige jong buffels jaag die trok soos ons deur die groot troppe ry. 'n Swartrenosterkoei en haar opgeskote kalf stap rustig deur die gras en troppe waterbokke en rooibokke bekyk ons half-afgetrokke soos ons verbyry. 'n Toeristetrok is immers nie meer 'n besienswaardigheid nie. Rothchild kameelperde stap statig tussen die bome, hul mooi, ligte velle gloei saam met die bome se lig.

Na die oggend se game drive ry ons verder aan na Eldoret, ons volgende oorslaapplek op pad na Uganda. Oral langs die pad hang buisvormige hout byekorwe in die bome, omtrent 20 cm in deursneë en 'n halwe meter lank. Die heuning-oes word op tafeltjies langs die pad verkoop. Verskillende groottes bottels vol goue heuning blink amper-deurskynend in die son. Toe ons langs die pad stop vir middagete kom 'n tienerseun aangehol met 'n emmer vol van hierdie botteltjies. Teen 200 Keniaanse sjielings werk dit so R11 vir 150 ml uit. Ek koop vir die trok, vir myself, vir die huis, vir al die bure wat heuning eet. Ann gril vir 'n by wat in een botteltjie in die dik stroop lę. “Jy kan nie 'n beter teken vir vars heuning kry nie,” raas ek.

Hierdie is die ware Jakob - en ek dink hoe bevoorreg ek deur my lewe was om met regte heuning te kon grootword. Die donkerswart, houtbruin en liggoud van oupas en oumas se plaasheuning wat mens so warm-warm van-die-korf-na-die-emmer uit die byewas suig tot jy maagpyn kry - en later ons agterplaasheuning wat ek saam met my pa uitgehaal het. Die oomblik wat die korf oopgemaak word en ons angstig kyk watter kleur in die skatkis wag. Hoe ligter, hoe blyer was ons. Winkelheuning proe soos suikerstroop met 'n titseltjie heuning-essens. Hoe sal mense wat met winkelheuning grootword ooit weet hoe soet die ligte geel heuning van 'n korf jou keel brand, voordat jy die bondeltjie saamgeperste sagte byewas uitspoeg?

Eldoret was, ook soos Nakuru, 'n paar maande gelede 'n nagmerrie van onluste en geweld. Daar is steeds oral langs die pad sink gehuggies van mense wat onteien is en nog nie hul grond teruggekry het nie.

Naiberi-kamp net buite Eldoret is maklik die bes toegeruste op my hele roete. Die eienaars, Indiërs Raj en Ash, weet tot op 'n druppel wat 'n oorlandgids se hart bly maak. Elke trok staanplek het 'n afdak, wasbak, twee krane, een met 'n lang tuinslang aan om die trok se waterdrom vol te maak. Tente word op sagte groen gras opgeslaan. Klip-en-terracotta-badkamers is altyd skoon en die water warm. 'n Toegeboude tonnel wat teen 'n heuwel afkronkel lei na 'n volgende oorlandprioritiet. Die allermooiste kroeg. Daar is groot rusbanke, konkas met gloeiende kole en kaggelvure, fonteine en stroompies, honde wat op groot kussings rondlę en potte vol yslike plante. Buite die kroeg blink 'n swembad ligblou soos 'n troupant se vere. Ook hier is fonteine en klip, groen gras en groot bome. Raj en Ash ken hul teikenmark.

Aandete is coke-hoender, rys, slaai en gemengde groente.

Lewer kommentaar op hierdie storie
 
 
 

 

footer