Foto: Flaminke by Nakuru-meer - wat ek ongelukkig nou net met 'n 3x zoom kan afneem.
“Daar is iets wat jy moet weet,” sę Adri vir my toe ek en Patrick die Saterdagoggend by die hotel opdaag om die groep op te laai. Jason het malaria. Ek skrik. Hoe toer mens met iemand met malaria? Nie ek of enigiemand op 'n toer van my het nog ooit malaria gehad nie.“Hy is egter baie beter,” verseker sy my en hy sal kan aangaan met die toer. Gelukkig het hulle vinnig opgetree. Die vorige aand na die vergadering het hy begin koors kry, warm en koud, en bitter siek gevoel. 'n Dokter het uitgekom, hom met malaria gediagnoseer, medisyne gegee en hy voel nou stukke beter. Dis byna ongelooflik – na 'n dag in 'n malaria-gebied (die algemene minimum tydperk na blootstelling is twee weke) én op malaria-voorkomingsmedisyne. Die sensasie-kant in my dink dadelik aan 'n nuwe supermalaria wat genadeloos begin maai. Terwyl almal pak, roep Christine, een van die middeljarige tannies my eenkant. Sy het kort, donker hare en is lank en skraal. Haar vriendin Mary, is korter en plomper. Christine vertel my sy is ‘n diabeet. (Dit het ek darem geweet, dit staan op my passasierslys.) “Gaan daar genoeg snacks op die trok wees deur die dag sodat sy aan goed kan peusel as haar bloedsuiker val?” vra sy my. Dis 'n nuwe versoek. Ek verduidelik dat die begroting voorsiening maak vir drie maaltye per dag met ekstra vrugte wat pax kan uithou en eet wanneer hulle wil. Versnaperinge, om watter rede ook al, is egter almal se eie onkoste. Christine lyk nie heeltemal oortuig nie, maar aanvaar dit so. Ons eerste dag se reis bring ons tot by Nakuru-meer- Nasionale Park. Mens ry deur die dorpie Nakuru voor jy by die park se ingang uitkom. Minder as 'n jaar gelede was Nakuru 'n gevaarlike plek om te wees. Hier het Kenia se politieke onstabiliteit na die nasionale verkiesing oorgekook en geweld het geseëvier. Die park lę rondom 'n meer waar duisende flaminke raserig in die vlak water staan en nou en dan hul snawels heen en weer deur die water trek, om die alge en weekdiertjies wat hulle eet, te laat agterbly in die snawel terwyl die water uitfiltreer. Ons klim uit en stap nader na die waterrand. Die flaminke se spookasempienk lywe weerkaats saam met die heuwels aan die oorkant in die meer se stil water om 'n dubbelbeeld van die asemrowende prentjie te vorm. Op my 3x zoom is dit natuurlik net stippeltjies terwyl ek watertand kyk na Chris se foto's van flamink vere, slanke nekrondings en snawels wat weerkaats in die water. Ons kamp by die park se waterval, op groen gras, omring deur geelgroen koorsbome en blaffende bobbejane wat vir oulaas nog hulle hierargie uitsorteer voor slaaptyd. Hoera! Geen vegetariër op hierdie toer nie, aandete is maklike pasta met spek en knoffel-kaassous, knoffelbrood (wat hulle soos altyd op die kole verbrand), slaai en gebraaide marshmallows. |