Nadat ek nie te goeie ondervindings tot dusver met Kanadese toeriste gehad het nie, het 'n stout engeltjie iewers besluit om vir my 'n Kanadese trainee te stuur om van Livingstone tot Kaapstad saam te toer.
'n Trainee op sy of haar beste is meestal eerder meer ergenis as seën. Hulle is onder mens se voete, is soms baie beterweterig en verg partymaal meer energie as die moeilikste toeris. Soms egter is mens baie bly vir ene. Soos nou. Die Kanadees is vanoggend saam met 23 gaste (of pax soos dit makliker is om te sę) na die Okavango-delta terwyl ek in Sitatunga-kamp buite Maun agterbly. Alleen. Salig. Patrick is “iewers”, hy bly ook agter. Al die voorbereidings is gedoen, toiletpapier en kos ingepak, so die trainee behoort reg te kom in die delta.Nadat ek deur my vorige twee toere gestrompel het, eers met griep in Uganda en toe met malaria in Oos-Afrika, het ek nie tyd of krag gehad vir kreatiewe gebeure nie. Die blogs is dus nou verlede tyd, terug tot so middel-Augustus, en dis wat ek nou sit en doen met die trainee in die delta. Na die Livingstone-Nairobi-toer was daar 8 dae blaaskans in Nairobi totdat die volgende toer na Uganda en Rwanda begin het. Patrick was gelukkig, hy is by die huis, sy familie bly in Nairobi, ek bly weer by Indaba. Eerste prioriteit is om batterye vir my Olympus-kamera te soek. My twee verseg om te herlaai en het finaal dood gegaan in die Serengeti reg voor pragtige leeuwelpies. Verslae het ek van die swart skerm na die sagte blinkbruin oë van die welpies gestaar. Die terugslag is darem eers na twee jaar getroue diens. Die laaier maak ook allerhande ratelgeluide as ek hom skud. Die enigste plek in Nairobi wat ek kry wat daardie soort batterye verkoop, kwoteer my egter 'n allemintige R2 300. Nee dankie, in Suid-Afrika is dit net 'n paar honderd rand. Ek besluit om eerder die goedkoopste kamera te koop wat beskikbaar is. R1 500 later vir 'n Panasonic Lumix met 'n 3x-zoem en nog R200 vir 'n een gig-geheuekaart en ek kan weer fotos neem. Darem nie als in Nairobi is so duur nie; – hul blomme moet van die goedkoopste op aarde wees. Ek betaal R14 vir 20 dieprooi langsteelrose en gaan sit dit in die rooi vuilgoedemmertjie in my kamer by Indaba om te troos vir die kamera. Die dae is gou verby met lees, blogs skryf en voorberei vir die volgende toer en probeer gesond word van griep. Patrick het ook nie 'n wonderlike tyd by die huis nie, sy pa is baie siek en baie tyd gaan aan hospitaalbesoeke. Vrydagaand is die trok en toerusting weer gewas en gepak, inkopies is gedoen en ek gaan per taxi in stad toe om vergadering te hou met die nuwe toermense, waar hulle die eerste aand in 'n hotel deurbring. Asiërs begin al meer algemeen word op my toere. Daar is Lee van Chinees-Maleisiese herkoms, maar wat nou Australiese burgerskap het. Hy is middel-50's en 'n makelaar tussen beroepe. 'n Verassing is 'n Suid-Afrikaanse meisie Adri en haar kęrel Jason van Nieu-Seeland wat saamtoer. Ek en Adri hoor vinnig ons klink soos mekaar na 'n aanvanklik Engelse begin en ek moet myself keer om nie die heeltyd Afrikaans te praat nie. Maar dis so wonderlik om in my moeder se taal te kan praat en buitendien voel sy en Jason dadelik soos “ons mense”. 'n Lang bleek Duitser Gunter en sy meisie Anke toer saam, daar is twee middeljarige, vriendinne Mary en Christine. Donkerkop James is 'n Engelse reisagent; hy sal maklik maande se vakansies aan enige dame kan verkoop, want hy is die mooiste ding. Chris is 'n lang, maer Australiese omgewingsbestuurder wat sy werk bedank het. Hy toer vir 58 dae saam tot in Kaapstad. Nie onaansienlik nie, maar met die vreemdste haartjies. Vaalbruin donsies wat soos halfnat watte in alle rigtings om sy kop uitpluis. Triston en Cindy toer ook saam, hulle werk in die rekenaarwęreld. Die enigste alleenreisende vrou is ook 'n Duitser, Ann. Een van die min kere wat die man-vrou getalle min of meer dieselfde is. |