Wel, die weer is besig om warmer te word en die blindevlieë is tog te bly.
Die afgelope maande se weer was baie koel en ons het 'n koue lente beleef. Nou is die blindevlieë weer baie bedrywig.
Die wat nou nie 'n blindevlieg ken nie, wel, ons Namakwalanders het hulle so gedoop, want hulle steek so seer – amper soos 'n bysteek vir 'n sekonde, 'n fyn prikkie soos hy met sy skerp bek/angel probeer bloed suig. Nou waar die naam vandaan kom, is omdat jy hom maklik vrek slaan. Hy sit soos een wat blind is, jy kan hom maar in slow motion slaan, hy vlieg nie weg nie. Hy moet seker vrek dors wees, want met daai groot oë van hom het ek gedink hy sal wakker wees. So as ek stil sit, lyk dit soos 'n slagveld om my, want hulle kom sit sommer hordes op jou en jy slaan net vrek. Ons het vandag gaan skaapwerk hier by die see, maar dit was warm, vrek warm. Warmste dag nog die jaar. Arme Jessey, my 3-maande oue skaaphondjie, se tongetjie hang amper op die grond. Hy wil nou ook saam loop, want los ek hom op die bakkie, dan skree hy blou moord. En nou is die vlieë nog so lastig ook. "Vlieg, jy soek mos jou dood," belowe ek hulle kort-kort as hulle so op my kom sit. Partykeer los ek hulle op my hand, bring my hand tot voor my oë dat ek kan sien hoe die ding nou werk. Hy voel-voel met daai skerp angel van hom vir 'n gaatjie deur die armhare om my by te kom. Dan kom die brandsteek deur en ek slaan hom sommer teen my bors vrek. "Ja, was ook die laaste steek wat jy inkry," spot ek. Julle sal nie glo nie, maar daai goed steek tot deur my hemp. My groen I Love South African Cricket-T-hemp het geen weerstand gebied nie. Wel, so begin ons skaap werk en ons sien 'n swart ding daar teen die draad afkom, aan ons kant van die draad. Lyk soos 'n groot swart gedierte – wat kan dit dan nou wees? Toe hy nader kom, sien ons dis een van oom Alwyn Handskoen, ons buurman, se kalfies wat aan die verkeerde kant van die draad is.
Nou moet ons hom deur die hek probeer kry. Wat 'n gesukkel! Ons probeer hom keer, maar hy hou aan hardloop. "Staan almal stil, hy sal bly in sy maai in hardloop!" skree my pa. "Skree soos 'n koei, miskien kom hy terug," gee Pa weer opdrag en die span val soos 'n koor in.
Nou ek weet nou nie of julle weet hoe 'n koei klink of veronderstel is om te klink nie, want ek het gesweer die geluid wat almal in hul eie kop het en die geluid wat uitgekom het, het nie so lekker ooreengestem nie. Ek het my byna vrek gelag. My pa s'n klink soos 'n ou bul wat sopas geknip is, so 'n diep bulk wat al hoër gaan en later klink soos 'n hiëna wat geboorte skenk. Die ander plaaswerker het so 'n skril weergawe wat kompleet soos 'n koeitjie klink wat op hitte is. Die ander plaaswerker is al so moeg gehol agter die kalf aan, dat hy net sulke kort "moee'tjies" uitkry. Ek wou myself platgooi in die sand soos ek lag, ek kry g'n dooie "moooeee!" uit nie, want dit klink soos 'n trop beeste hier agter my. Alles tevergeefs, want die kalf het weggehardloop. Ek het hom glad nie kwalik geneem nie, want ons het hom meer bang gemaak as enigiets anders. Later het my pa maar geskree om hom te los, want ons mors net tyd en die dag stap uit. Later het daar so 'n koel luggie van die see af gekom wat 'n lafenis was. Aangesien die see net 8 km weg is, het dit soos sleepmis gevoel. Die vlieë het ook stelselmatig minder geword, want hulle is mos so vrek bang vir die koue. Wel, ek is op pad na 'n Weskus-donkiestapsafari. Ons vat stappers teen die kus af en ek is een van die gidse en die fotograaf. Lekker week vir almal. Tot later dan ... |