Menings rondom hierdie vraagstuk verskil, dit voel elke keer as ek hier deur ry asof daar omtrent 4 miljoen donkies in Botswana moet wees.
Maar die Science Direct-groep het in 1998 beweer daar is omtrent slegs 'n totale donkie bevolking van 158 000 in Botswana.Ek dink tog hulle het heelwat misgetel of bereken, hoe dit ook al sy die goed het hope aantrekkings krag vir sommige mense. Veral as die donkies ingespan word om waentjies van alle soorte te trek. In die einste reis wat ons met Ken en Barbie in 2006 deur hoofsaaklik Namibië en die laaste week deur Botswana gereis het was die goed vir my persoonlik 'n groot bron van frustrasie. Jy sien Louis alias Ken, het of 'n nuwe kamera gekry of hy was werklik gefasineer deur die donkies. Ons het met ons laaste geld en tyd besluit om van Swakopmund af noord waarts te reis en deur die Caprivi in Botswana in te gaan. Die probleem met die donkies het reeds in die noordelike dele van Namibië begin. Omdat ons gedruk was vir tyd om binne een dag van Swakopmund die grenspos te haal naby Drotsky’s Cabins, 'n oord vir kranige tiervishengelaars, in die noorde van Botswana by die begin van die delta, kon ek nie bekostig dat 'n donkie 'n onnodige oorslaap op 'n grenspos sou veroorsaak nie. Ek het reeds voordat ons vertrek het vir Ken mooi gevra om die tempo nie te veel te versteur nie omdat die grenspos alreeds om 18:00 sluit en ons sowat 1 100 km gehad het om te ry vir die dag. Maar die kamera of sy drang om donkies af te neem was net een te veel. Ons was in verbinding met 2-rigtingradio’s omdat dit die selfoonkostes drasties sny. Soos dit maar gaan op die langpad het ek altyd probeer om hom darem in sig te hê in die truspieel. Kort-kort het die Toyota se neus in die verte verdwyn en moes ek aftrek om te wag. Wanneer hy weer binne 2-rigtingradio range was het ek kontak gemaak om te hoor wat nou weer met die verdomde Toyota fout was om maar net te hoor hy het nog 'n donkie, of 'n persoon op 'n donkie of 'n donkiekar afgeneem. Die uiteinde was dat ons die grenspos met omtrent 5 minute spaar bereik het. Met die ingaan in Botswana was ek hoopvol dat die einde sou wees. Ons was 2 salige dae by Jan van Drotsky’s Cabins waarna ons vertrek het na Maun om so bietjie in die Moremi te gaan rondkyk. Met ons vertek by Jan se plek in Shakawe het die drama homself onmiddelik begin herhaal, my 340 km tot in Maun was een pynvolle donkiefoto na 'n ander en ek moes my beste Christelike voet van nederigheid en verdraagsaamheid met Ken voor sit. Nou wonder ek hoeveel foto’s van donkies het hy en hoeveel donkies is in Botswana? Ons het egter 'n wonderlike tyd gehad en ek sal altyd met heimwee daarna terug verlang al het ek nog nie na een van sy foto’s oor verdomde donkies gekyk nie. Hoeveel donkies het Botswana nou weer? Ek weet nie maar kom gerus saam met ons en kyk hoeveel jy kan tel. Groete Ben Bosveld |