Ramsay, Son & Parker (Pty) Ltd

 

 
 TUISBLAD
 NUUTSTE UITGAWE
 VAN DIE REDAKTEUR
 BOSSTORIES
 GROEN WENKE
 RADIO LANGPAD
 CHRIS BARNARD
 DOENDINGE
 BLOGS
 KOMPETISIES
 JULLE FOTO'S
 KONTAK
 SKAKELS
 SKERMBEELDE
 
 


 
Blogs

 
Lewer kommentaar op hierdie storie

18 September 2008
Kortpad nie altyd die regte pad - Nelis Engelbrecht
Hey daar, die blommetjies kom nou mooi aan, ek het hierdie foto’s vandag op ons lande geneem.

Laai af as skermbeeld. Kliek hier!Wel, net soos Voorwaarts my oupa se regterhand was, is ou Sparkey myne. Die arme perd het taamlik deurgeloop die week, want dit was heel week skaap werk. Ons het ‘n hele paar dameras. Dis 'n baie wilde tipe skaap, maar het ongelooflike goeie moederseienskappe en boer baie maklik in ruie areas. So dis ou Sparkey se werk om hulle onder beheer te bring, want as een van daai ooie of lammers uitspring, is dit nie sommer enige ou wat hulle kan inhardloop nie, net ou Sparkey wat hulle flou hardloop. Hy geniet dit vreeslik, soos 'n hond wat met 'n bal speel, hy vlieg om en jaag so wat hy kan om die mal skaap voor te keer.

Vandag het ou Sparkey weer sy kant deeglik gebring. Ek was al voor 6 weg na buurman se plaas om daar 'n foto te gaan neem vir my pa se nuwe boek, so my pa is voordag weg met ou Sparkey. Ja-nee, daar is nou vir jou 'n man wat nie rus kry nie, 65 jaar oud en vat nog die perd vroeg more om skaap bymekaar te maak. Ek het hom later gaan aflos toe ek daar aan kom sodat hy brekfis kan eet. Die skaap was weer die wêreld vol en so wild soos altyd. Kort kort spring daar 'n wilde ooi uit en Sparkey geniet homself. Soos ek laas gesê het is dit nie so maklik nie, want die bosse is so ruig en Sparkey hol 'n paar bosse plat. Kort-kort skree een van die werkers dat hulle skaap gewaar en ek moet ry om hulle te keer, want die bosse is letterlik skouerhoogte en hulle raak so gou weg. Sparkey het later soos 'n mal ding gehardloop, omdat ek kort-kort 'n nuwe wit ding gewaar. My agterkant was later so seer van die ry en my stewels se veters het al los gegaan, dan moet jy weet hoe kwaai dit was.

Op 'n kol jaag ek 'n lam wat omgespring het, ek agterna met 'n helse spoed, op daai oomblik glip altwee voete uit die stiebeuls op volspoed. "Dis mos vrek val se ding die!" skree ek nogal in die hardloop vir myself en op daardie oomblik klou ek nog met die knieë vas en die bosse maak skielik toe voor ons. Ons is nou te vinnig om te stop en Sparkey, soos oudergewoonte, verkies om oor die bos te spring. Nou ek weet nou nie of julle al met 'n perd gespring het terwyl jou voete uit die stiebeul is nie. Hier gaat ons, en glo my die landslag was nie so 'n prettige oomblik nie. "Einaaaaaaaaa!" is al wat ek uitkry en dit klink vir my amper soos as iemand helium inasem. Julle vroumense sal nie verstaan nie.

Wel, later is die spul bymekaar en kon ek vir Sparkey afsaal. Dis nou een voordeel van my perd, ek kan hom op enige plek op die plaas afsaal, hy hardloop tot in sy stal. Plaas van elke keer terug ry, hardloop hy terug vanself en spaar my nog paar bloukolle op my sitvlak.

Agtermiddag ná ete moes ons weer met die groot trop see toe trek. Sparkey het net op die werf aangekom en ek moes hom toe weer vang. Hy loop gewoonlik wei-wei huis toe. "Ry solank vooruit dat jy die skaap oor die duine kan vorentoe werk," verduidelik my pa wat nou erg haastig begin raak. "Ry julle solank, ek en Sparkels is op julle hakke", sê ek want ek wou nog iets by die huis gaan haal sonder dat my pa weet. Wel, as ek so met skaap trek vat ek altyd 'n moon bag saam waarin my MP3-player in is, want ek is bitter baie lief vir musiek en luister baie graag, so dit maak die pad gewoonlik baie korter. My selfoon is ook in die sakkie, want omdat net hier en daar op die hoë plekke selfoonopvangs is, vat ek hom saam vir as ek dalk 'n sein kry. Ek ry toe vinnig op plaas toe, kry die goed en laat loop. Ek sien toe dat my pa-hulle al bo by die kamp uit is en ek ry nou eers weg, maar dis sommer nou-nou dan is ek by hulle en laat loop met 'n vaart!

Laai af as skermbeeld. Kliek hier!Hier onder so 500 m van die huis af kom die Bitterrivier verby wat deur loop see toe. Hy kom amper nooit af nie, het 1997 in vloed afgekom, want ons het 11 duim reën in die berge gehad in 2 dae. Andersins loop hy nooit, net syferwater. Hy droog in die somer op en dan is dit net 'n laag sout. Ons maak ons eie sout in die rivier, so die rivier is nie verniet die Bitterrivier nie. Toe ek kom die draai gaan dink ek by myself, ek is mos nou lekker laat, so ek gaan koek sny, oor die "rivier" wat mos nou droog is. Ek klim toe maar af en stap voor, maar toe sien ek agter my hoe die groot dier met sy dun bene wegsak in die sout modder en soos 'n lood sink. Ek kon nie verstaan nie, die bogrond is kliphard, maar 30 cm onder dit is dit net modder, wat ek mos nie geweet het nie. Ai, daar sit ek, Sparkey is tot op sy pens in die modder en sy oë is skoon wild, want hy verstaan nou nie die besigheid nie. EK probeer sleep hom vorentoe, en skree: "Kom, Sparkey, jip jip!” maar in sy oë kan ek sien hy wil vir my sê hy wil, maar hy kan nie.

Daar sit ek nou, die main man wat al daai wilde skaap moet keer en daar verdwyn my pa oor die rand met die manne. Daar is nie 'n manier nie, want ek het probeer ruk en pluk en perd probeer optel, maar ek val sommer vas langs die perd, ek later kniediep in die slik. Die modder loop al in my gumboots in en raak toe 'n morsigge besigheid. Ek spring uit en gooi sommer 'n klip na die naambord, want vir wat sou ek nou nie om ry oor die brug nie, want dan sou ek nou nie hier gesit het nie.

"Engeltjies, julle sal moet help want my pa is baie kwaai as hy sien wat se nonsens ek aangejaag het," probeer ek myself moed in praat. Wel, een ding wat ek weet is dat 'n perd met sy voorpote opstaan en hulle is diep in die modder begrawe, so daar is nie 'n manier vir uitkom nie. Ek dink by myself, sonder daai voorpote sal ek niks regkry nie, so ek begin grawe, my arme horlosie het dit ook nie gemaak nie.

Nou het die pote nog vas gesuig in die slik ook nog, so ek het soos 'n moddermannetjie gelyk. Arms tot by die skouer vol modder kry ek later die twee voorpote voor hom en daar is lig aan die einde van die tonnel, want die kalf is in die put en my pa baie haastig!

Wel, ek beur en probeer die perd laat opstaan en ewe skielik speel Klipwerf se Umfaan kliphard hier in my maag, ek skrik my vrek. Ek het van daardie Nokia Exressmusic-selfone wat die play-knoppie op die voorkant sit, en met die beurslag moes ek hom raakgedruk het. Dink julle ek kry die ding vrek? want met hande vol klei kan ek nie waag aan my sakkie vat nie en my elmboog kry nie die regte knoppie nie.

“Ou Sparkey, dis seker 'n teken dat ons hieruit sal kom,” probeer ek die perd kalm maak. Nou met Sparkey se twee bene voor hom, ek stert in die hand, sweep in die ander hand en Klipwerf wat blêr kry ek my gereed vir die aksie. Ek slaan hom en trek kwaai aan die stert om hom te laat verstaan hy moet nou poging aanwend om uit te kom. Skielik kry hy lewe en ons struikel-struikel vorentoe en die perd gaan val vas weer soos nounet, darem net entjie nader aan die wal, ai, as ek dit darem geweet het. Toe is dit mos weer dieselfde storie. Die sout klei brand op elke stukkend plek wat ek het soos vuur en my voete is al so swaar van al die klei in my stewels.

Ons probeer weer vir die laaste keer en is uit, wat 'n verligting! Ek streel toe eers die perd om jammer te sê omdat ek so bietjie hard aan die stert getrek het en die ekstra harde hou, maar ek was so benoud! Ons skud toe eers die ergste af, en ek met modder klere en klei voete is daar nie tyd nie en spring net so op en laat loop brug om. Ek kon nou al op die rand gewees het, dink ek by myself, kom nou van kortpad wil vat.

Ons het darem later die skaap bymekaar gekry en see toe getrek. Sal hom more was, want ek moes eers saal skrop voor ek kon uitval. “Jy was mos simpel om te dink julle kan daar deur ry,” het my pa my aangepraat.

Wel, alles deel van die pret, tot later dan ...

Lewer kommentaar op hierdie storie
Lees lesers se kommentaar: (3)  
 
mooi blomme
die gousblomme is so mooi, shoe as hulle net nie so bitter was nie! ;o) baie mooi foto's!!
Ingedien deur : terina  op 2008/10/03

Ai tog
Ja nee, wel, ek ry nie meer kammera saam as ek perd ry nie, ek val te veel, nie dat ek nie kan perdry nie, maar die baie gate haha.
Ingedien deur : nelis  op 2008/09/19

wa is die pic?
nelis jy neem so graag foto's. waarom dan nie net enetjie geplaas van die moddergemors nie?
Ingedien deur : tuco  op 2008/09/19

 

 

footer