Hier is die storie van Voorwaarts, die legendariese perd, wat in my pa se boek Vonke uit die Koeroeklip verskyn. Net om julle bietjie bewus te maak hoe dit gegaan het daai tyd.
Voorwaarts Voorwaarts was ’n legendariese perd wat my pa gehad het. Voor die koms van die motorkar het elke boer sy twee karperde gehad waarmee hy gaan kuier en kerk toe gery het. Hulle het gewoonlik op stal gestaan, want hulle moes byderhand wees vir ingeval hy skielik ’n koers moes ry. Dan het hy ook ’n span donkies of esels gehad, waarmee hy sy ploeg- en ander werk gedoen het.
Soos daar vandag oor die hedendaags luukse en vinnige motors en 4x4-voertuie se vermoëns gepraat en geredeneer word, so het hulle vroeërjare oor hulle perde en esels gedoen. Hulle het met mekaar gewedywer wie se ryperd die vinnigste was en watter span esels die mooiste saamgetrek het. Toe die jongkêrels van vroeër met hul vlugvoetige perde gespog het, moes hulle ouers hul seker verveel het as hulle weer oor hulle span rooi Afrikanerosse gepraat het. Net so verveeld was ons kinders toe ons die luuksheid van ’n motor ervaar en die oumense nie kon ophou praat oor hulle “grofdiere” se goeie eienskappe nie. Toe ek my verstand kry, het my pa sy ses basteresels gehad waarmee ons gewerk en kerk toe gery het. Een maal in die jaar is die tuie gewas en geskrop om die salpeter af te kry en dan is dit weer deeglik vetgesmeer nadat dit droog geword het. Pa het altyd sy tuie, stringe, draaghout en leisels nagegaan voordat ons ingespan het. Voor elke kerknaweek moes ons die esels naderbring en dan het Pa hulle maanhare geknip. Dit was ’n proses wat ure geduur het, want sy span esels was sy trots en hulle moes almal eners lyk. As hy met die maanhare klaar was, het hy agter om die esel geloop en sy hand oor die esel se stert van bo af tot regoor sy hakskeen laat gly. Daar het hy dit dan vasgevat en die stert netjies afgeknip. As hy sy hand laat los het, het dit gelyk soos ’n rietbesem wat hy so flussies gebind het. Ek onthou nog hoe en waar elke esel getrek het, want elkeen het sy plek gehad. Soos ons mense van geaardheid verskil, het elke dier van nature sy streke en temperament waarmee jy rekening moes hou as jy hom hanteer het. Pa het altyd gesê ’n beneukte esel of perd se leisels moet jy kort hou, sodat hy kan weet wie’s baas. Die rustige en kalme Bleekbok het hotagter getrek en langs hom was Springbok met sy rankerige lyf. Hulle twee moes sorg dat hulle die kar of wa “vashou”, sodat dit nie onder die ander diere ingeloop het nie. Veral by ’n steil afdraand moes hulle “in die broek” sit, want hulle was ons remme. Daarom was die twee hourieme van dubbele beesvel gemaak, sodat daar nie ’n fout moes kom nie. Naasvoor het die lewendige en wispelturige Klouterbok getrek, met die beneukte Steenbok langs hom. As ons kinders Klouterbok se stringe vasgemaak het, het Pa altyd gewaarsku dat ons moes oppas dat die kriewelgatesel ons nie raakskop nie. Hy het altyd self die halsstarrige Steenbok ingespan en terwyl hy met hom gesukkel het, het hy hom goed op sy moer geblo. As Steenbok die dag vol streke was en met die kop geslaan het, het Pa vir hom ’n lipstrop aangesit. ’n Lipstrop was enige wilde perd se moses. Dit was ’n kort houtjie waaraan ’n ronde riempie vas was. Om te verseker dat hy stilstaan, is dit om sy bolip gesit en opgewen. Dit was so pynlik, dat jy hom rustig kon inspan en selfs tussen sy bene deur aan sy klokke kon vat, en hy sou doodstil staan en bewe. Net sy oë, wat wild in hul kaste rondgedraai het, het nog getuig van sy beneuktheid of weerbarstigheid. Heel voor het die wakker en skrikkerige Donkerbok, met sy waaksame gespitste ore, getrek, met die besadigde ou Gemsbok langs hom. As daar soms onverwags ’n korhaan met luide geskal opgevlieg het, het Donkerbok in die lug gespring en wou hy op loop sit, maar ou Gemsbok het skaars sy twee ore geroer en rustig aangedraf. Dit was asof hy vir sy maat wou sê: “Aag, man, moenie skrik vir ’n raasbek voël nie!” As hy klaar ingespan het en die touleier die vooresel los, het Pa hulle aangepraat en die sweep oorgewaai. Dit was asof hulle al ses tegelyk in beweging gekom en soos ’n outomatiese ratkas algaande spoed opgetel het. As die span die werf op ’n stywe draffie uitgery het, kon jy die sweempie van trots op my pa se gesig sien. Die ritmiese geklop van die disselboom het getuig van die lekker spoed wat hy gery het. Dit het ook ’n kalmerende uitwerking op jou gehad, want jy was gou besig met jou eie gedagtes. Terwyl ons gery het, het hy gedurig met hulle gesels en as hy gehoor het hulle keelgat fluit, het hy die leisels so effe stywer getrek en ’n gedempte sisfluit tussen sy ondertande gemaak. Dan het hulle ’n paar honderd tree rustig gestap, voordat hy hulle weer saggies aangepraat en aangehits het. Hy het dan die sweep oorgewaai, sodat hulle stelselmatig na ’n ander rat oorgeskakel het. Soos hulle gedraf het, het hulle met tussenposes die oggendstilte met ’n rogpoepie verbreek en as dit te luidrugtig was, het Pa speels gesê: “Nee magtag, kerêls! Wat gaan vemôre met julle aan? Gedra dan vir julle!” Ou Bleekbok was duidelik sy witbroodjie, want hy het hom bitter min geslaan. Soms het hy hom met die agterkant van die sweepstok onder sy stert gekielie om hom bewus te maak van sy oubaas se verwagtinge. Ja, hy en sy diere het mekaar verstaan, want jy kon net dieretaal praat as jy ’n liefde en aanvoeling vir hulle gehad het. Ek kon my altyd verluister as ons uitspan en hy vir elkeen ’n woordjie gefluister en speels ’n klappie op die boud gegee het as hy die halter afgetrek het, so asof hy vir hulle wou dankie sê vir ’n aangename tog. Soms het Steenbok nog ’n bietjie probeer spook as Pa sy halter wou aftrek. As Pa die gespe van die halter klaar losgemaak het, het hy nog ’n wilde snork gelos en met ’n vaart omgespring. Dan het Pa hom kopskuddend agterna gekyk en gesê: “Wat hit jou beneukte maniertjies jou nou gehelp?” Agter op die kar was altyd ’n sak gestopte kaf en ’n bietjie pitvoer waarmee hy hulle beloon het. Gewoonlik het Pa net sy ryperd en die twee agteresels op stal gehou en het die ander esels veld toe gegaan. Toe hy op ’n dag weer die esels gaan haal, het Donkerbok makeer. Hy het geweet dat hy effe kruppel was van ’n stok wat hom onder sy kleinkloutjie gesteek het, maar kon hom nêrens kry nie. So het hy elke dag vir Donkerbok gaan soek. Soos ’n familie wat berus het nadat hul geliefde op die strand uitgespoel het, het my pa ook berus toe hy hom eendag naby die lyndraad se hoek langs ’n pendoringbos gekry het waar hy dood gelê het. Die middag het hy met ’n emosiebelaaide stem die doodstyding aan my ma kom oordra. Hierdie prentjie van sy verhouding met sy esels het ek geskilder om ’n voorsmakie te gee van hoe die band met sy diere was en hoe spesiaal Voorwaarts vir hom was. Pa was nog ’n jongkêrel toe hy op Grootvlei, naby Kamieskroon, by wyle oom Corneels van der Westhuizen vir hom ’n perd gaan uitsoek het. Oom Corneels was alom bekend vir sy goeie perde. Die perde was vet en uitgelate en het een vir een in die groot gepakte klipkraal by hom verby gedraf, maar kort-kort het die swartbles hingsie met die sagte oë sy oog gevang. Later het hy na die hingsie met die wit agterpoot gewys en die teler het bevestig hoe ’n goeie moer hy gehad het en ook sy vaar vir hom gewys. Hy was nog nooit in die hand nie en nadat hulle hom met die vangstok gevang het, het Pa versigtig met die halter nadergekom en hom met “sooo nou, sooo nou” gekalmeer, totdat hy die halter se gespe vasgetrek het. Terwyl die perdjie gestaan en bewe het, het Pa hom liefderyk oor sy kop gestreel en hom daar in die kraal “Voorwaarts” gedoop. Nadat hy die nodige ponde afgetel het, het hy vir Voorwaarts aan sy ryperd gekoppel en huis toe gekom. Daardie jare was oom Dowe Gert die “perdemoeskant” en hy was in die Sandveld bekend vir sy vermoë om perde te leer. Hy het blykbaar die taal van ’n perd verstaan en het ’n natuurlike aanvoeling vir perde gehad. Hy het vyf pond gevra om ’n perd te leer, maar as ’n perd onder sy hande deurgeloop het, was hy klaar geleer. Pa het blykbaar nie die geld gehad nie en het besluit om vir Voorwaarts self te leer. As twintigjarige jongkêrel was hy vreesloos en onverskrokke en nie bang vir enige perd nie. Trouens, hy het as kind met perde grootgeword en het al baie met moederaarde kennis gemaak. Pa se jonger broers het my vertel dat hy altyd ’n wilde perd gesoek het om in te breek. Hy het selfs ’n saal op een van my oupa se esels gesit en hom vir die grap mak gery. Daardie jare was dit ’n prestasie om ’n ongetemde perd te klim, maar nog meer as jy in die saal kon bly sonder om gegooi te word. Die oggend toe Pa die saal op Voorwaarts se rug sit, het hy sy kop aanmekaar gevryf en hom met ’n sagte gefluit gekalmeer. Hy het hom eers ’n bietjie rondgelei, sodat hy aan die saal gewoond kon word. Later het hy hom opgeklim en dit was asof Voorwaarts alles gelate aanvaar het, want hy het nie eens probeer om van sy ruiter ontslae te raak nie. Die volgende paar maande het hy vir Voorwaarts geleer om “stryk” te loop. Hulle het nie van “gang” gepraat nie. Hulle het oorvertel dat Voorwaarts vinniger kon strykloop as wat hy kon hardloop. Pa het hom ook later geleer om toertjies te doen. As hy skree “hop!”, het Voorwaarts op sy agterpote gaan staan en by ’n draad of hek het hy hom met ’n sierlike boog laat oorspring. So het ruiter en perd al meer bekend geword en het die mense begin praat oor die vermoëns van Voorwaarts en sy ruiter. In hierdie tyd het daar ’n besondere band tussen die twee ontstaan en was hulle onafskeidbaar. Eendag het my oupa hom gestuur om ’n koei wat weggekalf het, te gaan soek. Donkermeis was al meer as ’n week weg en hulle kon haar nêrens kry nie. Pa is die oggend vroeg weg en het vir meer as twintig kilometer Donkermeis se reënspoor gevat. Later het hy haar in Kwaas se boskaas gekry waar sy rustig gestaan en wei het. Hy het op haar spoor teruggery en haar kalfie tussen die hoë duine gekry, waar sy ma hom weggesteek het. Hy het net daar die kalfie op die perd se rug getel en vir Donkermeis aangejaag Soutfontein toe. Tot vandag toe noem hulle daardie gebied “Donkermeis-se-knoppe”. Hulle vertel dat hy een oggend voordag Koekenaap toe gery het om die naweek daar te gaan kuier. Hy het nog met ’n uur se son Koekenaap ingetrippel – ’n afstand van 200 km. Voorwaarts was natuurlik ook sy “uitry”-perd en daar word vertel dat hy Saterdmiddae sy perd blink geroskam en sy maanhare en stert gekam het. As hy die middag deur Soutfontein gery het, het alle inwoners voor die deure gestaan en kyk hoe grasieus hulle verbysweef. Renier Schreuder van Danabaai, wat as kind voor my pa grootgeword het, moes eendag oor die perde van Namakwaland skryf en het ’n groot deel daarvan aan Voorwaarts gewy. Ek haal hom aan: “Voor hom was nog nooit so ’n voortreflike perd in Namakwaland gebore en sal daar ook nie weer so een te voorskyn kom nie.” Ook: “Op ’n ander geleentheid wou Corneels ook graag die Vrydagaand met Wallekraal se nagmaal die verrigtinge/speletjies in die rivier voor die winkel bywoon. Die jongmense het gewoonlik daardie aande stoei, stoktrek, verspring, sweepstok optel ens. beoefen. Oom Joos, sy vader, het ingestem, maar Corneels moes daardie Vrydag met Voorwaarts na die barre, dorre Kleurlinggebied anderkant Goewermentsput gaan om vir hom ’n werk te gaan doen of boodskap af te lewer. Daardie aand, terwyl die jong klomp voor Wallekraal se winkel staan, kom Corneels met Voorwaarts om die draai aangetrippel, maar dit was glo ’n skouspel wat onvergeetlik was, vertel Joggem Viljee van Klipheuwel my. Hy sê dit lyk of die perd se pote nie aan die grond raak nie – jy kon letterlik die blou lug onder sy pote deursien. So het ek hom ook menige dae sien trippel – terwyl ’n ander perd kliphard langs hom moes galop om by te bly.”

My ma, by wie hy later gaan kuier het, het op Outiep, 20km vanaf Garies, gewoon. Saterdagmiddag, voordat hy in die grootpad afgedraai het, het hy eers afgeklim en die roskam uit die saalsak gehaal, die ergste saltpeter afgeborsel en sy skoon wit langbroek aangetrek. As hy dan vir Voorwaarts opgeklim het, het hy sy hoed effe skeef getoon, hom in sy eie skaduwee bekyk en dan vir Voorwaarts op stryk getrek. Die laaste paar myl het hulle gesweef en dit het glo gelyk of die ruiter op die perd gegiet was. Hulle is later getroud en ons het vandag nog ’n paar geel verbleikte foto’s waar sy en my pa op Voorwaarts se rug pryk. Hulle was bitter arm en het ’n entjie van my oupa-hulle af in ’n eenvoudige matjieshuisie gewoon. Voorwaarts was die enigste vervoermiddel wat hulle gehad het. My oupa was nog baas op die plaas en het my pa later laat verstaan dat hy hom nie verder van sy trekgoed sou leen nie. Hy moes ’n plan maak om sy eie trekgoed aan te skaf. Hy het my pa aangeraai om van Voorwaarts afstand te doen om met daardie geld vir hom donkies te koop om ook met hulle te ploeg. Vir Pa was dit ’n sielestryd, want Voorwaarts was vir hom soos ’n kind en hoe raak jy ontslae van ’n dier waarvoor jy soveel gevoel gehad en waaraan jy so geheg geraak het? Ma het vertel dat Piet Viljee van Vredendal ’n paar weke later op die plaas aangekom en vir Pa ’n aanbod vir Voorwaarts kom maak het, want Voorwaarts se naam het hom vooruit geloop. Hy was ’n spoggerige en vermoënde man wat sy perde op skoue vertoon het en Vredendal se skou was destyd dié perdeskou van Namakwaland. Pa het aanvanklik sy aanbod van die hand gewys, maar Oupa het hom later oorreed om die perd te verkoop. Sy liefde vir Voorwaarts en Oupa se opdrag het vir baie dae in sy binneste teen mekaar gebaklei, maar hy het hom elke keer vasgeloop teen die feit dat hy geen trekdiere gehad het nie. Pa het geen keuse gehad as om maar teësinnig in te stem nie, want al was hy getroud en twee kinders gehad, het hy sy vader slaafs gehoorsaam. Die dag toe Piet Viljee hom kom haal het, het Pa vir Voorwaarts geroskam en sy maanhare en stert netjies geknip, so asof hy hom vir oulaas op sy beste wou laat lyk en hom so wou onthou. Toe hulle die agtermiddag groet en hy die halterriem vir Piet gee, het hy hom laat verstaan dat hy “assemblief” mooi na Voorwaarts moes kyk en moes sorg dat hulle hom elke keer goed koudlei as hy natgesweet was. Toe Piet die agtermiddag vir Voorwaarts weglei, het Pa vir oulaas oor sy kop en blinkvet kruis gestreel en gesê: ”Jaa, ou Voorwaarts ….” en in die verte getuur, soos een wat wou dankie sê vir die plesier wat hy hom gegee het en om verskoning vra vir die onreg wat hy hom aandoen om hom in vreemde hande oor te gee. Ma het vertel dat hy doodstil voor die deur bly staan het todat Piet Viljee met sy perdekar om Boesmankop verdwyn het. Hy het later ingestap en half skuldig die Judasgeld op die tafel neergesmyt. ’n Paar dae lank was hy stil, want hy het oor sy perd getreur. Met die geld van Voorwaarts het Pa later vir hom ’n span donkies en tuie gekoop en hy het nog ’n paar pond oorgehad. Hy was egter nooit iemand wat van donkies gehou het nie en het laterjare vir hom die ses basteresels gekoop. Pa het nooit met ons kinders oor Voorwaarts gepraat nie, want dit was vir hom ’n diep en gevoelige saak. Eendag het ek skelmpies afgeluister hoe hy vir iemand van sy laaste besoek aan Voorwaarts vertel het. Hy het vertel van die baie pryse wat Voorwaarts reeds in die Vredendal-omgewing ingepalm het en toe hy laterjare weer op ’n dag op Piet Viljee se werf kom, het hulle dadelik stalle toe gestap. Voorwaarts moes hom dadelik herken het, want toe hy die staldeur oopmaak, toe ruk sy kop, spits sy ore en runnik hy soos een wat ’n ou bekende groet. Pa het hom by die staldeur uitgelei en toe Pa skree: “Voorwaarts, hop!” toe staan hy soos van ouds op sy agterpote totdat Pa hom die gebruiklike klappie teen sy nek gegee het. Sonder woorde het hy hom nog ’n paar keer gestreel, soos een wat vir hom wou sê hoe baie hy hom gemis het en hoe hy homself verwyt het oor die onreg van destyds. Toe hulle terugstap huis toe, het Piet Viljee alleen gepraat, want Pa was stil. ’n Deel van hom was nog ’n wyle in die stal by Voorwaarts. |