Ramsay, Son & Parker (Pty) Ltd

 

 
 TUISBLAD
 NUUTSTE UITGAWE
 VAN DIE REDAKTEUR
 BOSSTORIES
 GROEN WENKE
 RADIO LANGPAD
 CHRIS BARNARD
 DOENDINGE
 BLOGS
 KOMPETISIES
 JULLE FOTO'S
 KONTAK
 SKAKELS
 SKERMBEELDE
 
 


 
Blogs

 
Lewer kommentaar op hierdie storie

11 September 2008
Olifant-ry - Willie Coetzer
Al ooit daaraan gedink om die moed (en die dollers) bymekaar te skraap vir die rit van jou lewe?

Nie 4x4 nie, nie jaag nie, nie vegvliegtuie nie, maar stadig, statig, hoog bo moederaarde! Ja, olifant ry!

Ons staan dou voor dag op, moet sewe uur al daar wees! Kan nie wag om Jabulani te ontmoet nie! By die hek wag 'n vriendelike, geselseringe man ons in en ons volg hom in sy "wildkykvoertuig" tussen die bosse deur. 'n Paar kilometer verder sien ons hulle, 'n ry netjies geparkeerde Grootvoete. Elkeen met sy eie drywer penregop bo-op.

Parkeer en sluit by 'n groepie afwagtende olifantryers aan. 'n Warm verwelkoming en 'n baie professionele en interessante lesing oor die ontstaan van die Jabulani-olifantkamp en van olifante en hulle gewoontes. So tussendeur loer almal vir die reuse-diere en die kameras kliek senuweeagtig! Ek tel dertien bosreuse, opgesaal en gereed vir hulle oggendrit. Tussen die groot diere speel drie jong olifantjies soos kinders. Draf rond, terg die grotes, stoei in die stof. Wat 'n belewenis om so na aan die grootste dier in die natuur te kan wees!

Opklimtyd! Twee-twee word die groep opgelaai, klim bo-op 'n houtstellasie en word dan die saal ingehelp. Ek en Bernice ry heel agter, reken dit sal die beste view en goeie foto’s verseker.

Ongelooflik hoe groot 'n olifant regtig is. Die grond is sommer ver ver onder jou en die boomtakke is skielik gesighoogte. Wieg-wieg vat ons die pad terwyl die son sy verskyning op die horison maak. Een van die drie baba-olifantjies stap saam, die ander twee bly by die kamp agter.

Wat 'n belewenis as ons en die olifante so stil-stil in enkelgelid deur die bosse beweeg! Stap naby ander wild verby, hulle steur hulle nie aan ons nie. Die klein olifantjie draf om by te bly. Gou is dit duidelik dat hy die roete al gestap het, elke keer as die voorste olifante van rigting verander, vat hy kortpad tussen die bosse deur en wag voor vir sy ma om verby te kom.

Heeltemal te gou draai ons terug, sou ure lank so hoog deur die pragtige bosveld kon ry! Net voor die rit eindig is dit fototyd. Die gidse kom haal ons almal se kameras en neem van elke olifant en hul ruiters 'n paar foto’s. Maar die groot fotosessie begin nadat ons rit eindig. Elkeen kry 'n beurt om aan die olifante te vat, hulle te vryf en spesiale foto's vir die nageslag te neem. Tyd om te groet, die olifante moet gaan rus!

'n Baie spesiale dag in my lewe! Die herinneringe aan hierdie besondere interaksie met olifante sal my vir ewig bybly.

Lewer kommentaar op hierdie storie
 
 
 

 

footer