Ramsay, Son & Parker (Pty) Ltd

 

 
 TUISBLAD
 NUUTSTE UITGAWE
 VAN DIE REDAKTEUR
 BOSSTORIES
 GROEN WENKE
 RADIO LANGPAD
 CHRIS BARNARD
 DOENDINGE
 BLOGS
 KOMPETISIES
 JULLE FOTO'S
 KONTAK
 SKAKELS
 SKERMBEELDE
 
 


 
Blogs

 
Lewer kommentaar op hierdie storie

11 September 2008
As is verbrande hout - Nelis Engelbrecht
Hei daar! Het die afgelope twee dae weer lekker reëntjie gekry, so 8 mm, wat ons wêreld bitter nodig is.

Het seker gereën omdat die SDR se padskraper 'n slag pad kom skraap het tot op ons plaas. Dis 'n wonder dit het nie gehael nie, want daai geel wa het 1997 met die vloed laas hier op ons werf kom pad heelmaak, en dit was laaste. So die veld hier by ons kry weer lekker skop en word nou eers mooi, blomme staan plate in die veld, want die lewe is weer terug.

So 'n maand terug ry ek en ou Sparkey op soek na skaap toe ek voor my 'n onaardse geluid hoor. Arme Sparkey gooi my amper af van die skrik toe die groot gedierte met baie moeite en ge-sjwoesh sjwoesh van vlerke die lug in trek.

My aarde, van wanneer af vlieg volstruise in my wêreld? dink ek toe ek sien hoe die grootste pou wat ek in my lewe gesien het, hier voor my opvlieg. Dit was sowaar 'n gompou: iets wat mens nooit sien in die veld nie.

Is ook die eerste een wat ek raakloop in my lewe en ek het my verwonder aan hoe groot hy is. Hy gee 'n helse blerts met die opstyg, 'n eienaardige kenmerk van 'n pou. Weet nie of dit die beurslag is van die opstyg nie, of onnodige gewig wat hy wil afskud nie.

Ek kon hom 100 m ver nog hoor hoe sy vlerke met die opstyg probeer vliegtuig speel. Wat 'n gesig en ek staar nog so in die verte soos hy wegvlieg. Jinne, die een was groot, hy't so gesukkel om op te kom, dit amper nie gemaak nie. Wel, dit was 'n eerste en het gewonder of ek ooit weer die geleentheid sou kry. Ek het nie eens my kamera by my gehad nie, want ná daai dag wat ou Sparkey my so 20 m ver in die veld gesleep het, het ek ook nie meer my kamera saamgery op die perd nie.

Wel, gister het ons weer in daai rigting gery, want daar het nog een ooi en twee lammers gekort in daardie kamp. Vrek wilde ooi, het laaskeer uitgespring en weggehardloop. Die duiwel darem, dit sal altyd net een wees. Sparkey was nie by nie, anders het hy daai ooi net daar flou gehol.

So gaan maak ons 'n draai in die kamp, want wie weet sien ons die ooi, want as een van daai lammers 'n rammetjie is, kan hy dalk nonsens aanjaag as ons weer eendag daar skaap insit en my pa is hoeka so presies en hou nie daarvan as 'n skaap ontydig lam nie. So ry ons teen die draad op. Voor ons beweeg 'n ding. "Watse ding is dit daar voor?" vra ek my pa wat nog met sy oë skaap soek. "Dis mos 'n pou! 'n Helse een ook!" skree my pa.

Die arme voël wou nou windop vlieg om wind te vang, maar toe is sy kop in die draad. "Vang hom!" skree my pa en ek vlieg in die ry uit en vang die reuse-voël se twee agterpote. Helsem, dis 'n groot een die, groter as die een wat ek daardie dag gesien het, voel so noudat ek hom in my hande het. Ek maak sy vlerke oop, oor die 2 m en sy kop, groter as 'n volstruis sweer ek.

"Kêrels, kêrels, dis darem 'n groot pou," sê my pa en sy oë blink skoon soos 'n kind wat so pas 'n persent gekry het, want in die ou dae was dit 'n groot fonds, om nie te praat van die lekker vleis nie. "Dis mos twee potte kos die," en hy vat die voël by my oor omdat ek reguit bakkie toe wou hol, want die geleentheid wil ek nie misloop nie en ek ry nie verniet my kamera weer elke dag saam met my veld toe nie.

Ek neem eers die pou van alle kante af en verkyk my aan sy groot kop. Hy runnik soos 'n perd, so 'n diep geluid en ek skrik sommer. "Ek is al 65 jaar oud en het nog nie so 'n groot pou gesien nie," vertel my pa en hy inspekteer eers die weerlose dier.

Om so 'n pou by die voet te vang, lewendig, dit gebeur nie elke dag met 'n mens nie. "Ma sal darem bly wees oor die vlerke, dit sal 'n stoffer maak vir dood." Hulle het vroeër jare pouvlerke gebruik om mee uit te vee en af te stof, werk nogal baie lekker. My pa kyk net kort-kort rond of hy nie vir Piet (werknemer) gewaar met die ooi nie.

"Nou moet Pa so houvas dat dit natuurlik lyk," want ek hou van natuurfoto's en die een gaan ek nie gou weer kry nie. Ek verbaas my aan my pa se geduld, want hy is 'n haastige kêrel wat nie tyd het vir sulke goed nie.

"Neem een van my ook," en ons ruil die kamera. "Jong, jy laat raak nie my pou uit nie, jy houvas hom styf, en waar druk mens die ding se knoppie?"

"Ek wil hom so bo my kop afneem, laat dit lyk of hy wil vlieg en ek hang onder hom," probeer ek my pa verduidelik.

"Jong, jy ken mos pou se kind, hy skeit sommer op jou kop."

Ná 'n gesukkel is die foto's geneem en my pa beklemtoon weereens dat ek tog nie die fonds moet verloor nie, want hy wil so graag vir ma loop wys. "Daar kom Piet," en my pa wys na die rand waar Piet met die wilde skaap aangehardloop kom.

"Kom, kom, los die foto besigheid laat ons vir Piet kan gaan help, want die ooi mag nie vandag weer uit raak nie."

"Maar Pa, houvas gou net die pou op die kaal kolletjie, ek wil mos nou 'n mooi foto neem waar hy sit," en ek sien hoe my pa begin ongeduldig raak. Met kamera in die een hand en pou in die ander probeer ek oor die draad klim, maar met die plus minus 30 kg sukkel ek met die een hand om oor die draad te klim.

Die woorde "twee potte kos" en "nek om draai" moes êrens in die pou se kop vasgesteek het, want net daar gee hy so 'n wilde runnik en skop en spartel laat dit vrek en uit my hand uit.

"Vang hom!" skree my pa maar die gedierte vat so hier en daar grond soos hy probeer opvlieg. Ek hardloop agterna, maar gumboots en Sandveld is nie maats nie en ek tel 'n los dropper op en gooi nog tevergeefs agterna.

"Dônner! Wat te hel het jy dan nou gemaak?" skree my pa met 'n baie teleurstellende kyk op sy gesig, terwyl ek my kamera staan en wegsteek. "Ai, ai, dit was darem nou onnodig!"

Ek weet nie waar om te kyk nie, want ek weet ek het nou strooi aangejaag.

Die pou het drie keer geblerts met die opvlieg, ek sou seker ook, want die dood was naby, want kos is kos en dit nog aan die agtervoet gevang ook. Piet kom aangehol met die skaap, hy is stokflou. Ek los hom af en my pa jaag met die bakkie oor al wat 'n bos is, want die twee lammers moet hy in die hande kry, maar die ooi het ander planne.

Dis die kant dan daai kant om die bakkie, ek sweer die duiwel staan en gil in sy oor, want g’n skaap kan so mal in sy kop wees nie. Later het ons die ooi stokflou gejaag, maar een van die lammers het uitgespring en moerland toe gehol.

"Laat los als!" skree my pa wat nog vies was oor sy pou wat ek laat verloor het. Ek het darem gesien dat altwee lammers ooilammers is en dit het darem so 'n ligpunt in die saak gebring.

Ja, so kom 'n mens mos oor, gelukkig het ek die foto's om die storie te vertel. Later by die huis vertel my pa my ma van die gebeurtenis. "Pa, vergeet die arme voël, dis mos 'n bedreigde spesie, ek het hom aspris laat gaan," spot ek maar. "As jou oupa Corneels vandag by was, het jy op jou swernoot gekry!"

Lewer kommentaar op hierdie storie
Lees lesers se kommentaar: (6)  
 
As is Verbrande hout
Nelis, hou so aan . Ek geniet jou stories. Wens eintlik ek was op Sarrisam net om jou pa se gesig te sien toe die pou opstyg en wegvlieg.
Ingedien deur : Annette  op 2008/09/15

Gompou
"'n Baie groot voël: die swaarste voël in ons streek wat kan vlieg en ook die grootste pou in die streek. Sy fygebande grys nek en lang kuif agter op sy kop is kenmerkend. Geslagte lyk eners, maar die mannetjie is baie groter as die wyfie. As die mannetjie pronk, lig hy sy kuif op, blaas sy keelsak op, pof die nekvere en lig die stertvere om die wit onderstertdekvere te wys. Kom alleen of in pare in droë doringveld, grasveld en Karoobossieveld voor. Hul getalle het drasties afgeneem as gevolg van habitatversteuring; is nou skaars buite bewaringsgebiede. Die mannetjie maak 'n diep "oem-oem-oem"-geluid in die broeityd." - Die VOëLGIDS van Suider-Afrika Ulrich Oberprieler & Burger Cillie
Ingedien deur : terina  op 2008/09/15

Nou ja toe nou, so pou, wees net bly dit was nie 'n rooijakkals nie!!! Het ek dit nou geniet.
Ingedien deur : Banaé Ellis  op 2008/09/15

Ai Nelis!!!
Yes Boeta, ek het al so gehoop dat jy al geleer het om uit die moeilikheid te bly!!! Maar nou ja, 'n bokram bly 'n bokram!!! Geniet jou sorgvrye natuurlewe en gaan so voort met jou mooi stories, ek geniet dit baie!!! Groete vir jou Pa.
Ingedien deur : Robbie Bul  op 2008/09/13

Pouvleis verniet
Is ook bly die arme pou het weggekom. Sarrisam het immers genoeg skaapvleis. Wonder net hoe dit gebeur het dat hierdie spesifieke spesie in daardie omgewing beland het? Waar is hulle eintlike habitat?
Ingedien deur : Oom Koos  op 2008/09/12

pou
ek's bly die pou het weggekom!! ;0)
Ingedien deur : terina  op 2008/09/11

 

 

footer