Ramsay, Son & Parker (Pty) Ltd

 

 
 TUISBLAD
 NUUTSTE UITGAWE
 VAN DIE REDAKTEUR
 BOSSTORIES
 GROEN WENKE
 RADIO LANGPAD
 CHRIS BARNARD
 DOENDINGE
 BLOGS
 KOMPETISIES
 JULLE FOTO'S
 KONTAK
 SKAKELS
 SKERMBEELDE
 
 


 
Blogs

 
Lewer kommentaar op hierdie storie

10 September 2008
Namibië: 4x4 not required - Willie Coetzer
Vanaf Tsumeb begin die opgewondenheid in my opbou. Die Otjikotomeer is die eerste plek om ou herinneringe sterk na vore te bring.

Wat 'n ongelooflke gevoel om Owamboland weer, na byna 20 jaar, binne te ry! Raak sommer half-emosioneel toe die eerste Makalani-palms, shonas, reuse-miershope en mandjieverkopers hul verskyning maak.

Die Owambo's is vriendelik, gesels lekker en die volwassenes praat sowaar Afrikaans. Ons stop langs die grootpad Angola toe, net onder "oom Willie" se pad en stap na 'n mooi kraal so 200 meter van die pad af. Word vriendelik verwelkom, gewys hoe word die Mahango "uitgeslaan".

Die kinders geniet die fotosessie en kom loer met 'n gelag vir hulself op die digitale kamera.
Oral is dit besonder skoon, nêrens langs die pad sien jy 'n papier rondlê nie. Mens kan die bevolking se trots vir hul land aanvoel. Misdaad, nee, hulle ken dit nie! En as iemand iets verkeerd doen, gaan hy baie lank tronk toe, verduidelik 'n ou Owambo-man.

Ondangwa en Oshakati is volbloed dorpe, selfs by die Oshikango-grenspos na Angola is verskeie winkels. Wie sou ooit kon droom om KFC in Oshakati te kan koop en om in 'n baie oulike gastehuis te kan slaap?

Verby Oshakati op pad na Ruacana stop ons by Ombalantu. Die bekende Poskantoorboom ('n reuse-kremetart), met die ou 52 BN-basis en "aapkas" langsaan, word vir die nageslag bewaar.
Hoewel daar slegs 'n klein stroompie water by die Ruacana-valle sigbaar is, bly dit en die Cunene steeds 'n pragtige gesig!

'n Paar kilometer vanaf die Calueque hidro-elektriese kragstasie sien ons ons eerste groepie Owahimbas, die hoofrede waarom ons so ver noordwes gaan draai het. Net daar besluit ons om die grondpad na Kamanjab aan te durf. Die uitdraaipad na Opuwa is sowaar geteer. In Opuwa, die hart van die Kaokoveld, neem ons besondere Himba-foto's (teen betaling natuurlik).

Hiervandaan vat ons die grondpad Sesfontein toe. Mooi wêreld! Die volgende aand slaap ons in die Namutoni-ruskamp in Etosha (die ander ruskampe sou 'n beter keuse gewees het). Okaukuejo veral, is pynlik netjies en pragtig versorg. Etosha se dorheid, oop ruimtes en pragtige springbokke en gemsbokke sal altyd 'n spesiale bekoring vir my inhou.

Ons volgende stop is Swakopmund. Wat 'n pragtige Duitse dorp. Heerlik, hier bly ons drie dae oor. Besoek Langstrand, Walvisbaai, Paaltjie, Duin 7, Rooibank en jaag met quad bikes die duine vol. Sal nie moelik wees om in hierdie wêreld te kom anker gooi nie …

Grondpadlangs, plek-plek deur die Namib Naukluft-Park, suid na Sossusvlei. 'n Hele paar honderd kilometer, maar die mooi natuurskoon maak die pad kort. Gooi brandstof in en eet by Solitaire, so 70 kilometer vanaf Sossusvlei. Wat 'n oase! Bekostigbare oornaggeriewe, 'n regte plaaswinkel, smaaklike etes! Die Wêreldbeker Sokkeruitslae word selfs daagliks op 'n swartbord langs die pertolpompe aangedui.

My grootste Namibië-droom was nog altyd om Sossusvlei te besoek, maar oral lees jy "4x4 required", en ons toer met my 1500 cc Daewoo karretjie! By die Ontvangs verneem ons dat die pad tot 5 kilometer vanaf Sossusvlei self geteer is. En daar is 'n "shuttle service" beskikbaar om besoekers die laaste 5 kilometer tot by Sossusvlei en Dead Valley te neem.

Laatmiddag, maar ons vat die pad. Die mooiste duine denkbaar! Aangesien besoekers sononder uit moet wees, besluit ons om vroeg die volgende oggend terug te wees. Mensdom, duur slaapplekke! Binne 50 kilometer vanaf Sossusvlei niks onder R1 100 vir twee persone nie.

Vroegoggend ry ons tot by die "shuttle punt" en stap verder. Die regte besluit, 'n absolute belewenis om vroegoggend hierdie 5 kilometer te stap. Mooi kan dit nie beskryf nie, en die stap bied die geleentheid om besondere duinfoto's te neem.

Dead Valley is 'n gesig wat my lewenslank sal bybly. In die baie lande wat ek al besoek het, het ek nog nie soveel mooi ervaar nie. Spierwit pan met pragtige boomgeraamtes, omring deur die mooiste mooiste duine. Sossusvlei self het baie water, iets wat gemiddeld elke ses jaar gebeur.

Hiervandaan neem die pad ons Keetmanshoop toe, deur oorlede Jan Spiese se Maltahohe. Keetmans se bekende Kokerboomwoud en "Giant Playground" is voorwaar iets besonders, verseker die paar kilometer ompad werd.

Nou verder suid, Oranjerivier toe, maar eers na Ai Ais. Die Visrivier-canyon is 'n gesig om vir ewig te onthou. Reusagtig. Oorweldigend. Mens voel klein as jy laatmiddag op die Visrivier, ver onder in die canyon, afkyk. In Ai Ais se lieflike ruskamp en warmbronne sluit ons 'n wonderlike, onvergeetlike toer af.

Weer doen? Verseker! Volgende keer via die Caprivi. Ons elfdae-toer neem ons oor 7 575 kilometer geneem, sonder 'n enkele pap wiel. Meer as 1 000 kilometer hiervan was goeie grondpad. Glo my vry, die Daewoo het ons oral geneem. 'n Duur, sterk 4x4 is nie 'n voorvereiste vir 'n super-toer deur Namibië nie.

Lewer kommentaar op hierdie storie
Lees lesers se kommentaar: (2)  
 
Skermbeelde
jou foto's is baie goed! ek het so 'n paar skermbeelde gemaak! gaan kyk op die skermbeelde afdeling!
Ingedien deur : terina  op 2008/10/02

foto's
Shoe ek het bietjie na jou foto's gaan kyk! Baie mooi!! WOW!
Ingedien deur : terina  op 2008/09/10

 

 

footer