Ramsay, Son & Parker (Pty) Ltd

 

 
 TUISBLAD
 NUUTSTE UITGAWE
 VAN DIE REDAKTEUR
 BOSSTORIES
 GROEN WENKE
 RADIO LANGPAD
 CHRIS BARNARD
 DOENDINGE
 BLOGS
 KOMPETISIES
 JULLE FOTO'S
 KONTAK
 SKAKELS
 SKERMBEELDE
 
 


 
Blogs

 
Lewer kommentaar op hierdie storie

10 September 2008
Tandarts - Hein Bester
Dis nogals snaaks hoe ons, Suid-Afrikaners hier in Londen, alle moontlike mediese ondersoeke, pille en brille altyd los vir daardie kuier by die huis.

So, asof ons steeds nie die medici die kant vertrou nie, hoewel die meeste van hulle in elkgeval Suid-Afrikaners is. Maar nou ja, ek het ook daardie paadjie gevolg en as ek nou in retrospek terugkyk, weet ek nie of dit die heel beste besluit was nie. Hier is my uitmergelende storie. Neem wel kennis, dis nie vir die mense bedoel wat maklik deur bloed afgeskrik word nie.

Ja, so het die dag ook aangebreek.

Verstandtande trek was iets wat nou al vir letterlik jare op my To-do-lysie lê en wag het, stil soos 'n foksterriër-slagyster wat wag om op getrap te word. En elke keer kon ek dit regkry om dit uit te stel, want van uitstel kom afstel, het ek gehoop.

Op een van my kuiers in SA moes ek gou by die tandarts ingaan, net om seker te maak dat die Britte se "swak tande" nog nie aan my afgesmeer het nie, want kyk, die meeste van hulle kan 'n tamatie lag-lag deur 'n sifdraad eet.

Daar was goeie nuus; my tande was OK, maar toe raak die tandarts meer ernstig (soos al die ander ook voor hom) en sê dat die een verstandtand my nog baie opdraande gaan verskaf. Sy woorde was nog nie eers koud nie toe kom my 2002 Kersfeesherhinnering by my op, soos 'n naargevoel van af-hoender eet. Dit was Kersfees en die hele familie was daar. Almal het lekker aan my ma se uithangdisse gesmul, terwyl ek sop deur 'n strooitjie moes drink aangesien my tandvleis ontsteek was. Watse treurige timing was dit nie; ek bedoel ek kom van Londen af om Kersfees by die huis te wees en dan besluit my tande om te ontsteek? Hoe dom is dit? So kos was uit soos koekies in die weeshuis. Koekies was wel in, maar net plattes. Om die waarheid te sê was enigiets uit wat nie tussen die sowat halwe sentimeter gaping tussen my tande kon inpas nie.

So sit ek toe op die stoel in die tandarts se spreekkamer, terwyl daai gedagtes my oorval. So wat was die opsies, wou ek weet? Hy't gesê die een tand moet uit, daar is geen ompad verby dit nie. Die ander twee boonste tande is reg, maar hy stel voor as een waai dan moet die res ook groet. Ten minste sou my probleme dan verby gewees het en kon ek met vrymoedigheid huil.

Wel, die besluit is geneem, die afspraak gemaak en ek is huis toe, met die gedagte dat ek weer moet terugkom, teen my wil. Laat ek dit net duidelik maak. Ek is nie 'n tandarts nie, maar my bietjie verstand wat ek nog oor gehad het, het my vertel dat as 'n tand al probleme gee in jou bek, dan gaan hy probleme gee as hy daar moet uit ook.

Vroegoggend lê ek al wakker en wonder oor dinge soos: God se wil, die dood, hoekom verstandtande se naam nou eintlik dit is en as ek nie nou opstaan nie gaan ek definitief my broek natmaak. Ek doen toe twee dinge op een dag wat ek heeltemal haat. Gaan na 'n tandarts toe as jy voor jou heilige siel weet hy gaan jou inspuit (en baie keer ook) en staan vroeg op as ek op vakansie is.

Net voor 8 druipstert ek die praktyk binne, soos 'n skaap op pad slagpale toe. Die ontvangsdame/nurse groet vriendelik en vra of ek reg is. Kan 'n mens dan ooit reg wees? wou ek weet. Toe een van die ander sekretaresses uitbars van die lag, toe weet ek hier kom groot poef. Al die bangmaakstories was toe nooit net ouvroustories nie. Net toe stap die tandarts binne en ek probeer my heel mooiste "smile" opsit, net om te sien of hy nie dalk van plan wil verander nie. Wat's die kans!?

Ek sleepvoet toe maar agterna tot by die stoel van die dood en gaan sit onwillekeurig. Dit was asof ek op "autopilot" was. Praat van "mind over matter". Terwyl hy oor die prosedures praat, speel Tolla se tandarts-grappie deur my kop, maar die keer lag ek nie. Ek maak net die heeltyd baie mooi seker dat my hande oop is. Mens weet nooit nie; die tandarts kom dalk net van die grens af en wil ook 'n naald wat soos 'n Datsun-bakkie se "exhaust" lyk, in my mond kom parkeer.

Eerste gaan hy die probleem geval uithaal en dan die ander twee. Alles klink so maklik en idillies, so mooi en sagkuns, maar het daar nog baie verrassings op my gewag. Hy bring toe so plaatjie, met 'n elektriese draad aan, nader, wat lyk soos die goed wat hulle altyd op TV adverteer, waar jy net die elektrodes op jou spiere plak en dan kyk jy TV terwyl jou spiere oefen en groter word. Die ding kom druk hy hier diep in my mond dat ek ewe skielik baie bly is dat ek nie ontbyt geëet het nie, anders het ek net daar 'n kat op hul vloer kom doodskiet en het daai tandarts-nurse sommer 'n veearts-nurse ook geword.

Die plaatjie neem X-strale, verduidelik hy en gaan staan saam met die nurse en loer om die hoek, terwyl die ding in my mond is met so 'n buis wat op my wang skyn en sulke snaakse klanke maak, soos 'n rekenaar as jy dial-up-internet begin. My vraag is net, hoekom skuil hulle so agter die muur terwyl ek oop en bloot lê met die ding teen my kop gemik? Die ding is sommer oulik en gou-gou gooi hy my probleem geval op die rekenaarskerm.

Reg! Oor tot aksie, maar eers moet hy die tande aan die slaap maak. Dis hier waar ek my hande weer mooi reg in posisie sit, net vir ingeval, maar om eerlik te wees, weet die man wat hy doen. Ek dink die elektrode in die keel was amper erger. Elke tand kry toe 'n goeie dous en net soos Tolla raak my tong en wange dik. Hy het die probleem-tand so bietjie erger gespuit, want dadelik was my tong half aan die slaap.

Hy gee my toe so paar minute om te ontspan, terwyl die tande lekker gaan slaap en hy sy koffie kan drink. Dis hier waar die nursie al die implemente en bore by my kop kom uitstal. Lekker op ooghoogte. Laat dink my toe sommer weer terug aan die hoof se kantoor met die halfdosyn rottangs wat in die hoek staan en loer. Skielik verlang ek terug na daardie jare.

Die koffie is klaar en my mond voel dik en suur soos melk wat te lank in die vrieskas gestaan het. Dis toe dat hy vir die nursie knik en sy die CD-speler opstart. Jack Johnson het heeltemal nuwe betekenis vir my gekry; elke woord. Met die aanvang van sy taak, sit die tandarts ook een van daardie klein kromnekspieëltjies op my bors, sodat ek kan kyk as ek wou. Ek dink ek het 'n beter kans gehad om vroeër se Krismis-ete by die huis te geniet, as wat ek met daai spieël in my mond gaan kyk terwyl hy sny en boor en trek. So daar lê ek toe, oorgegee aan die genadelose hande van 'n tandemoordenaar en sy medepligtige met die spoegsuier, al te lekker terwyl Jack ons toesing soos net hy kan.

Die tandarts spring toe dadelik weg met die boor en ek moet sê ná so paar minute was ek relatief ontspanne, want al kon ek niks voel nie, het ek veilig gevoel. Mens kon sien dat hy weet wat hy doen as hy vinnig tussen implemente wissel en bevele uitroep. So hier by die 4de, 5de liedjie het ek onraad begin merk, toe hy self sê: "Hierdie een sit nogal erg". Met die boor, boor hy 'n voortjie in die tand wat lyk soos die kop van 'n platpuntskroef en dan haal hy so 'n platpuntskroewedraaier uit en draai die tand om hom te breek of eerder uit te draai, want later het hy bietjie meer hardhandig gedraai, soveel so, dat my kop en nek alles saam beweeg het, maar geen tand nie. Niks nie.

Hy bevel toe die nursie om die groter spoegsuier op te skroef en hy self ook 'n groter boor aan sit. Toe boor hy! En sy suig! Maar die kombinasie was nie reg nie, want dit het soos 'n vulkaan bo my bek gelyk, soos die bloed uitspat. Ek wou later vra of ek nie ook 'n masker kan kry nie, sodat ek dit oor my oë kon sit, maar van praat wou my bek niks weet nie, helfte van my tong was dood en die ander helfte het gewens hy was ook dood. Ek kon net sulke breindood-geluide maak (soos daai Discovery Chaneel-bokke as die leeu hulle aan die keel beet het) wanneer die tandarts vra of ek nog OK was.

Stadig maar seker kon ek sien dat die tandarts se oë van vriendelik ("Hallo, hoe gaan dit?") na kwaai (Kom uit! Jou bliksem!) verander. As hy die skroewedraaier in my mond druk dan slaan sy kneukels so wit deur. Ek het op daardie stadium begin om skietgebede op te stuur, wat later seker meer na klaagliedere geklink het, want Jack was al besig om klaar te maak en die tandarts was steeds besig met die eerste tand.

Mens kon letterlik sê hy werk dat die bloed spat. Genadiglik is ek gespaar, want met moeite, bloedsweet en baie bid is die tand uit, stukkie vir stukkie vir stukkie. Met die laaste stukkie het hy die nursie gevra om 'n wattetjie in die gat te druk. Ek wou op my maag draai, want teen daai tyd kon ek sekerlik nie meer uithou nie, maar sy het dadelik baie reguit vir my mond gemik. Ek was verlig. Baie.

Ek het nie geweet tandartse sit steke ook in nie. Ná die steke was Jack al 'n geruime tydjie stil en ek is nie seker hoeveel in is nie, maar ek het by 5 ophou tel. Ek was net verlig om weer regop te sit en my mond, wat nie regtig wou doen wat ek wou nie, uit te spoel.

Ek hoef nie eers te spoeg nie want die bloed en water het sommer vanself uitgeloop. My bek was so gewoond aan ooplê dat ek bang was ek kry hom nooit weer toe nie. Die nursie het my spoeg help afvee, want met die hele affêre was my hande bietjie dom, ook meer en deels omdat ek nie my mond kon voel nie. Dis toe dat ek my borslap sien. Ek wens ek kon sê dit het na 'n aangename gesig gelyk, maar ek kan nie, want die bibbie het my meer aan daai rooi polka dot-bikini laat dink, al verskil net dat die dots die oop kolle tussen al die bloed was. Ek het verbaas na die nursie en tandarts gekyk wat self soos twee grootwildjagters gelyk het. Ek dink as enigiemand op daardie oomblik in die spreekkamer/operasiekamer/slagpale moes instap, sou hulle verseker gedink het daar was 'n bakleiery ook betroke, hoewel, maak nie saak hoe mens daarna sou kyk nie, ek het elke keer verloor. En goed ook. Aardig.

Nou vir die tweede skof, gelukkig met nuwe musiek en kom my onderkaak rus. Andrea Bocelli het my toegesing, met die tandarts oor my. Ná al die sukkel was die 2de tand 'n verbasend maklike een. Ek dink die tandarts was self ook verbaas, want Andrea het nog nie eers sy eerste liedjie kon voltooi nie toe lê die tand tussen die bloedbevlekte instrumente. Dit was soos 'n vinnige Habana-drie na die begin van die tweede helfte, want ek kon sien dat die tandarts weer nuwe drif gekry het, net om by die laaste een vas te val.

Otter, wat was dit met die linkerkant van my gesig, wat nou al soos 'n opgeblaasde ballon gevoel het. Sekerlik die knapper werkspasie. Gelukkig vir die vroeëre ondervinding met die probleemgeval, want kort voor baie lank was hy ook uit, met helfde van my kakebeen steeds aan die tand vas, maar wie kla. Ek was net bly dat dit alles verby was. Die laaste tand, of eerder gat, het darem 1 stekie gekry, net om sy ego te streel.

Alles was oor. Uiteindelik. Teen die tyd het my tandvleis soos 'n gedroogte pruim gevoel van al die bloei en my wang opgeswel soos 'n goeie bysteek of eerder 'n by-pelleton aanval. Terwyl die nursie die instrumente wegvat, het die tandarts my gesig met sulke steriele lappies afgevee om van al die bloed ontslae te raak. Dit moes seker 'n nare gesig gewees het, want hy was tot in my hare om bloed te kry en sy medepligtige moes op 'n keer nog lappies gaan haal het ook. Snaaks, dat hy nie toe daai kromnekspiëeltjie in my hand gedruk het nie.

Maar nou ja, ek lewe nog met 'n wang wat enige hamster vir 'n jaar sal kosgee. Ek weet nie of ek moet bly wees dat net een kant opgeswel het nie, maar ten minste het ek ook nou 'n mooi en 'n lelike kant.

Lewer kommentaar op hierdie storie
Lees lesers se kommentaar: (1)  
 
tandarts...londen
my broer is in londen & het al vir my "scary" stories van die tandartse vertel... so hmm... ja! dankie vir 'n baie lekker lees storie!
Ingedien deur : terina  op 2008/09/10

 

 

footer