Die wekker trieng my wakker. Ek sit vervaard regop! Dis dan vyfuur en dis Saterdag! En dan onthou ek, dis vandag kermis of soos ons dit deesdae noem, Familiefees.
Ek spring uit die bed uit, trek aan en maak my tande skrik met die tandeborsel.Dan begin ons die bakkie laai met die hoop ou klere was die afgelope paar weke in ons sitkamer opgegaar het. Ons is mos hierdie jaar verantwoordelik vir die ou klere en Wit Olifant-tafel. By die terrein aangekom is dit al ’n gewoel en gewerskaf soos min. Ek het nooit kon dink dat ’n klomp stadsjapies so vroeg al aan die werk kon kom nie. Sommer gou-gou is ons tent opgeslaan en die klere mooi opgehang of in hopies op tafels reggesit. Die Wit Olifant-goed staan langs die tent vir nuwe eienaars en wag. Toe vat ek my kamera en gaan kyk hoe lyk dit by die kostente.
Japie
en sy omgeegroep is verantwoordelik vir ontbyt. Teen die tyd is ek rasend van
die honger en ek tree vir my ’n bord kermisontbyt aan. En dis ook waar die groot
eet van die dag begin. My bord was gelaai met roereier, spek, gebakte tamatie,
’n lekker stuk wors en ook ’n gebraaide hamburger-patty. Na ek ’n tamatiesous-patroon
daarop geteken het, val ek weg, sit sommer daar by die koffiekroeg se een tafel.
Die dames daar is ook nie links nie en sommer gou staan daar ook ’n koppie stomende
koffie. Tog te lekker.
Ek gaan loop toe eers ’n paar draaie sodat die ontbyt effens kan afsak, die ander kostente staan soos soldate in ’n ry vir my en wink. Vir my is ’n kermis nie ’n kermis as daar nie pannekoek en kerrie en rys is nie. Ek begin by die pannekoektent, gaan sommer agter in. Daar staan die dames so in ’n ry en bak vir die vale. Hulle moet in skofte werk, want pannekoek word heeldag gebak en hulle moet nie agter raak nie. Die gees onder die baksters is heel opgewek en ek skerts ’n rukkie saam. Dan tyd om te proe. Ek koop eers net twee, eers word kaneelsuiker oor gesprinkel en dan rol hulle dit behendig op. Nee wat, julle hoef dit nie in ’n papiersakkie te sit nie, ek eet dit sommer net hier en die twee pannekoeke volg die pad waarvoor hulle bedoel is.
Nou
vir die kerrie en rys, sommer hier reg langs die pannekoektent. Die geure wat
my tegemoet kom laat my mond sommer water. Behendig word daar eers rys in die
bakkie geskep en toe die tradisionele kermiskerriemaalvleis bo op, sommer so
met ’n boog bokant die houer se randjie uit. Dis mos hoe ingeskep moet word!
Dan nog gemaalde klapper en blatjang bo op en ek kan wegval. Ek gaan sit eers
in die koelte van die koffiekroeg se tent, met hierdie kerrie en rys moet jy
jou tyd vat en elke happie geniet! Boonop begin ek nou al effe versadig raak
an daar is nog baie kossoorte om aan te gaan proe.
Ek besluit dat ek nou eers ’n koeldrank nodig het, op pad soontoe stap ek by die worsrolstalletjie verby. Ek besluit om eers net te kyk en nie nou al te koop nie. Dis toe lekker sappig gebraaide boereworsrolle of soos on dit sommer noem, boerierolle. Die mense staan al tou daar. Ek kyk hoe elkeen wat ’n boerierol koop kies uit ’n verskeidenheid souse om oor te sit, tamatiesous, mosterd, chillisous, noem dit en dit is daar! Ek moet myself dwing om verby te stap. Ek koop toe my koeldrank. Ek hoor hulle kondig af dat die Boeresport nou gaan begin, op pad soontoe stap ek by die hamburgerstalletjie verby. Weereens kan hulle nie voorbly met verkope nie, ek stap maar liewer vinnig verby want ek besef dat ek nou sal moet stadig as ek nog by die poedingtafel ’n draai wil maak. Ek staan ’n rukkie na die Boeresport en kyk toe my oog die vetkoekstalletjie se teken sien en ek laat waai op pad soontoe. Kyk, vir vetkoek sal ek nooit nee sê nie. Ek besluit om nie maalvleis op te sit nie, maar kies liewer stroop en kaas, tog te lekker. My kaartjies het toe alreeds opgeraak en ek stap kaartjiestafel toe om nog te gaan koop. En daar, reg langs die kaartjiestafel is die poedingtent. Gelukkig het ek ’n gaatjie oopgelos vir die poeding.
Daar
is ’n groot verskeidenheid warm poedings en ook ’n hele klomp bakke met koue
poedings. Ek besluit op die koue poedings, jy betaal, kry ’n bakkie, en doen
jou eie ding. Ek het verskeie geure so in ’n sirkel in my bakkie gepak en toe
skeppie vir skeppie in die rondte ge eet, ’n smaakontploffing met elke happie!
My oog val toe op die lekkerste souskluitjies, ek besluit om met my laaste kaartjies te koop en huistoe ta vat, dalk nagereg vir Sondag? Toe besef ek dat dit tyd was om huiswaarts te keer! Om meer te eet sou ’n sonde wees, en dit was tog ’n gemeentekermis! En die kerkraad se mense hou jou dalk net dop! Ek sien al klaar uit na volgende jaar se Familiefees! |