Hey daar, ai, die verkoue het my weer met 'n slap riem gevang, mens kan seker nie heel jaar gesond bly as almal om jou hoes en proes nie.
Wel,
my pa, Gert Sarrisam, is eintlik die een wat die skryfwerk doen, sy eerste boek
Vonke uit die Koeroeklip is 'n boek propvol ou jare se stories hier in
my eie Namakwaland. Daarin het ek gelees hoe mense werklik gesukkel het, waar
ruskans nie 'n opsie was nie en die dae hopeloos te kort was vir al die werk.
Die boek gaan oor my pa se lewensverhaal van hy begin skool gaan het tot later jare, vreeslik snaaks, maar ook baie emosioneel. Die storie van Voorwaarts, 'n legendariese perd in Namakwaland, het my sommer 'n knop in die keel gegee. Wel, so is hy besig met sy tweede boek wat Desember klaar sal wees, 'n boek oor vergete gebeurtenisse in ons kontrei, ikone in ons harde wêreld, mense wat amper vergete is. My pa het ook besluit om 'n storie te doen oor tannie Grietjie van Garies. Wel, ek moes 'n mooi foto van haar gaan neem het wat my pa in die boek wil gebruik en ek is hier af Garies toe. Dit was Vrydag, skool is al uit en oral word met 'n bal geskop of gespeel in die strate. Ek hou stil voor haar huis, op die trappie sit 'n klein fyn mensie op die trap en naaldwerk doen. Sy kyk op met haar sagte blou oë. "Middag tannie Grietjie," groet ek en ek vat haar klein handjie amper toe. "Sorry man, jou gesig lyk so bekend, ek kan nie so almal onthou nie, so vertel my eers wie se kind is jy nou weer." "Gert Sarrisam, my pa, het jou mos nou die dag kom uitvra oor jou lewe en ..." "Nelis, my wêreld is dit jy, jong? Jy't mos nou geheel kêrelkjind geword," en sy lag so vriendlik laat die gesig sommer plooi. "Ja, ek is mos nie meer vandag se kjind nie en julle raak ook so voor ons oë so groot."
Ja,
dink ek by myself, wat 'n dierbare mensie, wat al so vêr in die land gereis
het, soveel feeste opgetree het, tog so nederig. "Tannie moet tannie se kappie
gaan opsit dat ek 'n kiekie kan vat, Tannie is seker al op afgeneem," spot ek
nog.
"Ek het net die Here dankbaar wat my nog op my voete het," vertel sy toe ons op stap huis toe. Ons het bietjie gesels oor dit en dat, 'n paar foto's geneem en was so verbaas oor hoe geduldig die 81-jarige vroutjie was, want ek wou van elke hoek 'n foto neem en het haar taamlik rond laat staan. Later het ons vriendelik gegroet en sy het weer op die trappie in die son gaan sit. "Oja, sê dan daar vir jou pa baie dankie vir die boudvleisie wat hy vir my gebring het, en ook groete daar vir die mense." Ek het stadig weggetrek en met die handjie in die lug het sy totsiens gewaai. Ja, wat 'n voorreg, ons eie celebrity, en ek kon lekker met haar gesels. Later by die huis het ek die storie wat my pa oor haar lewe geskryf het gaan sit en lees en besef die hartseer wat daai klein mensie alles moes deurmaak, die eerste dag wat sy die Lekker ou Jan voor 'n bus mense kom sing het, die plekke waarheen sy getoer het, wat 'n aangrypende verhaal. Wel, julle sal dit maar moet lees in my pa se nuwe boek As murasies kan praat, dis uit in Desember. Tot later dan |