Die donnerse Britte. Teen 1881 het die Brit Henry Barrington al heerlik gebly in Portland Manor, net buite die Knysna-bosse.
Die legende gaan dat Henry baie suksesvol was met sy boerdery, en besluit het om dit te gebruik om iets te doen aan 'n groot probleem in die bos.
Eintlik 2 groot probleme. Op daardie stadium is twee wilde spesies, wat nie hou van reëls en beheer nie, in die bosse ingejaag. Die olifante, en die Afrikaners. Ingejaag of gaan wegkruip; ek is nie 100% seker nie. Die Afrikaners het hout gekap, en die olifante het die Afrikaners rondgejaag in die bos. Hulle was moerig. Die olifante meen ek. Oral was op hulle geskiet, en kry hulle toe wegkruipplek in die Knysna-bosse. Daar aangekom, besef die olifante dat dit nie so idillies is soos mense dit wil uitmaak nie, dis koud. Nat. Geen kos. En bedonderde Afrikaners kap die een boom na die ander af. Ek moet wel byvoeg dat hulle net gekap het wat hulle nodig gehad het. Die Afrikaners het omgegee vir die bos; dit was hul beskerming en lewe. Die Afrikaners het met groot moeite die hout tot in die dorp gekry, net om deur die houthandelaars uitgebuit te word. Sien, die houthandelaars het ook die plaaslike Woolies Foods van die dag besit, waar die houtkappers nie anders kon as om kos op skuld te koop nie. Die houtkappers is dan nooit vir hul hout betaal nie: die inkomste is sommer van hul skuld afgetrek. Duidelik 'n lonende beroep, solank jy die houthandelaar is. Dit het tot gevolg gehad dat die Afrikaners in die bos verarm het. Hulle het armblankes geword, van die soort wat mens nog steeds op die platteland en Patricia Lewis-konserte sien. Patricia is dus die houthandelaar, maw. aan die regte kant. So besluit Henry Barrington dis tyd dat iets gedoen moet word. Hy gesels met sy vriend in die parlement, en reken hulle die beste plan is om 'n sy bedryf te vestig in die bos, dat dit die Afrikaners kan besig hou en geld genereer. Natuurlik kan die Afrikaners nie na hulself kyk nie, en word daar besluit die Italianers is die regte mense om die Afrikaners in toom te hou. Seker maar omdat dit een bedonnerde nasie vat om 'n ander in toom te hou. Wat ook al wou, die Italianers kom toe oor na Knysna met 'n groot gejuig. Aan land gestap, besef hulle hier is moeilikheid. Eerstens is van die families belowe hulle gaan Amerika toe, en tweedens kom hulle gou agter dat die moerbeibome die verkeerde soort is, en gaan die plan nie werk nie. Die Italianers word toe vir alle praktiese doeleindes op 'n stuk grond gelos om na hulself om te sien. G'n Afrikaans of Engels magtig nie, met g'n manier van inkomste nie, besef hulle hier is probleme. Nou die storie loop dat die Hollanders op 'n manier tot hul redding gekom het, en om 'n lang storie kort te maak, het die Italianers toe mettertyd deel van die Hollanders geword. Hulle het onder mekaar getrou en als wat daarmee saamgaan.
Toe die Italianers eers met die Hollanders deurmekaar raak, kon hulle ook nie juis terug Italië toe nie, want daar is op hulle neergekyk. In Italië was baie van die mense suksesvolle syboere, en toe hulle probeer terugkeer met barbaarse Hollandse vrouens en mans, is daar besluit dat hulle nie meer goed genoeg is vir die volbloed Italianers nie. Einde Augustus 2008 besluit ons om my paphulle halfpad van Oos-Londen af te ontmoet by Stormsriviermond. Deur Jurgens van www.livethejourney.co.za en Douwe van www.karoospirit.co.za kom ons die Vrydag by Knysna-bosse uit. Ons ontmoet vir Frank, wat baie vinnig vir ons vertel dat vandag die dag is wat ons die bos gaan leer ken soos ons nooit van geweet het nie.
En hy was reg. Frank begin gesels; 3,5 ure later is selfs my pa stil, en dit wil gedoen wees. Frank vertel ons als van die bos wat ons nie geweet het agter die bome kan aangaan nie. Dis die ding. Mens dink as jy gaan ry dat jy jou kar in 'n rat gooi en 'n paar ure lank bome kyk, en dan is dit dit. Jy kan dit beslis so doen, maar dan kan jy beslis net sowel by die huis bly, en die DVD kyk. Frank besit www.bhejane.com. Hy het die natuurbewaringsouens genader en oorreed dat hy 'n konsessie moet kry om mense, onder streng beheer, deur die bos te vat. Dit gebeur toe en hoop hulle binne die eerste jaar sal daar darem so 350 mense wees wat sou belang stel. Onderskatting is die wagwoord hier, want toe ons gegaan het was daar al 750 mense deur die bos en die eerste jaar is nog lank nie agter die rug nie.
Frank het die hele storie so beplan dat die bosmense ook voordeel trek uit die hele storie. Daar is met hulp 'n restaurant by Diepwalle- Bosboustasie op die been gebring, wat werk verskaf aan die mense van die omgewing. En daar het al meer as R70 000 na die gemeenskap gevloei, wat my asem weggeslaan het. In die tyd wat Frank 3 radio's papgesels het, hoor ons hy is 'n afstammeling van een van die oorspronklike Italiaanse families, ene Rabbolini. Hy sê ook dat die storie vertel word in Dalene Matthee se Moerbeibos en al die houttreine in die bos gaan staan stil vir my. (Dankie aan Gert Vlok-Nel dat ek jou woorde kon buig). Ek besef ek het nog nooit in my lewe Dalene Matthee gelees nie. Hoe meer ek probeer dink daaroor, dat ek seker Fiela se Kind gelees het, hoe meer kan ek nie dink dit het ooit gebeur nie. Ek raak angstig en besluit dat ek dit moet regstel, want 'n fout soos hierdie kan maak dat ek vriende verloor. Terug in die Kaap koop ek Toorbos en is die boek my vriend vir die volgende paar dae. Ek besef nou dat as dit nie vir die donnerse Engelse was, wat gaan moeilikheid maak het met die Italianers 127 jaar gelede nie, het ek nooit Dalene Matthee gelees nie. En daarvoor sê ek dankie vir die Engelse en die Italianders, wat baie moeite gedoen het lank gelede om my ook beskawing toe te bring. In my opinie kan die Engelse maar weer gaan moeilikheid maak met 'n ander nasie, wie weet watse wonderlike dinge daaruit gaan voortspruit oor so 120 jaar. Enigiemand al Irakese boeke gelees?
As jy 'n brandewyn-en-Coke 4×4-tipe ou is, bly weg. Hierdie toere is nie vir jou nie en is ek seker julle wat kan lees, sal ook nie my blog lees nie. Hierdie begeleide toere is vir mense wat lus is om hul lewens te verander. Saam met die regte gidse; kan ek jou dit waarborg.
Toer leier: Frank Carlisle.www.bhejane.com Koste: R350 per persoon (dit sluit koffie en 'n ete in. Ook, 'n nuwe uitkyk op die bos.).
Bespreking gedoen deur www.livethejourney.co.za. Opgewonde gemaak deur www.karoospirit.co.za. Vir meer informasie oor die Italianers stuur 'n epos aan: elsabeth@livethejourney.co.za. Vir Dalene. Jammer.
Ns. Hierdie storie is soos ek dit kan onthou, en sal daar beslis feite wees wat ek verkeerd het. So lees ek byvoorbeeld dat een van Henry Barrington se kleinkinders reken die storie is heeltemal verkeerd. Lees meer hier.
|