Nog ‘n toer verby. Ons staan voor die Hotel Boulevard in Nairobi waar die meeste mense afklim.
Die res sal saamgaan na Indaba-kamp in Karen, die rustige voorstad. Hoewel elke groep anders is, en elke plek verskillend lyk met die veranderende seisoene, het ek tog ‘n effense De ja vu-gevoel. Op die ou end het elke groep ‘n hanswors, ‘n idioot, ‘n tertjie, ‘n oulike paartjie en twee blonde meisies wat saamtoer. Sommige mense onthou mens langer as ander, sommige vergeet jy nooit en sommige word ware vriende met wie mens steeds oor kontinente heen kontak hou. Patrick gaan die trok by Indaba-kamp los waar ek bly en dan ‘n taxi vang huistoe, tien kilometer ver. Ons het 8 dae in Nairobi, voordat die volgende toer na Uganda begin. Ek was lanklaas in Uganda en sien daarna uit. Die hoofdoel van die toer is om na gorillas te gaan kyk, al is dit ook net een uur uit die hele toer. Ons gorilla-permitte is vir Rwanda, so ons gaan een nag ook in Rwanda oorslaap. Terwyl almal groet, word ek hier en daar iets in die hand gestop, soms opgefrommelde note, soms netjies in ‘n koevert met ‘n mooi dankie-sê kaartjie daarby. ‘n “Tip” is altyd ‘n bonus, - na sommige toere kan mens nie jou geluk glo as jy later al die dollars, ponde en ander geldeenhede tel nie. Sommige toere weer kry mens net ‘n klein persentjie en kaartjie van almal af, veral wanneer dit jongmense is wat besig is om vir ‘n jaar lank rondom die wêreld te toer. Daar is verskillende teorieё oor waar die afkorting “tip” vandaan kom, die gewildste is dat dit staan vir “to improve performance”. Shivon groet my en druk iets in my hand. Ek loer vinnig en sien op die opgevoude dollernoot ‘n een en ‘n nul. Sy het ook nog ver om te toer, kan sekerlik nie ‘n groter tip bekostig nie. Ek druk die noot vinnig in my broek se sak en vra of sy saam kom eet by die restaurant Carnivor vanaand. Dis baie, baie duur daar, maar omdat reisgidse dit as een van die 50 bestes in die wêreld beskryf kan min besoekers weggaan uit Nairobi sonder om ‘n aand daar te eet. Omdat ek baie tips gekry het hierdie toer kan ek ook die 30 doller bekostig om soveel-vleis–te eet (van varkworsies tot krokodilstert) –as-wat jy kan. Shivon skud egter haar kop en sê dis te duur vir haar, veral as sy nog ‘n taxi ook moet kry van haar hotel af na die restaurant toe en terug. Later, in my kamer haal ek die bondels geld en koevertjies uit my broeksakke. Ek herken die noot wat Shivon my gegee het en vou dit oop. Langs die een en die nul verskyn nog ‘n nul. |