Ek was lanklaas so opgewonde! Die ander mense in die bus ook. En die heerlikste van alles, amper almal was Suid-Afrikaners.
Ons klompie is deur die besige hawegebou, paspoorte stempel bagasie deursoek, 'n watertjie en koeldrank koop en toe uit na die reuse ferryboot toe. Ons is almal gang af na ons kajuite toe wat maar jiggerig gelyk het tot ons agtergekom het die aircon werk!
Ek kon vir die eerste keer kennis maak met Dave se toergroep, almal uit Kaapstad. En Harry wat op sy eie met sy tweewieltrek Isuzu van Durban af ry. Dan nog die twee ander Durbaniete, Gordon en sy stiefseun Kyle. Dit was ook lekker om weer vir Steve en Wendy te sien en Rob en Georgie het ook weer bygekom.
En so kuier, kuier en heerlik koel vir die eerste keer in dae, is ons laatmiddag weg uit Wadi Halfa. Die boot self was gelaai. Op die boonste dek was dit moeilik om tussen die massa mense loopplek te kry.
Die hoogtepunt van die bootrit was ons vaart verby die Abu Simbel-tempel. Die Egiptenare moes destyds spring om die (masiewe) stukkie geskiedenis te red voor die dam se water dit sou oorstroom. Ons is laatnag daar verby, maar gelukkig was die 'light en sound show' aan die gang en kon ons die tempel mooi duidelik sien.
Ons het die volgende middag so teen 12 uur in Aswan aangekom. Onder op die kaai was 'n geskarrel. Ons is een vir een na die eetsaal om ons paspoorte deur die Egiptenare te laat stempel. Toe is ons teruggejaag na ons kajuite toe. En toe wag ons, en wag ons, en wag ons. Ons kon eers teen 4 uur die middag aan wal stap!
En toe kry ons bietjie slegte nuus. Dave en oom Louis is saam met die karre op die barge Aswan toe. Met die hoop om die vreeslike doeane en karregistrasie aan die Egipte-kant solank uit te sorteer. (Dave het ons 'n reuseguns gedoen om die taak op sy skouers te neem en ons ander se voertuie ook saam met sy toergroep s'n te laat 'verwerk'.) Om 'n lang storie kort te maak, daar het fout met die versekering gekom en ons sou nog drie dae moes wag voor ons die karre kon 'loskry'.
Moeg en warm is ons toe maar met 'n taxi in Aswan toe. Dave het ons weer gered. Hy het klaar vir ons almal kamers by die Sarah Hotel bespreek! Met aircon, 'n swembad, 'n asemrowende uitsig oor die Nyl en beste van alles, yskoue bier!
Toe wag ons maar weer.
Alles het toe eintlik baie mooi uitgewerk. Ons het die wagtyd gebruik om Aswan te verken. En wat 'n belewenis was dit nie.
Ons is vroeg die volgende oggend in dorp toe (foto). Om 'n autobank te soek en sigarette te koop. En deur die mark te loop. Ek het nog nooit so iets beleef nie. Stalletjies met die mooiste goete en winkelmanne wat jou met groot stories van 'best prices' en 'biggest bargains' probeer inlok. Dan skud ons maar kop en sê vriendelik in Afrikaans: skies, jong, ons verstaan jou nou glad nie! Dit het goed gewerk, tot die Arabier voor sy winkel so ewe vir ons sê: Maar ik verstaat je wel!
Jean het amper onder die 'papirusverkopers' deurgeloop. Die klompie sak op jou toe, druk hulle ware onder jou neus in, al stampende en stotende. Hulle het amper met sy selfoon weggekom... Arme Gordon was nie so gelukkig nie. Hulle het sy beursie met al sy geld en kredietkaarte uit sy broeksak gegaps.
Ons was weer in 'n toeriste-land. Daar was hordes van hulle. Moes aanvanklik keer om hulle nie storm te loop en te vra waarheen hulle oppad is nie!
Moeg en dors, sien ons dit toe: die goue 'M'. Nooit gedink ons sou so opgewonde raak oor 'n sekere hamburger nie!
Maar die opwinding vir die dag was nog lank nie verby nie. Ons besluit toe om met 'n perdekarretjie terug te ry hotel toe. Almal waarsku altyd oor die betaalslag in Egipte. Maak eers prys en maak seker dat dit Egiptiese pond is en nie skielik Britse pond nie. Ons volg toe maar die reëls en daar gaat ons in Cinderella Ferrari se karretjie. Maar ongelukkig werk Cinderella se remme nie so lekker nie en jaag ons op 'n stadium van agter af in 'n taxi vas. Arme JP het gehik soos hy val.
Ons het nog gebewe toe ons naby die hotel stilhou. Ek het vooraf die geld mooi uitgetel en die beursie weggebêre, nog bietjie lugtig na ons ervaring die oggend. Na ek die geld oorhandig het, draai die drywertjie so ewe om na die perdjie toe, gee haar 'n klappie op die boud en vra of ons nie gaan baksheesh vir haar nie. Jean haal toe maar so ietsie ekstra uit.
En dis toe net hier waar die swerkater 'n kans vat... Met die omdraaislag het hy so ewe een van die note omgeruil vir 'n baie kleiner een en begin hy met ons te stry. Jean het hom nie veel kans gegee nie. Weet nie of die ou Afrikaans verstaan of nie, maar hy is baie vinnig daar weg. (PS. Ek het amper vir die truuk geval!)
Ons het die res van die middag saam met ons medereisigers gesit en stories uitruil oor wie waar in Aswan amper ingeloop is!
Die volgende dag het ons vir 'n lang vaart op die Nyl gegaan. Verby die luukste boot-hotelle wat tussen Aswan en Luxor vaar, verby Kitchener's Island, die 'Nilometer', die Agha Khan se musoleum, een of ander fêncy musician se villa op die wal, deur die eerste stroomversnellings ná die Aswan Dam, verby 'n strand vol locals en kamele, 'n kleurvolle nubian village, tot op die drywende 'voorstoep' van die Aswan Moon restaurant. Daar het ons gesit en gekyk hoe gaan die son onder.
Oor die Nyl, in Egipte. Ek kon dit amper nie glo nie. |