Rohan
Strydom
Soos alles in my lewe, het die hele
reis- en skryfding vir my eers laat
gebeur. En ja; ek bedoel alles. Op
skool, soos nou, kon ek nie rugby
speel nie en het van rekenaars gehou,
so maak maar jou eie afleidings.
Weens my Pa se loopbaan in die ou
Trust Bank het ons amper oral in die
land gebly. My laaste skooljare was
in Oos-Londen, waarna ek 'n hele paar
baie suksesvolle jare in Stellenbosch
deurgebring het. Omrede my akademiese
jare by die universiteit egter nie
so suksesvol was nie, het ek pad gevat
Britse Eilande toe, en twee moeilike,
wonderlike jare in Skotland, Jersey
in die Kanaal Eilande en Wallis deurgebring.
Dit was in die tyd toe mens nie Mrs.
Balls Chutney in Tesco's kon koop
nie, so Brittanje was toe nog Brittanje.
Terug in Suid-Afrika het ek in IT
begin werk; die vangnet-industrie
vir menige tegniese mense wat nie
'n ander werk kon hou nie. Ek en my
lieflike vrou, Eldré, is so
bietjie meer as ses jaar gelede getroud
en woon in Durbanville. Tussendeur
het die groot eer ons te beurt geval
om vir amper drie wonderlike jare
die eienaars van Dorpstraat Teater
in Stellenbosch te kon wees. Dorpstraat
het die kreatiewe en avontuurlustige
vure in my wakker gemaak, en sal ek
vir ewig in die skuld wees by die
Afrikaanse rockmusikante hiervoor.
My passies, soos die meeste mans
wat gebore is voor die verskyning
van TV in Suid-Afrika, is musiek,
kitaar, flieks, kosmaak, 4x4, reis
en my vrou. Ek is ook woes betrokke
by People
Living With Cancer en het gehelp
om 'n wonderlike Afrikaanse
rock-CD uit te bring ten bate
van mense wat saam met kanker leef.
Ek sal vir ewig dankbaar wees vir
Eldré wat nooit met my tou
opgegee het nie, sodat ek wel eendag
die w ondere van reis sou begin geniet.
|