Nelis
Engelbrecht
Dagsê mense, laat ek sommer
myself voorstel, ek is Nelis Engelbrecht,
'n 26 jarige af-die-plaas-af-boerseun
op die plaas Sarrisam teen die weskus
van Namakwaland.
Wel, ek boer in die hartjie van Namakwaland
60 kilometer wes van Garies teen die
kus. Ja-nee, blommewêreld, so
ek gaan bietjie blog, 'n woord wat
nog 'n vloekwoord is by ons, want
van internet en rekenaars weet die
meeste mense in my kontrei nie veel
nie. Wel, ek probeer maar om nie te
agter te raak met die tegnologie nie
en is so bly die dae van "nommer
asseblief" is verby, want ek
kan onthou hoe ons Donderdagaande
van die koshuis huis toe bel, en nadat
jy 'n halfuur in die ry gestaan het
moet jy hoor dat ant Hannie nog steeds
op die foon is en dat jy maar met
swaar gemoed weer agter in die ry
moet gaan staan.
Wel, Namakwaland is so 'n mooi wêreld,
maar jy moet hier grootword om hier
te wil bly, want glo my, die wêreld
kan vaal raak, swart! Jy moet net
een keer in 'n droë jaar deur
Namakwaland ry om net die blomme te
waardeer in die lente. Hier kan dit
eensaam raak, want die meeste boere
se plase is baie kilometers uitmekaar
en so raak ons maar honger vir gesels;
dit verduidelik dan waarom die Namakwalanders
as die vriendelikste mense in die
land gesien word, ons verlang maar
net mense. As julle in dié
wêreld verdwaal moenie skaam
wees om padaanwysings te vra nie,
ons help tog te graag, jy sal tien
teen een 'n koppie tee verniet kry.
Wel, ek is ver van die beskawing
af, en my enigste wegkom kans van
die plaas af is my rugby, ek speel
tans vir Nuwerus-rugbyklub wat 'n
ongelooflikke ondervinding is. Ons
is klomp spelers van reg oor die kontrei,
Sprinbok, Loeriesfontein, Vredendal,
Vanrhynsdorp, Bitterfontein, Garies,
en selfs van die Kaap. Ja-nee, nou
wil julle seker weet hoe kry jy die
spul bymekaar vir 'n oefening. Wel,
dis die rede hoekom ons vir Nuwerus
speel, ons oefen nie, ons kan nie,
want die afstande is net te ver. So
Saterdag skud jy maar jou maat se
hand en draf op die veld op en speel
'n klipharde wedstryd. Ons was vir
paar jaar die kampioene van Noordweste-liga
so sonder oefen en al. Wat ons klub
so uniek maak is die gees - dis nou
ons daai, gou word die kitare uitgeruk
en gesing dat g'n mens ons kan stil
kry nie.
Fotografie is my nommer een-stokperdjie
en het al Namakwaland al deur getoer
om die beste foto's te neem. Ek ken
al die plekke waar die mooi blomme
staan en die wêreld het so baie
roetes en agterpadjies wat sulke mooi
blomme het, maar wat nooit gesien
word nie.
Tot later dan
Nelis
|